ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die bestuur van Louis Trichardt SuperSpar (bo) is Dinsdagoggend deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens beveel om hul deure vir sake te sluit, omdat hulle “nie aan die grendeltydregulasies” voldoen het nie. Die winkel kon eers Woensdagoggend weer oopmaak. SuperSpar was een van twee winkels in Louis Trichardt wat die dag deur die polisie beveel is om te sluit weens “oortredings” van die regulasies. Die ander winkel was Check U in Songozwistraat, wat moes sluit omdat hulle, buiten vir handreinigers by die ingangsdeure, nie ook handreinigers by elke betaalpunt gehad het nie. Foto: Bernard Chiguvare.

Sluit julle deure, sê polisie

Date: 30 April 2020 By: Andries van Zyl

Terwyl die hele land uitsien na die verslapping van die grendeltydregulasies wat op 1 Mei in werking tree, wil dit voorkom asof die polisie op hulle beurt hul optrede verskerp. Twee winkels in Louis Trichardt is Dinsdagoggend deur lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gesluit, nadat hulle volgens die polisie nie aan die grendeltydperk se regulasies voldoen het nie.

Polisielede het omtrent dieselfde tyd (ongeveer 10:00) by die welbekende Louis Trichardt SuperSpar en Check U, beide geleë in Songozwistraat, opgedaag.

In Check U se geval is die bestuur beveel om die winkel se deure te sluit, omdat daar blykbaar nie ook handreinigers by elke betaalpunt was nie. Handreinigers was egter wel by die ingangsdeure beskikbaar. Check U kon gelukkig weer na ongeveer ‘n halfuur oopmaak, nadat die bestuur moes rondskarrel om ekstra handreinigers te koop.

Louis Trichardt SuperSpar was egter minder gelukkig. Hulle moes die hele dag gesluit bly, terwyl beide die twee bestuurders aan diens tydens die polisie se “klopjag” gearresteer is.

SuperSpar eienaar mnr. Luke Enslin was teen Woensdagoggend nog woedend oor die vorige dag se gebeure. Volgens hom het die polisie net ná 10:00 daar aangekom en sy winkel se deure, met al die kliënte en personeel nog binne, gesluit. “Hulle het iets gesê van daar mag nie meer as 50 mense in die winkel wees nie. Ons het hulle daarop gewys dat daar nêrens in die wet so iets geskryf staan nie. Hulle wou egter na geen rede luister nie en wou net arresteer,” het Enslin gesê.

Enslin het gesê dat nadat sy twee bestuurders gearresteer is en polisiestasie toe geneem is, bewerings gemaak is dat die twee gearresteer is omdat hulle nie die sosiale afstand tussen kliënte in die winkel kon toepas nie. “Ons het alles in plek om sosiale distansiëring in die winkel te bevorder. Ons het selfs plakkers op die vloer … my bestuurders is nie polisiemanne wat die heeldag kan rondhardloop om te kyk dat almal hulle afstand van mekaar kan hou nie,” het Enslin gesê.

Intussen het ‘n video op sosiale media begin versprei waar die vroulike “videograaf” wys hoe kliënte en personeel by die winkel uitstap. Sy maak dan die opmerking dat meer as 300 mense in die winkel was. Die polisie het op hulle beurt in die winkel se register aangeteken dat 351 mense en personeel in die winkel was. Enslin betwis hierdie syfer ten sterkste. “Die polisie het die mense een-vir-een getel soos hulle toegelaat is om uit te gaan. Ons het ook die mense op ons sekuriteitsvideo gaan tel soos hulle uitgaan. In totaal was daar 109 kliënte in die winkel en 40 personeellede,” het Enslin gesê. Hy het bygevoeg dat, volgens die winkel se vloerarea (en volgens hulle eie voorskrifte van een persoon vir elke 8m²) hulle tot 250 mense op ‘n slag in die winkel kan akkommodeer. Die grendeltyd regulasies bepaal een persoon per vierkante meter. “Ons was ver binne die getal wat volgens ons vloerspasie toegelaat word,” het Enslin gesê.

Enslin se twee bestuurders is eers ná vyfuur Dinsdagmiddag vrygelaat met ‘n waarskuwing dat hulle op 27 Julie vanjaar in die hof moet verskyn. Die dagvaarding wat aan hulle uitgereik is, is ook baie vaag oor wat presies hul oortreding was. Die klag lees bloot “contravening disaster management act”. Intussen kon Enslin weer Woensdagoggend open vir sake. “My personeel is nou angsbevange!” het Enslin gesê en die mening uitgespreek dat die polisie se optrede onregmatig was.

Alle navrae vir kommentaar oor die voorval is na die provinsiale skakelafdeling van die polisie in Polokwane verwys. Provinsiale polisiewoordvoerder brig. Motlafela Mojapelo het op sy beurt gesê alle navrae wat verband hou met Covid-19 arrestasies moet deur die polisie se nasionale woordvoerder beantwoord word. ‘n Volledige opsomming van die gebeure is aan nasionale polisiewoordvoerder brig. Vishnu Naidoo per WhatsApp en e-pos gestuur vir kommentaar. Dieselfde navraag is ook aan brig. Peters Mathapelo, waarnemende woordvoerder in die Minister van Polisie se kantoor, gestuur. Teen druktyd het nie een van die twee ontvangs erken van die navrae nie.

 

 
 
 

Viewed: 23698

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT