ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Skermgreep van PD Otto Elektries waarin hulle verlede week op Facebook mense gewaarsku het dat hulle e-pos adres gekaap is en dat hul bankbesonderhede nie verander het nie.  

Wakker optrede stuit kuberkrakers se planne

Date: 25 May 2020 By: Andries van Zyl

Was dit nie vir Rosetta Otto se wakker optrede nie, kon die welbekende PD Otto Elektries in Louis Trichardt verlede week moontlik derduisende rande aan inkomste verloor het nadat kuberkrakers hulle e-pos adres gekaap het.

Dogter Riana Otto het Maandag vertel dat sy en haar ma, Rosetta, verlede Donderdag alleen in die kantoor gesit het. In ‘n stadium het Rosetta opgemerk dat iemand besig was om onder die Draft lêer in hulle Microsoft Outlook program besig was om ‘n e-pos te skryf. “Ons almal gebruik dieselfde e-pos vir die besigheid. My ma het gevra of ek besig was om ‘n e-pos te tik, waarop ek nee geantwoord het. Sy was ook besig met iets anders en sy het dadelik agtergekom iets is verkeerd,” het Riana gesê.

Volgens Riana het die e-pos skielik uit die Draft lêer verdwyn. Die e-pos het blitsig in die lys van gestuurde items verskyn maar net so vinnig weer verdwyn. “Ons het dadelik die Deleted Items lêer oopgemaak en uitgespeel, voordat die gestuurde e-pos ook daaruit verdwyn het,” het Riana gesê.

By nadere ondersoek het Rosetta-hulle gevind dat die e-pos ‘n kennisgewing van verandering van bankbesonderhede was wat aan een van hulle grootste kliënte gestuur is. Die e-pos het gelees: “Good day, Please find attached invoice with our FNB BANKING DETAILS as our Absa bank is currently under audit and account balancing at this time. Looking forward to your early reply.”

Riana sê hulle het dadelik die kliënte geskakel en gesê dat hulle onder geen omstandighede enige geld moet oorbetaal na die FNB-rekening nie, omdat hulle nie hul bankbesonderhede verander het nie. “Ons het verlede week begin om al ons kliënte telefonies te skakel en in te lig van die slenter. Ons gaan vandag met die oproepe voort,” het Riana gesê.

Hulle het dadelik die saak by die plaaslike polisie gaan aangee. “Ons is nie bewus van enige iemand wat geld in die FNB-rekening oorbetaal het nie. Ons weet ook net van een ander kliënte wat so ‘n e-pos ontvang het. Dit wil lyk of ons darem vinnig genoeg die skurke kon uitvang,” het Riana gesê.

Riana het plaaslike sakelui gewaarsku om bedag te wees op dié slenter. “Ons het intussen ons e-pos se wagwoord gaan verander,” het Riana gesê. Sy het gesê dit sal ook wys wees dat ander besigheidseienaars gereeld die wagwoorde op hul e-posse verander. “Besighede kan ook eerder elk van hulle kliënte persoonlik skakel en in kennis stel van enige verandering van bankbesonderhede, eerder as om vir hulle ‘n e-pos hieroor te stuur,” het Riana gesê. Sy het mense aangeraai om besighede te skakel en seker te maak indien hulle sulke kennisgewings van veranderings in bankbesonderhede ontvang.  

 

 
 
 

Viewed: 1227

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT