ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 82-jarige tannie Joekie Nortjé (links), afgeneem in die MediKliniek in Tzaneen nadat sy behandeling gekry het vir ‘n vergruisde knieskyf, ‘n beenbreuk in haar hand en steekwonde. Regs is haar 62-jarige seun Johan. Buiten vir steekwonde en ‘n kopwond, is sy een arm ook gebreek.  Foto's verskaf.

Lafaards se werk

Date: 24 April 2020 By: Andries van Zyl

‘n Bejaarde ma en haar seun is in net minder as ‘n jaar vir ‘n tweede keer wreed op hul Nooitgedacht-kleinhoewe buite Louis Trichardt aangeval.

Die 82-jarige tannie Joekie Nortjé en haar 62-jarige seun Johan is gelukkig om te leef, nadat hulle Maandagoggend deur ‘n groep van drie of vier mans op die hoewe oorrompel is. Die twee is op 27 Mei verlede jaar ook op die kleinhoewe aangeval deur ‘n groep mans en erg aangerand.

Die aanval het Maandag net na 07:00 plaasgevind, kort nadat tannie Joekie uitgegaan het om die hoenders oop te maak. Toe sy omdraai, het drie mans haar oorrompel en die huis ingesleep. Johan was reeds in die huis vasgemaak met stukke elektriese kabel en ‘n stuk staaldraad. Hulle is daarna vir sowat twee ure erg aangerand, met hul aanvallers wat op soek was na geld en ander waardevolle items. Tannie Joekie kon egter later daarin slaag om hulp te ontbied, nadat die mans gevlug het. “Op die einde, toe hulle die kluis uit die muur uitbreek en haar weer wou slaan om uit te vind waar die sleutels is, toe sê sy vir hulle ‘I am going to die now’, want sy kon glad nie meer staan nie as gevolg van die knieskyf wat stukkend geslaan is. Dit was toe dat hulle gevlug het,” het Dippie, tannie Joekie se ander seun, gesê.

Die erg beseerde tannie Joekie het op haar boude na die agterdeur van die huis geskuif waar haar “noodselfoon” ingeprop was. Sy kon toe vir Dippie-hulle skakel. Hulle ander selfone is almal gesteel. Soos met die aanval verlede jaar, was Dippie eerste op die toneel gewees. “Die brutaliteit was vir my erger en ek verwerk dit moeiliker as die vorige keer. As jy dit gesien het, sal jy verstaan watter wroeging ek in myself oor die aanval het. Dit is regtig ‘n lafaard wat ‘n 82-jarige vrou so verniel!” het Dippie gesê.

Volgens Dippie was die aanvallers se modus operandi dieselfde as verlede jaar. “Die polisie sê natuurlik die vorige lot is in hegtenis, maar ek sê dit is dieselfde klomp. Volgens die polisie het hulle verlede jaar iemand gearresteer, maar ons het nog nooit terugvoer daaroor gekry nie,” het Dippie gesê.

Beide tannie Joekie en Johan is ernstig beseer. Buiten vir kneuswonde oor haar hele lyf, is ‘n been in tannie Joekie se linkerhand gebreek. Sy het ook steekwonde aan die regterhand opgedoen, terwyl haar linker knieskyf vergruis is. Johan het soortgelyke besering opgedoen, onder andere ook ‘n kopwond. “Sy kop is ook oopgeslaan. Orals was net bloed want ‘n kopwond bloei baie,” het Dippie gesê. Later sou hulle ook bevind dat Johan se regterarm gebreek is.

Tannie Joekie is oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen, terwyl Johan afgevoer is na Gauteng en Woensdag opgeneem is in die Groenkloof Hospitaal. Die skade aan tannie Joekie se knieg is herstel, terwyl haar snywonde toegewerk is. Johan, wat sowat ‘n maand gelede ‘n beroerte gehad het, sukkel om te kommunikeer, maar die goeie nuus is dat hulle Vrydag sy arm gaan opereer by die Unitas Hospitaal. Medici, het Dippie gesê, vermoed sy beroerte is as gevolg van die ernstige hoofbesering wat hy verlede jaar opgedoen het.

Tannie Joekie is bekend as ‘n baie positiewe mens wat nie haatdraend is nie. “My ma is maar altyd ‘n positiewe mens. Haar standpunt sal nie verander nie, maar ek is die een wat verbitterd is. Ons standpunt het verander. Ons sal nie toelaat dat hulle terug gaan plaas toe nie. Ons gaan nou die plek in die mark sit en ons gaan nou die besluit vir hulle neem. Ek bedoel, dit is elke keer ‘n traumatiese ervaring vir die familie. Die alternatief is dat as hulle die plek kan verkoop, kan hulle ‘n ander huis koop, anders sal ons as familie ‘n plan maak,” het Dippie gesê.

Die besluit om die kleinhoewe te verkoop is vir die hele familie ‘n emosionele aangeleentheid. “Ons almal het sentimentele waarde aan die plot, maar in hierdie stadium moet jy die sentiment opweeg teenoor die realiteit en die realiteit is, verkoop die plek en kry klaar. Hulle kan nie alleen daar bly nie … Ons het nooit verwag dit gaan ‘n tweede keer gebeur nie. Maar ons bly almal mens en ons weet hulle is ‘n sagte teiken en ons por hulle reeds lankal aan om te trek,” het Dippie gesê.

Dippie het sy opregte dank uitgespreek teenoor die hele gemeenskap vir hulle ondersteuning. “Ek wil graag almal bedank wat belangstelling getoon het. Ons het letterlik honderde oproepe gekry. Dit is moeilik om elke een te bedank,” het Dippie gesê.

Na wat verneem word het die aanvallers gevlug met ‘n paar kleiner items, ‘n onbekende bedrag geld en ‘n toegesluite kluis. Teen druktyd is geen bevestiging ontvang of enige iemand al in verband met die aanval aangekeer is nie. Wat wel bevestig kon word, is dat tannie Joekie ontslaan is en by Dippie-hulle aansterk.

 

 
 
 

Viewed: 1367

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT