ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bo na onder (van links na regs) is mnre. Jannie le Roux (hoof van Ridgeway Preparatory), Louis Linde (hoof van Laerskool Louis Trichardt), Orion Theron ( hoof van die CVO Skool Zoutpansberg) en die waarnemende hoof van Hoërskool Louis Trichardt, Theo Muller. Foto's verskaf.

Virus dwing skole om ook innoverend te dink

Date: 02 May 2020 By: Pétria de Vaal

Skole het ‘n besonderse uitdaging in hierdie tyd. Twee van ons dorp se privaatskoolhoofde en twee staatskoolhoofde is deur die Zoutpansberger genader om vir ons lesers meer inligting oor die hantering van die grendeltyd ten opsigte van die akademie te verskaf.

Ridgeway Preparatory se skoolhoof, mnr. Jannie le Roux, sê die skool moes vinnig dinge in plek kry toe die grendeltyd aangekondig is. ‘n Uitdaging is dat sommige ouers hulle grendeltyd in Gauteng deurbring waar hulle werk. Leerlinge bly plaaslik by familie, wat nie noodwendig toegang tot tegnologie het nie. Swak selfoonseine en gereelde kragonderbrekings bemoeilik ook sake. Graad RR-, Graad 1- en Graad 7-leerlinge kry voorkeur en daarvoor is ‘n tydelike lisensie vir Google Class bekom. ‘n Toepassing, “Seesaw”, word vir Graad RR tot Graad 3 gebruik met baie praktiese oefeninge en aktiwiteite.

Mnr. Le Roux prys die skool se beheerliggaam, onderwysers en ouers se positiewe gesindheid. Talle werkopdragte is vooraf afgerol en aan ouers beskikbaar gestel en daaglikse kontak word gemaak tussen alle partye.

Met heropening voorsien mnr. Le Roux ‘n innoverende program waarin die akademiese dag opgebreek sal word in sekere areas wat meer aandag nodig het. Hy voorspel dat die ou klaskameropset nie meer vir baie lank in plek gaan bly nie.

Vir CVO Skool Zoutpansberg se hoof, mnr. Orion Theron, is die grendeltyd ‘n geleentheid vir groot veranderinge in die skool se onderrigmetodes. Hy gesels entoesiasties oor “afstandsonderrig” wat begin is.  Aanvanklik is take vir Kwartaal 2 uitgegee. Vanaf 14 April is klasroosters gevolg. Elke gesin moet minstens een slimfoon hê. Aan die begin van elke week stuur mnr. Theron ‘n stemboodskap asof dit saalopening is.

Onderwysers het opdrag ontvang om elke oggend voor agtuur daardie dag se werk per WhatsApp uit te stuur. Die skoolhoof sowel as adjunkhoofde is op die onderskeie spesiale groepe.  ‘n Tien-minuut les (Powerpoint of video) en verpligte klankgreep word gestuur. SRecorder is ‘n handige toepassing wat ‘n wiskundeles “lewendig” laat lyk. Die onderwyser “skryf” op die aanbieding asof dit op ‘n witbord is.  Onderwysers het opdrag om so min as moontlik megagrepe te gebruik.

Streng kontrolemaatreëls is in plek. ‘n Afhandelingsdatum word verskaf. Werk word self met behulp van memorandums gemerk óf deur onderwysers nagesien – afhangende van die graad en vak. Ouers is nou mede-verantwoordelik en groepe bly streng akademies.

Mnr. Theron is opgewonde oor ‘n lewendestroommeganisme wat spesiaal vir die skool ontwikkel word en eersdaags getoets word. “Onderrig kan hiermee werklik geoptimaliseer word,” het Theron gesê. Hy moedig ouers aan om in die toekoms te belê in vinnige Internet en toegang tot die nodige tegnologie. “Ons gaan ‘n tyd binne waarin ons ons moontlik moet regmaak om onafhanklik van ‘n skoolgebou te wees,” het Theron gesê.

Mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, beklemtoon dat staatskole nie in so ‘n bevoorregte posisie as privaatskole is nie. Slegs 50% tot 60% van ouers word deur middel van tegnologie bereik.

Aanvanklik is slegs hersiening van ou werk gedoen. Nou word werk Maandae deurgegee deur middel van WhatsApp.  Alle werk sal weer by die skool behandel word. Diegene wat wel die werk doen, sal dan ‘n voordeel bo ander hê. Geen assessering word gedoen nie.

Onderwysers is tans besig om werkboeke saam te stel met ‘n verkorte weergawe van die kurrikulum. Sodoende kan die res van die skooljaar so volledig as moontlik voltooi word.

Vir Linde is dit belangrik om te weet wat die herstelplan van regeringskant gaan wees wanneer skole heropen. Gesondheidsveiligheid is van die uiterste belang. Linde het gesê dat die herhaling van ‘n akademiese jaar in graadverband nie ‘n opsie is nie, omdat nuwe leerlinge moet begin met skool. Dit sal ‘n reuse-bottelnek veroorsaak

Die waarnemende hoof van Hoërskool Louis Trichardt, mnr. Theo Muller, noem dat soveel as moontlik werk voor die grendeltydperk afgerol is – veral vir die Graad 12’s.

Mev. Madeleine Nel koördineer skoolwerk met behulp van ‘n toepassing met die naam AWSUMWhatsApp-groepe en Zoom word ook ingespan. AWSUM kan video’s en dokumente deel, wat dit uniek maak.  Video’s help leerders om die werk behoorlik onder die knie te kry en herhaaldelik te kyk totdat hulle die werk verstaan.  AWSUM maak werk sigbaar aan die ouers, en kan hulle dus ‘n ogie hou.

Muller noem dat aanpassings wel gemaak sal moet word om die skooljaar in die kalenderjaar ingepas te kry, deur byvoorbeeld die skooldag te verleng en vakansies kort te knip. Hy bly positief ten opsigte van die Graad 12’s omdat ‘n halwe jaar darem nog vir hulle oor is.

 

 
 
 

Viewed: 1304

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT