ADVERTISEMENT:

 

 
 

Willem, Mariesa en Suzaan Schutte wil hul ma Sondag bederf met 'n lekker "gesinspiekniek" by 'n plaasdam. Foto verskaf.

Hoe om ma op Moedersdag “tuis” te bederf

Date: 09 May 2020 By: Pétria de Vaal

Om Moedersdag eerskomende Sondag op ‘n ingeperkte manier te vier, is voorwaar ‘n eerste vir almal en vir sommige ‘n uitdaging.

Aangesien niemand mag gaan uiteet of êrens heen gaan nie, gaan pappa die voorskoot aantrek vir die dag of gaan die kinders braai? Dalk 'n romantiese piekniek op die grasperk in die agterplaas of 'n gesellige 06:00 tot 09:00 staptog saam met ma, net om bietjie uit die huis te kom?

Hoe nou gemaak? Die Zoutpansberger gee ‘n klompie wenke en het ook by ‘n paar Louis Trichardt kinders gaan kers opsteek wat hulle vir hulle ma’s beplan.

Mariesa, Suzaan en Willem Schutte se ma Sonja sê altyd dat elke dag 'n Moedersdag-viering vir haar is! Die rede: “Omdat haar drie kinders en pa Marius in haar lewe is, is meer as waarvoor sy ooit kon vra!”

Hulle wil Saterdagaand ekstra pannekoekies bak (‘n kuns wat hulle die afgelope tyd bemeester het!) wat hulle Sondagoggend met 'n eenvoudige, geurige, tuisgemaakte hoendervulsel gaan vul, asook met kaneelsuiker. Vrugte- en groentestukkies soos sitrus, spanspek, kiwi-vrugte, aarbeie, wortels, tamaties en groenrissie sal saam met die pannekoek, vars koffie in 'n fles, asook ystee, mooi verpak word met eetgerei en glase. Die kersie op die koek is ‘n heerlike "gesinspiekniek" teen 11:00 by een van die plaasdamme - iets wat hulle lanklaas almal saam op hul plaas gedoen het!

Hulle glo dat hierdie piekniek in die Meimaand-sonnetjie, saam met 'n hartsbriefie van hulle elkeen en 'n paar tuinblomme, dié “Inperkingsmoedersdag” vir hulle ma besonders sal maak! Die piekniek maak op vir die “normale” gesinsuitstappies op Sondae saam met ouma Tillie.

Johan en Matty Lordan wil graag vir ma Louise bederf met ‘n tuisgemaakte ontbyt bestaande uit vars waatlemoenstukke, tuisgemaakte plaatkoekies en koffie. Hulle wil dit versier met ‘n blom en ‘n kaartjie wat haar waarde besing. Hulle beplan ook om ‘n paar geskenke te gee, maar die grootste geskenk van almal is ‘n breë glimlag!

Die Robbertze-kinders, Erwee, Luné en Bernice, is baie innoverend en bedink allerlei planne vir ma Carike. Terwyl sy laatslaap, maak die res van die gesin ‘n lekker ontbyt en koffie. Hulle is bevoorreg om op ‘n plaas te bly en gaan later die middag ‘n piekniekmandjie pak vir ‘n Bosveldpiekniek onder ‘n koelteboom. ‘n Gekookte aandete is deel van die plan sodat sy kan rus. Luné en sussie Bernice sal ook sorg vir ‘n lekker poeding na ete. ‘n Groot bed gaan dan voor die televisie gemaak word en hul ma kan een van haar soetsappige, romantiese films kies om te kyk!

Of jou vrou/ma tuis is of iewers ver en in afsondering, maak nie saak nie – sy verdien spesiale behandeling. Wat van die volgende?

* As sy ver is, reël ‘n video-oproep of Skype-sessie. Almal raak al hoe meer bedrewe in die gebruik van hierdie hulpmiddels!

* As ‘n klompie mense saam in die kuberruimte gesels, kan iemand (byvoorbeeld pa), ‘n paar vrae oor ma opstel en dit deurentyd aan die ander deelnemers WhatsApp. Stig vooraf ‘n groepie. Toets julle kennis oor hoe goed julle haar gewoontes, belangstellings en voorkeure ken!

* Besoek saam ‘n virtuele vertoning, of toer deur ‘n museum of kunsgalery – iets opwindends wat die hele gesin kan saamdoen.

* Luister saam na haar gunsteling musiek.

* Lees ‘n gedig voor.

* Niks vervang die sjarme van ‘n handgeskrewe kaartjie of briefie nie. Kleiner kinders kan vooraf iets spesiaals maak. Anna Jarvis, die dame wat die “moderne Moedersdag” in die VSA in 1908 ingestel het, het juis gesê dat waardering vir jou ma in ‘n handgeskrewe briefie baie meer beteken as geskenke en gekoopte kaartjies. Sy beskryf ‘n ma as “dié persoon wat meer vir jou in jou lewe gedoen het as enigiemand anders in die wêreld”.

* Noudat nael- en pamperlangprodukte op winkelrakke beskikbaar is, kan dogters in die huis haar gerus trakteer met ‘n massering of pedikuur – die salonne is mos nog toe!

* Gee haar ‘n blaaskans! Baie ma’s werk nou harder as ooit gedurende die inperkingstyd – dikwels sonder huishulpe en met meer mense vir langer tye in die huis. Bied aan om meer take tussen gesinslede te verdeel, sodat sy kan rus.

* Ondersteun ons plaaslike inwoners en liefdadigheidsorganisasies wat geskenkies verkoop en gee vir haar iets spesiaal, of maak self ‘n geskenkie. Teken ‘n prentjie, bak koekies en verpak dit mooi.

* Organiseer ‘n “High Tea” wat hoogmode wêreldwyd is, veral in Engeland waar dit ontstaan het. Die koningin is baie gesteld daarop en eet daagliks spesiale botterbroodjies wat deur haar kok gebak word. Gaan Google gerus die resep!

* Ondersteun ons plaaslike restourante wat nou wegneemetes verkoop en bestel haar gunsteling gereg.

* Skryf vir haar ‘n gedig of sit langs haar en kyk deur foto-albums. Onthou, daar was ‘n tyd in haar lewe wat jy haar nie geken het nie – laat sy vir jou al die stories vertel. ‘n Besonderse ervaring – nie net vir haar nie, maar ook vir ander lede van die gesin.

* Prys haar oor die kennis wat sy het. Vra haar om byvoorbeeld haar gunsteling resepte in ‘n “Grendel-resepteboekie” saam te stel. Dit kan ‘n familie-erfstuk word. Nog beter, maak ‘n boekie, versier dit en gee dit vir haar as geskenk – sy kan dan na hartelus resepte inskryf.

* Pa’s, vandag is die dag dat daardie bottel wyn wat vir ‘n spesiale geleentheid nou al lank in die kas staan, oopgemaak moet word!

 

 
 
 

Viewed: 993

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT