ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die brief van die Richter-familie van Seiffen, Duitsland, waarin hulle dankie sê vir die hulp kort ná die Tweede Wêreldoorlog.

‘n Brief uit die verlede wys deernis kom al geslagte lank

Date: 26 May 2020 By: Anton van Zyl

“Pa, neem ‘n foto van die brief en stuur dit asseblief vir my. En stuur sommer ‘n paar ou foto’s van pa saam.”

Die brief het verlede week skielik in my gedagtes opgeduik terwyl ons aan die reël was vir kospakkies wat versprei sou word aan hoofsaaklik Zimbabwiese burgers. Dit is ‘n brief waarmee ons as kinders grootgeword het, alhoewel ons nooit die moeite gedoen het om die volle storie na te vors nie. Destyds was dit ook nie moontlik nie. Daar was nie ‘n Google, Wikipedia of die talle genealogiese webtuistes nie.

Net na die Tweede Wêreldoorlog was daar ook ‘n periode waarin Suid-Afrikaners uitgereik het na mense in nood in ander wêrelddele. Europa was in armoede gedompel en die ekonomieë van die lande moes herbou word. Duitsland was veral erg geraak. Meer as sewe miljoen van die land se mense het gesterf tydens die oorlog en die skade wat aan dorpe en stede aangerig is, was enorm.

Die res van die wêreld het dit nie geïgnoreer nie en hulppakkette is aangebied. Fondsinsamelings is geloods en gewone mense het klere geskenk wat in pakkies opgemaak is en gestuur is aan families in Europa en Duitsland. Een van dié persone wat hul harte oopgemaak het was my pa, destyds ‘n agt-jaar-oue seuntjie. Hy het gehoor van die nood en sy ma omgepraat om sy skoene en ‘n baadjie aan die “arm mense” te stuur.

‘n Paar maande later het ‘n pakkie opgedaag geadresseer aan Christo van Zyl, Truter Straat, Robertson, K.P. Dit was afkomstig van Seiffen, Duitsland, en saam met die brief was ‘n mini-orkes, ‘n versameling musikante en hul instrumente wat uit hout gekerf en pragtig versier is.

Deur die jare het die musikante-poppies verlore geraak, maar die brief het saamgetrek. As kinders het ons die storie gehoor van die besonderse brief en as ons mooi vra kon ons kyk na die blou koevert en Duitse posseël. Die brief is steeds een van my pa se kosbaarste kleinode. ‘n Klompie jare gelede het my oudste suster dit laat raam en dit hang steeds in sy woonstelletjie in Vereeniging.

Baie dekades later onthou my pa nie meer wat gelei het tot die skenking nie. Hy is in 1940 gebore en was maar vyf jaar oud toe die oorlog geëindig het. Hy onthou dat daar op familielede se plase Italiaanse krygsgevangenes gewerk het. Die Italianers was baie joviaal en kon pragtige musiek maak. Hoekom hulle klere aan Duitsland geskenk het, kan hy nie onthou nie. Hy onthou egter dat sy ma ‘n briefie in die skoene gesit het, waarin hulle adres vermeld word. Dit verklaar hoekom hulle vroeg in 1949 ‘n pakkie uit Duitsland ontvang het.

‘n Ysterland deur oorlog verwoes

Die brief wat deur Armin Richter geskryf is, is gedateer 20 Februarie 1949. Die adres is Katharinaberger Weg 1, Seiffen, Erzgebirge, Duitsland. Dit is later jare deur ‘n Duitse kollega van my pa in Afrikaans vertaal.

In die brief word die Van Zyl-gesin bedank vir hul skenking wat via die “Christl Kirche van Seiffen” gekom het. “Ons Rolf is nou vyf jaar oud. Hy is natuurlik baie bly oor die skoene,” skryf hulle. Die skenking vanuit Afrika het die jong seun baie geprikkel en hy wou alles leer van “die wilde diere en alles wat daar groei”.

In die brief wy die Richter-gesin ook uit oor die omstandighede in Seiffen, veral ná die oorlog. Lekkergoed was skaars en die kinders het geen luukses geken nie. “Mens kan die kinders niks spesiaals gee nie, buiten aartappels en brood, margarine en kunsheuning,” lui die brief.

Dat die Duitse familie baie trots op hul omgewing is, blyk duidelik uit die brief. Hulle vertel oor die Erzgebirge wat 900 meter bo seevlak is, maar waar die somer “van korte duur is”. “Die ryp laat die bome net so omval en maak aan die ligdrade skade, sodat ons weke lank sonder lig is,” skryf hulle. Dit is moeilik om selfs iets soos koring te plant, want die koue sorg dat dit  “baie moeisaam” groei.

Ten spyte van die moeilike omstandighede maak die mense van Seiffen die mooiste speelgoed wat “oor die hele wêreld beroemd is”. Die brief sluit af met die hoop dat die seuntjie die “besonderse mooi aandenking uit ons vaderland, die klein kapel” sal waardeer. “Dit is klein musikante uit die Erzgebirge. Hoe lank sal hulle nog reis?”

Met vandag se hulpmiddelle is dit baie makliker om die geskiedenis te ontrafel, en die dieper stories te ontdek.

Leidrade uit ‘n adres

Die Richter-gesin het in Deutschneudorf in Seiffen, Duitsland gewoon, naby die “Erzgebirge” (Ertsberge), wat naby is aan die grens van wat vandag bekend staan as die Tjeggiese Republiek.

Die dorpie Seiffen het in die vroeë 1300’s ontstaan en bedrywighede het aanvanklik gesentreer rondom die myne. Met die verloop van ‘n paar eeue het die silwer-, tin- en nikkelneerslae in die myne min begin raak en die inwoners moes begin kyk na ander maniere om ‘n inkomste te verdien. Hulle het begin om speelgoed uit hout te maak en teen die middel 1700’s was Seiffen gereken as een van die vernaamste verskaffers van dié tipe speelgoed in Duitsland.

Seiffen se speelgoed was uiters gewild op markte soos Nuremberg vir hoofsaaklik twee redes. Die eerste was dat die lewenskoste in Seiffen nie baie hoog was nie, wat beteken het dat die pryse van hul produkte laer was as dié van hul mededingers. Die tweede rede was die kwaliteit van vakmanskap in Seiffen. Die inwoners het ingewikkelde patrone op draaibanke bemeester en die detail van die speelgoed was ongekend.

Die dorpie is vandag steeds bekend vir die kwaliteit van speelgoed wat daar vervaardig word. Seiffen is ook die tuiste van die Erzgebirge speelgoedmuseum, wat ‘n gewilde toeriste-aantreklikheid is.

Heel toevallig het die jong seuntjie van Robertson se skoene ‘n familie bereik in ‘n dorpie waar die pragtigste speelgoed gemaak word.

Maar hoekom Duitsland?

Die rede waarom die pakkie met klere na Duitsland gegaan het, was aanvanklik nie duidelik nie. Pa was nie seker nie, maar hy kon onthou dat daar nogal ‘n pro-Duitse sentiment in die Kaap was. Sover hy kon onthou, het hulle gereageer op ‘n versoek wat in die kerk gerig is. Dit kon dalk ook wees dat daar ‘n advertensie in Die Burger was.

‘n Bietjie navorsing oor die skenkings in die laat 1940’s ontsluit egter heelwat interessanthede. Na alle waarskynlikheid het hulle gereageer op versoeke van die Vroue-Noodlenigingskomitee (VNLK) wat tussen 1945 en 1957 hulp-aksies na Duitsland gedryf het. Die VNLK was ook nou verbind met die Dietse Kinderfonds (DKF), wat aanvanklik gepoog het om sowat 10 000 Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring.

Die vermelding van die Duitse weeskinders het dadelik nog ‘n herinnering by my pa ontlok. Hy onthou dat daar sulke kinders op Robertson aangekom het. Een van hulle, ‘n Gerald Radke, was saam met sy ouer broer op skool. Die seun is deur ‘n Uys-gesin aangeneem.

Die motivering agter die DKF se projek om Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring, mag dalk ‘n oorsprong in ‘n ideologiese denkwyse hê. Die joernalis en skrywer Ilze Salzwedel het in 2007 hieroor verslag gedoen in ‘n artikel wat in De Kat verskyn het, getiteld “Die ware verhaal van die Duitse weeskinders wat die Afrikaanse volk moes kom aanvul”. Sy skryf dat die kinders sonder hul medewete die taak gehad het “om die Afrikanervolk te kom versterk met ‘n stewige inspuiting Ariese bloed”.

Van die aanvanklike planne om duisende wesies hierheen te lok, het nie veel gekom nie, maar op 8 September 1948 het daar wel 83 Duitse weeskinders in Kaapstad aan wal gestap. Die kinders, met ouderdomme wat gewissel het tussen 2 en 14 jaar, is uitgeplaas by plaaslike gesinne. Daar was ook nie ‘n tekort aan aansoekers nie en teen Februarie 1948 het die DKF reeds 450 aansoeke ontvang van mense wat bereid was om ‘n kind in te neem.

Uit latere navorsing blyk dit dat die kinders in die oorgrote meerderheid van gevalle goed aangepas het en goed versorg is by hul nuwe Suid-Afrikaanse families. Die bekendste van dié wesies was waarskynlik Marietjie Malan (oorspronklik Hermine Sönnichsen) wat deur dr. D.F. Malan en sy tweede vrou aangeneem is. Dr. Malan het vanaf 1948 tot 1954 as Eerste Minister van Suid-Afrika gedien. Toe hy genl. Jan Smuts in die verkiesing op 26 Mei 1948 verslaan het, het hy reeds die rype ouderdom van 74 bereik. Die klein Duitse meisie kon klaarblyklik vinnig daarin slaag om dr. Malan om haar pinkie te draai.

Heelwat van die weeskinders het latere jare hul families in Duitsland gaan opsoek. Een van hulle, dr. Werner van der Merwe, het in 1988 ‘n boek gepubliseer, getiteld Vir ‘n ‘Blanke Volk’ waarin die verhaal van die Duitse wesies vertel word.

Bronne:

http://blogs.litnet.co.za/ilsesalzwedel/2009/11/22/die-ware-verhaal-van-die-duitse-weeskinders-wat-die-afrikaanse-volk-moes-kom-aanvul/

https://samilhistory.com/2017/07/01/the-nats-nazi-german-orphan-adoption-program-some-good-results-some-very-bad/

 

 
 
 

Viewed: 1094

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die koevert waarin die brief gestuur is aan die Van Zyl-familie in Robertson.

Dié foto dateer uit 1947 en wys hoe houtmannetjies, genaamd die  Räuchermänner (rokende mans) deur een van die werkers in Seiffen gemaak word. (Bron: Bundesarchiv, Bild 183-2005-0701-516 / CC-BY-SA 3.0 / CC BY-SA 3.0 DE (https://creativecommons.org/licenses/by-sa/3.0/de/deed.en))

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT