ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Frikkie Knoetze (87). Foto verskaf.

Marlene’s Kwekery se oom Frikkie oorlede

Date: 22 May 2020 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het die afgelope naweek met groot hartseer verneem van die dood van die baie bekende oom Frikkie Knoetze (87) van Louis Trichardt. Hy is Saterdag, 16 Mei, na ‘n kort maar moeilike siekbed aan hartversaking oorlede.

Oom Frikkie was ‘n boorling van die Soutpansberg. Hy is op 2 Februarie 1933 te Donkerhoek, Louis Trichardt, gebore en het sy laerskoolloopbaan by Laerskool Louis Trichardt en sy hoërskoolloopbaan te Happy Rest (vandag Schoemansdal) voltooi.

Ná skool het die jong Frikkie by sy oupa en ouma gaan bly en begin boer op Bandelierkop op die plase Alicedale en Rusgenoeg. Oom Frikkie het egter reeds op skool die liefde van sy lewe, tannie Lettie, ontmoet en in 1953 het die twee besluit om die knoop deur te hak. Hulle is vanuit die NG Kerk Moedergemeente getroud en vier kinders, Alice, Herbert, Riana en Francois, is uit die huwelik gebore.

In 1979 het oom Frikkie die plaaslewe vir die dorpslewe verruil. Hy het sy plase verkoop en Marlene’s Kwekery begin. Hy was ook werksaam by Vleissentraal tot en met sy aftrede.

Oom Frikkie en tannie Lettie het vir 35 jaar die kwekery bedryf. In Februarie 2015 het die noodlot hulle egter getref toe hulle deur ‘n groep gewapende mans by die kwekery oorval en beroof is. Net daar is besluit om die kwekery te sluit en oom Frikkie en tannie Lettie het verhuis na Loerie Park.

“Hy was ‘n baie goeie mens met ‘n klein hartjie, maar kon tog met tye so moeilik wees. Hy was baie hardwerkend en ambisieus, met altyd ‘n nuwe plan,” het tannie Lettie gesê. Sy het bygevoeg dat daar in hulle huwelik baie vreugde was, maar ook baie struikelblokke wat hulle op hulle knieë deurgewerk het. Op die ou einde was hulle bevoorreg om vir 67 jaar die lewe met mekaar te kon deel. “Ek gaan my maat baie mis,” het tannie Lettie gesê.

“Pa was baie lief vir sy gesin en wou altyd almal net by hom gehad het. Ons was dus ‘n baie geslote gesin. Hy het ons geleer wat reg en verkeerd was en dat mens klein moet wees om groot te kan wees. As jy iets doen, doen dit reg of los dit,” onthou sy kinders hom. So ook dat hul pa se groot liefde boeremusiek was en hy was ook ‘n bobaas trekklavier- en orrelspeler, en oor sy liefde vir soetkoekies, melkskommel en roomys praat hulle nie eers nie. “Ons sal hom onthou as ‘n mens wat sy Bybel geken het en wat baie naby aan die Here geleef het,” het sy kinders gesê.

Oom Frikkie se plek is leeg en hy laat ‘n groot leemte in sy vrou Lettie, vier kinders (en hul gades), nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders se lewens. Sy begrafnisdiens vind Vrydag, 22 Mei, om 11:00 vanuit die AP Kerk in Louis Trichardt plaas. Ongelukkig sal net die familie toegelaat word.

“Ons wil graag vir Alice bedank wat pa met soveel liefde versorg het tot die einde toe,” het die familie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1426

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT