ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Thinus Roux (76). Foto verskaf.

Bekende sakeman Thinus Roux oorlede

Date: 08 May 2020 By: 

Inwoners van die Soutpansberg het die afgelope naweek met hartseer verneem van die dood van bekende Louis Trichardt sakeman mnr. Thinus Roux (76).

Thinus kan met reg beskou word as ‘n boorling van die Bosveld. Hy is op 21 November 1943 in Alldays gebore. Hy was ook op laerskool daar en het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Tom Naudé voltooi.

Ná skool het Thinus elektronika studeer deur die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë, waar hy verbonde was aan hulle telekommunikasie-afdeling. Daarna was hy in die weermag betrokke by 2 Sein Regiment op Louis Trichardt op die berg by Hanglip vanaf 1985 tot 1990.

Thinus het in 1990 die privaatsektor betree toe hy Electronic Field Services in Louis Trichardt begin het. Die onderneming het gefokus op elektroniese herstelwerk. Hy sou ook later die DSTV-agentskap bekom, wat hy vir bykans 30 jaar bedryf het tot sy dood.

Thinus is op 31 Desember 1966 met wyle Maria Roux getroud en drie kinders (Hannes, Alma en Karien) is uit die huwelik gebore. Hy het baie jare later weer besluit om te trou en is op 29 September 2001 met Martie getroud. Sy het ook drie kinders, naamlik Anton, Adri en Ronel.

Thinus was ‘n man wat lief was vir die natuur en het ook in sy leeftyd 125 eenhede bloed geskenk. Hy is gebore en het grootgeword in die Hervormde Kerk en het op die ouderdom van 28 ouderling geword – ‘n amp wat hy tot op 72-jarige ouderdom beklee het.

Thinus is sowat drie jaar gelede met kanker gediagnoseer en het op Sondag, 3 Mei, sy stryd teen die siekte verloor. “Hy het ‘n baie vol lewe gelei en was ‘n geliefde lid van die gemeenskap,” het sy familie gesê.

‘n Roudiens vir wyle Thinus is Woensdag vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Martie, dogters Karien (en skoonseun Jan) en Alma, sy seun Hannes (en skoondogter Mariscka), kleinkinders Claudine, SM, Rouxhan en Karmi en aangetroude familie. Weens die bepalings van die Covid-19 grendeltydperk was die begrafnis slegs vir onmiddellike familie en vriende.

Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat medelye aan hulle betoon het in hierdie moeilike tyd.

 

 
 
 

Viewed: 1485

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT