ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Servaas Wahl (46). Foto verskaf.

Bekende Servaas skielik oorlede

Date: 30 April 2020 By: 

Inwoners van Louis Trichardt en omstreke het met hartseer verneem van die dood van die 46-jarige Servaas Wahl op Vrydag, 24 April.

“Dit het so skielik gebeur. Ons vermoed dit was ‘n beroerte of hartaanval gewees,” het Servaas se broer WP Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Servaas is op 8 Januarie 1974 in Rustenburg gebore en het sy laerskoolloopbaan by Elspark Laerskool begin. In 1985 het sy familie na Louis Trichardt verhuis waar Servaas ‘n leerling van Laerskool- en Hoërskool Louis Trichardt was.

In 1992 het Servaas aangemeld vir militêre diensplig, waarna hy as staandemaglid aangesluit het as lid van die Militêre Polisie (MP). Hy het eers diens verrig in die Noordkaap, waarna hy na die destydse SMG (Soutpansberg Militêre Gebied) buite Musina oorgeplaas is.

Servaas het later die weermag verlaat en begin werk is lid van die Regshulpraad op Louis Trichardt en ook op Modimolle (Nylstroom). Hy het egter weer teruggekeer na Louis Trichardt en begin werk by Vonitel Radio, waar hy tot en met sy afsterwe werksaam was. Hy was in lewe ook ‘n aktiewe lid van die Moth se Turbi Hills Bomgat in Louis Trichardt.

Wyle Servaas word eerskomende Vrydag, 1 Mei, om 10:00 vanuit die Agapé Gemeente op Louis Trichardt begrawe. Die diens sal waargeneem word deur past. Sampie van Niekerk. Weens die huidige Covid-19 beperkings sal daar egter slegs 50 persone toegelaat word vir die diens en geen tee en koffie sal bedien word nie. Belangstellendes wat die diens graag wil bywoon word versoek om vooraf ‘n WhatsApp of SMS boodskap te stuur aan WP by tel. 078 456 7689. “Voorkeur sal aan familie en naby vriende gegee word,” het WP gesê.

Wyle Servaas word oorleef deur sy ouers Stienie en André Fourie, dogter Marinda, broers en susters WP, Christelle Rademeyer, Adriaan Fourie, Mari Pienaar en ouma Sarah Lubbe. “Ons as familie wil die hele Soutpansberg-gemeenskap bedank vir hulle ondersteuning en woorde van vertroosting in hierdie moeilike tyd. Ons sou almal graag persoonlik wou bedank, maar dit is egter nie moontlik nie,” het WP gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1923

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT