ADVERTISEMENT:

 

 
 

Internasionale Familiedag word Vrydag, 15 Mei, gevier. Die Louis Trichardt SAVF het egter ook persone wat voel hulle of 'n geliefde is in gevaar weens omstandighede in die land as gevolg van die gedwonge grendeltyd tans, om so spoedig moontlik hulp te kry. Foto: Generies.

Gebruik Familiedag om bande te versterk of om hulp te kry

Date: 14 May 2020 By: 

Te midde van die grendeltydperk word Internasionale Familiedag vanjaar weer op 15 Mei gevier. Die dag is die eerste keer in 1994 gevier met die doel om bewusmaking te skep van die voordele van ‘n familiesisteem.

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Louis Trichardt het in ‘n verklaring gesê familie behels lankal nie meer net die tradisionele pa, ma en kinders nie, maar het uitgebrei om talle verskillende gesinsopsette wat ‘n huishouding uitmaak, in te sluit. Hulle het gesê families is die mees basiese eenheid van ‘n samelewing, en die fondasie van gemeenskappe.

“Met die inperking wat ons land tans beleef, spandeer families meer tyd saam as vantevore, en is dit die ideale tyd om familieverhoudinge te versterk. Dit is nodig om te fokus op die welstand van alle individue in die familiesisteem. Familie is deel van ons vreugde en soms ook ons stres. Familie help ons om vrese te oorkom en moeilike tye te hanteer,” het Friede Meissenheimer, senior maatskaplike werker van die plaaslike SAVF, gesê.

Om bande te help versterk, het Meissenheimer enkele aktiwiteite voorgestel wat ‘n familie saam kan doen. “Alhoewel dit nie tans moontlik is om weg te gaan nie, beteken dit nie mens kan nie kamp nie! Slaan kamp op saam met die kinders in die tuin. As dit te koud is, bou ‘n kombersfort in die sitkamer en kamp daar uit! Speel bordspeletjies, kook of bak saam of gaan stap of ry saam fiets,” het Friede gesê en bygevoeg dat ontspanne, positiewe aktiwiteite belangrik is om familiebande te versterk. “Wanneer ‘n familie in harmonie is, funksioneer die individu ook beter.”

Ongelukkig, volgens Friede, is die realiteit ook dat nie alle families gesond is nie, en probleme kan deur die huidige situasie in die land vererger word. “Stres oor persone wat nie mag werk nie en die finansiële gevolge, tuisskool en persone wat moontlik ‘n matige afhanklikheidsprobleem het en nie toegang het tot middels soos sigarette en alkohol nie, is alles stressors wat kan lei tot verhoogde vlakke van konflik en selfs geweld in die huishouding,” het sy gesê.

Wat laasgenoemde betref het Friede ook leiding gegee om konflik te oorkom. “Probeer om jouself in die ander persoon se skoene te plaas en sy/haar kant van die saak in te sien. Wanneer jy oorweldig voel deur spanning, vra vir jouself wat is die kleinste moontlike stap wat jy kan neem om beter te voel. Probeer om te fokus op die dinge wat binne jou beheer is, eerder as die dinge wat buite jou beheer is,” het Friede gesê.

Die SAVF het inwoners uitgenooi om een van die volgende nommers te skakel vir hulp indien hulle ervaar dat hulle of een van hulle geliefdes in gevaar is: SAVF Louis Trichardt (015 516 3841 of 071 628 7949), SAPD Louis Trichardt (015 519 4300), die Gesinsgeweld noodlyn (0861 322 322) of Alkoholiste Anoniem (0861 435 722).

 

 
 
 

Viewed: 997

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT