ADVERTISEMENT:

 

 
 

Graad 6-leerling Ayush Patel, besig met selfstudie. Foto verskaf.

Tuisonderrig 'n uitdaging vir ouers en kinders

Date: 03 May 2020 By: Pétria de Vaal

Die skielike, onvoorbereide “tuisskool”-omstandighede waarin ouers en skoliere gedompel is, het ‘n groot implikasie vir almal se lewens. Tong-in-die-kies word grappies gemaak soos: “As die skole heropen sal ek nie my kinders kan terugstuur nie, want dan het ek hulle al lankal iets aangedoen!” Die Zoutpansberger het by ‘n paar gesinne gaan verneem hoe hulle hierdie tyd ervaar.

Gideon en Mariza Joubert geniet hierdie tyd tuis terdeë. Van hulle vyf kinders is drie nog op skool. Daniël is op Universiteit (Stellenbosch – tweede jaar Sielkunde) en studeer nou ook tuis. Johannes bring ‘n oorbruggingsjaar in Australië deur waar hy by ‘n skool werk. Gideon (Graad 10 by Hoërskool Louis Trichardt) sê dat hy te veel werk het, maar bring sy kant. Hy mis wel die sosiale aspek van skool. Die twee dogters, Phoebe (Graad 7) en Maureen (Graad 3), werk fluks aan die opdragte wat van Laerskool Louis Trichardt af gestuur word.

Mariza sê hulle het ‘n goeie roetine geïmplementeer, aangesien sy as Ontwerp-onderwyseres vir Graad 10’s by Hoërskool Louis Trichardt ook moet werk. Haar man Gideon, lektor by Univen, is besig met sy eie nagraadse studies en hou kontak met sy studente via hulle Learning Management System. Vanaf 08:00 is die huis stil en almal is besig. Kinders beloon hulleself deur op te staan en byvoorbeeld te gaan springmielies maak.

Volgens Mariza is die manier waarop daar tans “skoolgegaan” word, baie meer taakgerig met baie minder onderbrekings as gedurende ‘n normale skooldag. Hulle is bevoorreg om Internet en ‘n drukker te hê. Sy geniet dit om verskillende stelsels te ondersoek en videogrepe vir haar leerders te maak – dinge waarvoor ‘n mens nie normaalweg tyd het nie.

Die Joubert-kinders geniet dit om ‘n bietjie later te lê en om nie skoolklere aan te trek nie. Hulle mis egter skool en hulle maats!

Riya (Graad 11) en Ayush Patel (Graad 6) is onderskeidelik in Ridgeway College en Ridgeway Preparatory. Volgens ma Sunita is hulle baie selfstandig. Om sekere aspekte van die werk te verstaan is egter soms ‘n uitdaging, en daarom neem dit langer om take te voltooi. Hulle sukkel ook met stadige Internet en ‘n swak selfoonsein in hulle area. Die kinders mis interaksie met hulle onderwysers en maats.

Sunita deel ‘n paar wenke, byvoorbeeld om ‘n roetine te hê; kinders moet elk hulle eie werkspasie hê indien moontlik; skoolwerk moet prioriteit geniet; kinders moet oefen, gesond eet en tyd maak vir speel.

Lourens en Liezl Botes en gesin is in die bevoorregte posisie om die grendeltyd op hulle plaas deur te bring. Die kinders geniet dit om by die huis te wees. Hulle is almal in CVO Skool Zoutpansberg.

Megan (Graad 8) en Kailey (Graad 6) gaan goed op hulle eie aan met minimale hulp. Kailey werk vinnig en sodra sy klaar is, gaan ry sy perd. “Dit is nogal ‘n voordeel op die plaas, want hier is spasie,” het Liezl gesê.  Megan kry redelik baie werk, maar sy geniet dit. Sy mis net haar maats, en natuurlik die winkels! Rynhardt (Graad 1) is ‘n bietjie meer van ‘n uitdaging, want ma Liezl is nou sy juffrou. Volgens hom hou hy nie van skoolwerk nie! Dit is ook moeiliker om hom te laat stilsit, want hy wil gaan speel. Aan die begin was dit ‘n aanpassing, maar dit gaan elke dag beter.

Tebogo en Kahludi Malele se drie kinders, Abigail (Graad 6), Moagi (Graad 5) en Tshenolo (Graad 4) is in Ridgeway Preparatory. Tebogo sê dat hulle as ouers nou skielik die rol van die onderwyser moet vervul – geen maklike taak nie! Sy voel soms onbevoeg omdat sy nie ‘n onderwyser is nie, maar aanvaar die uitdaging om self meer te leer. Sodoende kan sy haar kinders beter bystaan. Sy sê hulle as ouers word selfs reggehelp om dinge op dieselfde manier as onderwysers te doen!

Die Malele-ouers is albei essensiële gesondheidswerkers en ‘n daaglikse roetine is baie belangrik om alles in te pas.  Die kinders mis hulle maats en onderwysers. Dit is vir hulle belangrik dat die kinders veilig is teen Covid-19 en dat hulle in die gerief van hulle eie huis onderrig kan ontvang. Hulle kan later slaap, geen uniforms is nodig nie en geen kosblikke hoef gepak te word nie. Die gesin is nou baie nader aan mekaar is as ooit tevore.

 

 
 
 

Viewed: 1110

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT