ADVERTISEMENT:

 

 
 

Groot onsekerheid heers tans by jagters of mens mag gaan jag. Die jagseisoen het op 1 Mei oopgemaak en alhoewel die regering gesê het mense mag jag, het hulle nog nie die fynere voorskrifte gepubliseer van wat hulle mag en nie mag doen nie. Vir eers lyk dit asof die biltongkaste gaan leeg bly. Generiese foto.

Mag jy gaan jag?

Date: 15 May 2020 By: Andries van Zyl

Vir jagters was die aankondiging in die Staatskoerant (No. 43258) van 29 April vanjaar dat jag toegelaat gaan word goeie nuus. Met die jagseisoen wat op 1 Mei “oopgemaak” het, was almal angstig om hieroor uitsluitsel te kry.

Meer as ‘n week later heers groot onsekerheid steeds of mens nou mag gaan jag of nie, aangesien die regering nog geensins enige aankondiging gedoen het oor die voorskrifte ten opsigte van jag nie. Dit lei tot groot frustrasie onder jagters. Dié frustrasie was duidelik te bespeur in Adri Kitshoff-Botha, hoof uitvoerende beampte van WRSA (Wildlife Ranching South Africa) se stemboodskap aan lede op die organisasie se webblad op 11 Mei. “Toe ek ‘n week gelede met julle gesels het, het ek regtig gehoop dat die onderskeie ministers nou al voorskrifte sou gepubliseer het oor hoe die dienste en aktiwiteite soos vervat in die regulasies geïmplementeer word. Ons weet die regulasies self verskaf nie die detail nie … soos ek voorheen gesê het, alhoewel jag in die regulasies gespesifiseer word, bly die vraag steeds wat dit beteken,” het Kitshoff-Botha gesê.

“Ons sit nog met ‘n baie grys area in hierdie stadium,” het plaaslike grootwildjagter Bossie Mostert van Limpopo Big Game Safaris gesê. Die grendeltydperk kon vir hom nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. “Dit sou vir ons vanjaar ‘n rekordjaar gewees het met al die besprekings. Die verwagting was so goed dat ons besluit het om in ons eie lodge te belê,” het Mostert gesê. Weens die wêreldwye verbod op reis en die grendeltydperk het Mostert-hulle se inkomste opgedroog weens kansellasies. Hy is hoofsaaklik afhanklik van internasionale jagters.

Mostert was een van vele mense met wie die Zoutpansberger gepraat het oor of jag nou toegelaat word of nie. Ten spyte van ‘n totale gebrek aan duidelikheid hieroor vanaf regeringskant, was daar wel hier en daar webtuistes wat probeer het om rigting te gee ten opsigte van “voorskrifte”. Wat egter belangrik is om te onthou is dat hierdie “voorskrifte” nog nie deur die regering goedgekeur is nie en slegs deel vorm van ‘n “konsepplan” vir voorskrifte. Hierdie konsepvoorskrifte stel onder andere voor dat slegs eendag-jagtogte toelaatbaar is, wat beteken dat die jagter nie mag oorslaap nie en dat hy/sy voor 20:00 (ingevolge die aandklokreël wat vanaf 20:00 tot 05:00 van toepassing is) weer by sy/haar huis moet wees. Jagtogte mag ook slegs in die provinsie plaasvind waar die jagter woon, omdat reis tussen provinsies steeds deur ander grendeltydregulasies verbied word. Wanneer daar gereis en gejag word, moet daar ook aan ander voorskrifte voldoen word, soos die dra van ‘n gesigsmasker en die handhaaf van ‘n voorgeskrewe afstand tussen persone.

Bietjie meer duidelikheid bestaan egter of ‘n boer op sy of haar eie plaas mag jag. “As dit jou eie plaas is, mag jy doen wat jy wil,” het Mostert gesê. Dit geld nou vir boere wat oor ‘n P3-vrystellingsertifikaat vanaf Omgewingsake beskik om gelyste wild op die plaas te skiet. Persone sal ook toegelaat word om probleemdiere te skiet. Die uitskiet van wild ten opsigte van wildbeheer word ook toegelaat.

“Ek weet baie van julle raak moedeloos en julle mag selfs voel dat lidorganisasies soos WRSA meer moet doen. Die realiteit is, ons probeer ons beste. Ons kan nie meer doen nie,” het Kitshoff-Botha gesê. Sy het egter haar lede die versekering gegee dat rolspelers in die industrie deurlopend met die regering oor die voorskrifte in gesprek is. Sy het ook die hoop uitgespreek dat die voorskrifte ten opsigte van jag teen volgende week gepubliseer sal wees.

Mostert het ook die hoop uitgespreek dat duidelikheid oor wat presies toegelaat word en wat nie, spoedig verkry sal word. Weens die onduidelikheid tans het hy jagters aangeraai om eerder geduldig te wees as om kanse te waag. “Ek gaan nie nou net sommer in my bakkie klim en ‘n paar duisend rand se wild gaan skiet nie en hoop ek gaan veilig wees nie. Die risiko is net te groot. Wag tot die voorskrifte gepubliseer word waarvan almal weet,” het Mostert gesê. “Jy gaan by ‘n padblokkade kom waar die ouens gaan sê jy het gaan jag en dit is reg. Maar jy gaan ook by ‘n padblokkade kom waar iemand nou weer gaan rang trek. Dit is nou orals so en ons sien dit elke dag op alle vlakke, nie net in die jagbedryf nie,” het Mostert bygevoeg.

Wat die groter prentjie betref en die absolute negatiewe impak wat die grendeltydperk op die jagindustrie het, het Mostert gesê hy verstaan nie die rede vir die streng grendeltydregulasies nie. “Die mense raak ongeduldig. Jy sien dit in alle sektore. Dit is maklik vir die polisieman om te sê jy mag nie dit nie en jy mag nie dat nie. Hy staan daar langs die pad, trek mense af en kry elke maand sy salaris ... Jag is my enigste inkomste en as ek nie kan jag nie, kry ek geen inkomste nie,” het Mostert gesê.

Mostert het gesê dat hy, soos baie ander in dieselfde bedryf, definitief die knyp voel. “Tussen laasweek en vandag het ek 18 kwotasies uitgestuur. Gewoonlik as ek 18 kwotasies uitstuur, sou ek ten minste twee besprekings gekry het. Daar sou ‘n deposito betaal gewees het en geld sou in my rekening ingekom het. Jou kontantvloei het aan die gang gebly. Vandat die grendeltyd begin het, het ek geen inkomste nie. In hierdie stadium probeer ons net die lodge so ver kry dat ek en my familie daar kan gaan bly en ons huis in die dorp opsê om te spaar op die huur ... as ek gedurende April kon jag, sou ek my lodge vandag klaar gehad het,” het Mostert gesê.

Oor die pad vorentoe het Mostert gesê dat hy vir die ergste beplan het en vir homself gesê het hulle gaan glad nie jag hierdie jaar nie, met die hoop dat hulle na die einde van die jaar toe weer sal kan jag. Volgens hom kan die regering nie mense soos ‘n skaap of vark in ‘n hok hou nie. “Om die ekonomie toe te maak en te verwag mense moet by die huis bly, is onrealisties. My gevoel is, maak die ekonomie oop. Doen wat jy moet doen om jouself veilig te hou. Daar is basies drie goed wat jy moet doen - was jou hande, hou jou gesig toe en hou jou afstand tussen mense. Dit is so maklik soos dit. Ek kan regtig nie sien waarom is al hierdie regulasies nodig nie,” het Mostert gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1321

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT