ADVERTISEMENT:

 

 
 

Fietsryers oefen in hulle tuin. Van links na regs is Peroux, Jacques en Pierre du Preez. Foto verskaf.

Daar is geen rede om nie fiks te bly nie

Date: 01 May 2020 By: Pétria de Vaal

Een ding is vir seker – ons omgewing se aktiewe mense kan planne maak! ‘n Paar instrukteurs is genader om te deel wat hulle doen om mense steeds aan te moedig om te oefen te midde van die grendeltydperk.

Vir Anwyll Buys wat vroeër vanjaar die Endless Dance and Music Studio in die dorp begin het, is dit hartseer dat hy nie met sy fisiese klasse kan voortgaan nie, maar hy stuur vir al sy leerlinge video’s met danse wat hulle self tuis kan inoefen. Op hierdie video’s is voorbeelde van verskillende style, opwarmingsoefeninge en van die dansroetines wat hulle al sover hierdie jaar gedoen het. Wanneer die klasse weer mag begin, sal hulle dan hoofsaaklik op tegniek fokus.

Fisioterapeut en pilates-instrukteur Elmien van der Goot sê dit is baie belangrik dat mense sal aanhou oefen want oefening verbeter ook jou immuunstelsel. ‘n Bekende fisioterapie-leuse is juis: "The body likes to move".

“Meeste van die gesinne waarmee ek gesels oefen tuis. Kinders doen model workouts wat hulle op YouTube kry en die middeljarige mammas beleef weer hulle Jane Fonda-dae! Sommige kinders kry oefenprogramme van hulle skole af,” het Elmien gesê.

Elmien stuur vir haar pilatesklasse foto’s met verduidelikende stemboodskappe van wat hulle elke dag kan doen. Om dinge interessant te hou, werk Vrydae se oefeninge saam met ‘n pak geskommelde kaarte. Elke tipe kaart verteenwoordig ‘n tipe oefening en die hoeveelheid wat gedoen moet word.

Verskeie van haar praktyk se pasiënte noem dat hulle in die grendeltyd begin oefen het omdat hulle nou meer tyd het. Ander mis hulle gimnasiumtye vreeslik. Die grootste klagte van haar en kollega Margi Muller se pilatesgroepe is dat dit nie lekker is om alleen te oefen nie – dit verg geweldige selfdissipline. “Niemand ‘check’ jou op nie.”

Elmien sorg dat sy self elke dag óf pilates óf 'n krag-oefensessie inpas. Haar eie kinders hardloop so drie dae per week tussen 2 en 3.5 km in die erf - op en af en in die rondte met die honde wat al agter hulle aan hardloop en blaf!

Gert Duvenhage van Fusion Fitness het gesê dat dié lede wat onder normale omstandighede persoonlike afrigters het, wel kan aangaan met oefen. Hierdie gimnasium het vier sulke afrigters wat elke dag of elke tweede dag byvoorbeeld via Skype kommunikeer en só leiding gee. Nie almal het egter die luuksheid tuis van gimnasiumtoerusting nie. Wat Gert-hulle wel gedoen het toe hulle van die grendeltyd verneem het, is om te help deur vir sekere lede enkele items van die gimnasium te leen, byvoorbeeld gewigte. Hy beveel aan dat almal sover moontlik net aanhou om te oefen en gesond te eet.

Moet nooit ‘n fietsryer onderskat nie! Vir die Soutpansberg Youth Cycling Development (SYCD) wat val onder die Soutpansberg Fietsryklub, is die volgende in plek:  Onder leiding van Stanley Thompson is ‘n kommunikasiegroep op die been gebring sodat hulle mekaar daagliks kan motiveer en uitdaag.  Stanley kry ook op hierdie manier terugvoer van hoe fietsryers met hierdie uitdagings vaar. Hulle het ‘n paar doelwitte gestel, soos byvoorbeeld ‘n fiksheidstoets wat hulle aan die einde van die inperking sal doen om te bepaal wie het rêrig wat gedoen. Dit is ‘n manier om fokus te behou, omdat daar uiteraard nie nou ‘n doel of definitiewe wedren is nie.

“Ons wat fietsry het seker gemaak dat almal wat saam oefen ‘n statiese fiets of ‘n spinning fiets sowel as die nodige oefenapparaat in plek het.” Daaglikse programme word uitgestuur en almal het die geleentheid om saam te gesels. Hulle het al baie aandag aan krag- en staminasessies gegee en elke tweede dag word dit met ‘n “xfit plyometric”-tipe oefening gekomplementeer.

Omdat hulle op bergfietse ry, het elkeen ‘n tuinbaan gebou met opritte, sprongknobbels en hindernisse. Hulle ry dit gereeld om op standaard te bly. Hulle het eenkeer ‘n dag/nag-wedren van vier ure gehad waarin hulle tot 50 km gery het. Die meeste oefening was egter deel van ‘n spinning oefenplan. Belangrik is ook dat hulle weekliks na almal se rustende hartklop kyk om te sien hoe hulle vorder.

Stanley het ongeveer 20 hoërskoolleerlinge by SYCD wat gehelp word wanneer hulle potensiaal toon.  Tans rig hy ook een fietsryer in Musina asook vier in Polokwane af. Hulle kan nie wag vir Vrydag om in die bos te gaan ry nie en só ‘n bietjie afstand in te kry nie. Hopelik kan hulle dan weer daagliks met mag en mening begin ry!

Die Louis Trichardt Gimnastiekklub se gimnaste sit ook nie agteroor in hierdie tyd nie. Elzabé Stewart, afrigter, het gesê om aktief en fiks te bly in dié tyd van inperking is uiters belangrik. 'n Uitdaging is dit beslis! Die klub ontvang gereeld foto’s van gimnaste wat tuis oefen.

Elzabé beveel aan dat kinders moet klim en klouter: bo-oor en onderdeur enigiets wat stabiel en stewig is. “Bou jou eie hindernisbaan, klim boom, bly soepel deur daagliks te strek. Klim trappies, loop/draf om die swembad of huis, ry fiets as dit moontlik is, kap hout, grawe 'n gat, hop, werk in die tuin, spring tou, dans. Maagoefeninge en planking kan enige plek gedoen word. Daar is geen verskoning om nié iets te doen nie!” het Elzabé gesê.

 

 
 
 

Viewed: 827

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT