ADVERTISEMENT:

 

 
 

Elizma Pohl het besluit om “ouma” se kookboek nader te trek en soetbeskuit te bak. Foto verskaf.

Grendeltyd bring mense se kreatiwiteit uit

Date: 11 May 2020 By: Andries van Zyl

Nog ‘n voordeel van die grendeltydperk is dat dit mense weer geleer het om meer kreatief te dink, veral as dit kom daarby om hulself besig te hou.

Die Zoutpansberger het onlangs vir inwoners van Louis Trichardt gevra om te laat weet wat hulle doen om hulself tydens die grendeltyd mee besig te hou ten opsigte van stokperdjies.

Vir Elizma Pohl is dit baie erg om so stil te sit by die huis. “Ek is gewoond aan rondhardloop met ten minste 20 tot 30 kleuterskoolkinders gedurende klastyd,” het sy gesê.

Om die stilte by die huis te verbreek, het Elizma besluit om ouma se kookboek uit te haal en soetbeskuit te bak. Sy het gesê sy verstaan nou waarom die boeretannies sulke raakvat tannies was. “Dit is letterlik ‘n hele dag se werk. Vroegoggend is dit suurdeeg aanmaak, toevou in ‘n kombers en ‘julle karring nie daar nie’ hoor ek my ouma sommer sê. Dan kom die afknie, weer toevou in die kombers, met liefde bolle rol en weer toemaak in die kombers, en uiteindelik kan jy dit bak. Daarna haal mens die regte, egte botter uit en niks kom by ‘n warm stukkie soetbeskuit en botter nie,” het Elizma gesê.

Maar mens kan nie net die heel tyd beskuit bak nie en, soos die dae langer begin raak het, het Elizma begin rondkyk om te sien wat mens alles kan maak met wat jy het. Sy het toe besluit om sommer die voorstoeptrappie te mosaïek  met ou teëls en klippies. “Die laaste deel moet nog geseël word, maar nou sal ek moet wag tot CTM weer oopmaak,” het Elizma verlede week gesê. Intussen moet ook die kinders besig gehou word, so hulle het begin om haarsalonpoppe met oorskietwol en weggooikarton te maak.

Elizma sê hulle het ‘n Facebook-groep begin waar lede hulle “skeppinge” kan oplaai om vir die ander lede van die groep te wys. Die groep se administrateur is Karen Bezuidenhout.

“Mens is so vasgevang in gewoontes dat dit moeilik raak wanneer jy, soos nou, ingeperk word en verveling sy weg vind na jou toe. Ek bedoel, ‘n mens kan ook net soveel keer jou kaste regpak, afstof en huis skoonmaak,” het Karen gesê.

Gelukkig, het Karen gesê, word kreatiwiteit gebore as ‘n mens verveeld raak, want verveling is “net ‘n ander manier van dink”. “Dit kan jou teen die mure uitdryf of dit help jou met kreatiewe idees. Dit hang alles net af van hoe jy jou verveeldheid ervaar. Ek het ‘n groot nuwe stokperdjie begin - harde werk en vuilword werk,” het Karen gesê.

Karen, wat op ‘n plaas buite die dorp bly, het begin om houtstaanders te maak. Eers is dit stompe in die veld gaan soek en dit dan met moeite aanry huis toe. “Dan is dit saag, skuur, weer skuur, weer skuur - ‘n stowwerige affêre. Dan kom die waks aanvryf en die wonder wat om verder te doen. Dis goedjies opsit en weer afhaal. Ou goed verf en vasplak. Brand met die gomgeweer. Wag tot die verf droog word. En dan, die eindproduk,” het Karen gesê.

Karen se Facebook-blad (ONLINE ARTS & CRAFTS) getuig van inwoners se kreatiwiteit. Daar is voorbeelde van kunswerke, mooi hout voëlvoerders en vele meer. “Soveel mense het so baie talent. Hulle maak pragtige goed waarvan ons nie andersins sou weet nie. Ons hoop om hiermee dalk ‘n kunsmark na die grendeltyd te hou, aangesien nie een van ons kan aansoek doen om besigheid te doen nie. Daar is tans ook nie enige markte waar ons ons produkte kan uitstal of verkoop nie,” het Karen gesê.

 

 
 
 

Viewed: 998

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT