ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 82-jarige tannie Joekie Nortjé is weer op-en-top waar sy tans aansterk by haar seun, Dippie, na ‘n tweede wrede aanval op haar en haar 62-jarige seun, Johan, in minder as ‘n jaar op hul kleinhoewe. Foto verskaf.

Tannie Joekie weer op-en-top

Date: 10 May 2020 By: Andries van Zyl

“Ek sê vir die mense, as jy die ou tannie sien sal jy nie glo dit is dieselfde mens wat twee weke gelede so sleg gelyk het ná die aanval nie. Sy is weer op-en-top.”

So sê Dippie Nortjé, wie se 82-jarige ma, tannie Joekie Nortjé, en 62-jarige broer, Johan, op 20 April wreed deur ‘n groep mans op hul Nooitgedacht-kleinhoewe buite Louis Trichardt aangeval is. Dit was die tweede wrede aanval op die twee in minder as ‘n jaar. Hulle het ‘n soortgelyke wrede aanval op 27 Mei verlede jaar oorleef.

Tydens die laaste aanval het tannie Joekie ernstige steekwonde, ‘n gebreekte hand en ‘n vergruisde knieskyf opgedoen. Soos bykans ‘n jaar gelede het Johan ernstige kopwonde opgedoen, asook ‘n armfraktuur.  

“Dit gaan ook goed met my broer,” het Dippie gesê. Sy broer sterk tans by sy seun, Johann, in Pretoria aan. Die operasie om die armfraktuur te herstel in die Groenkloof Hospitaal was ook suksesvol en Johan is nog dieselfde dag ontslaan. “Hy is maar nog so ‘n bietjie seer en hy sukkel nog om te kommunikeer, want kort voor die aanval het hy ‘n beroerte gehad … hy en my ma het darem al met mekaar gepraat om te hoor hoe dit gaan,” het Dippie gesê.

As familie, sê Dippie, praat hulle nie regtig oor die aanval nie. “Hy [Johan] praat nie daaroor nie. Ons sal maar wag tot ons eendag weer bymekaar kom om daaroor te praat,” het hy gesê.

Dippie sê hy het darem al met sy ma, wat tans by hulle bly om aan te sterk, oor die aanval gepraat. “Soos ek al voorheen gesê het, sy is altyd ‘n positiewe mens en sy sien altyd die positiewe raak. Sy is beslis ‘n baie beter mens as ek, want sy het geen wrok nie. Dit sit nie in enige mens se klere nie,” het Dippie gesê.

Hierdie positiewe gesindheid van sy ma het ‘n goeie uitwerking op die hele familie. “Ek moet sê, met haar positiewe uitkyk maak sy dit vir ons almal makliker. Ek meen, as sy nou ‘n klaerige mens was, het ons ook al by hierdie tyd oor alles gekla,” het Dippie gesê.

Te midde van die positiwiteit is die vraag steeds of tannie Joekie weer oorweeg om na haar huis op die kleinhoewe terug te keer. “In hierdie stadium sal sy nie teruggaan nie en as dit van ons afhang, sal sy nooit teruggaan nie. Vir haar eie gemoed sal dit ook beter wees as sy nie teruggaan nie,” het Dippie gesê. Die idee is steeds om die kleinhoewe te verkoop en ‘n veiliger blyplek te kry vir tannie Joekie en Johan.

Vir die familie was dit ‘n geweldige traumatiese ervaring dat tannie Joekie en Johan twee keer in minder as ‘n jaar so wreed aangeval is. “Dit was ‘n baie slegte tyd gewees. In hierdie stadium is dit egter baie makliker vir ons om te berus by wat gebeur het, juis omdat my ma-hulle so ‘n positiewe uitkyk het op die lewe,” het Dippie gesê. Die enigste ding waarby die familie hulle nie kan berus nie, is die feit dat nog niemand in verband met die aanval vasgetrek is nie. Die familie weet ook nie eers wat gebeur met die polisie-ondersoek ná die vorige aanval op tannie Joekie-hulle nie.

Volgens Johan het hulle kort ná verlede jaar se aanval gehoor ‘n man is in verband met die aanval gearresteer. Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het by navraag gesê sy het ook gehoor die verdagte is nog in aanhouding. “Ek was ook ‘n polisieman en dit frustreer my so dat hulle elke keer vir my sê die man is nog in aanhouding. Dit kan mos nie wees nie! So ses maande gelede was die een of ander ondersoekbeampte hier by my ma gewees en [het] ‘n naam verskaf van iemand wie se vingerafdrukke hulle hier gekry het. Dit was die laaste en daar het die ding doodgeloop … Van verlede jaar tot nou is nie een van ons gevra om by die hof te wees nie,” het Dippie gesê. Radzilane het bygevoeg dat sy sal probeer uitvind of daar wel nog steeds ‘n verdagte in aanhouding is in verband met verlede jaar se aanval, wat sy naam is en op watter klag en wanneer hy in die hof verskyn het. Teen druktyd is nog geen terugvoer van haar af ontvang nie.

Intussen het die Makhado polisie ‘n beroep gedoen op enige iemand met moontlike inligting oor die aanval om met die ondersoekbeampte in die 20 April-saak, speursersant Tshishiwa Netsia, by tel. 076 202 8972 in verbinding te tree.

Tannie Joekie het op haar beurt die afgelope week almal bedank vir hulle gebede, belangstelling en hulp ná afloop van die mees onlangse aanval op haar en Johan.

 

 
 
 

Viewed: 979

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT