ADVERTISEMENT:

 

 
 

Johan Kirsten van Ocean Basket is nie skaam om te noem dat hy ‘n gelowige is nie en dat hy weet dat God hulle in hierdie gebroke wêreld deur alles sal dra. Foto verskaf.

Kleinsake eienaars glo dat besigheid weer sal optel

Date: 23 April 2020 By: Pétria de Vaal

Vir talle eienaars van kleinsake-ondernemings in ons omgewing is die grendeltyd ‘n geweldige uitdaging met ‘n groot impak. Die Zoutpansberger het met ‘n paar van hierdie ondernemings gesels.

Kotek Staal- en Ingenieurswerke bestaan vanjaar 30 jaar. Eienaar Christa Strydom bly positief in hierdie tyd. Oor die algemeen verstaan hulle kliënte dat daar nou geen werk gelewer kan word nie. Wanneer die grendeltyd gelig word, beplan hulle om voort te gaan soos gewoonlik, aangesien daar reeds werk is wat wag. Hoewel die situasie almal se sakke raak, kyk die onderneming so ver as moontlik na hulle werknemers. Almal is byvoorbeeld vooraf met die nodige maskers ensovoorts  voorsien, voordat hulle huis toe is. Wat vir haar belangrik is, is dat haar personeel eerder gesond bly.  Hoewel die lengte van die grendeltydperk ‘n bepalende faktor kan wees, het die baie gelowige Christa in beginsel besluit: “Ons bly staan, maak nie saak wat nie”.

Charlies Den is one of the businesses in town that has existed for more than 50 years. For Fatima Ayob, her daughter Razina Seedat and their staff these are challenging times. A textile/fabric shop is not on the list of essentials and is therefore closed. However, the need for essential fabrics and elastic exists for the making of masks. For an “informal” business that is not a closed corporation or company, a certificate needs to be obtained from the local municipality to have permission to sell these essentials. Apparently, the deadline for applications closed before the Easter weekend – something that Razina was not aware of. Attempts to call the municipality to get more information were unsuccessful and a visit to the municipal offices became necessary. The enterprise’s financial responsibilities are maintained as far as possible. The big concern is that they are unable to support their staff in a way they would have liked to as they have no extra funds. When the lockdown is over, business should return to normal, as suppliers of stock will also be open.

Johan Kirsten van Ocean Basket vertel dat sedert die eerste aankondig deur President Cyril Ramaphosa op 15 Maart gemaak is, besigheid onmiddellik afgeneem het. Vanaf 16 Maart was daar slegs een skof personeel aan diens. Die deure moes uiteraard sluit toe die grendeltyd in werking getree het. Die Ocean Basket Groep is baie behulpsaam in hierdie tyd om te kyk wat gedoen kan word om dinge vir almal te verbeter. Johan het aansoek gedoen vir die werloosheidsversekeringsvoordeel vir sy personeel by die Departement van Arbeid, asook by die South African Future Trust (SAFT). Hierdie is die fonds wat deur die Oppenheimers en Ruperts geadministreer word, wat rentevrye lenings aan klein besighede verskaf. Werknemers kan vir 15 weke elkeen ‘n maksimum van R750 per week ontvang. Ocean Basket voldoen aan al die vereistes, maar het nog nie terugvoer ontvang nie. Hy is ook besig om met sy bank samesprekings oor moontlike verligting te voer.

In hierdie tyd hou Johan sy personeel op hoogte van wat gebeur. Hy beskou dit as ‘n uitdagende tyd in almal se lewens en glo dat dit ook oorleef sal word soos baie ander moeilike situasies in die verlede. Johan is nie skaam om te noem dat hy ‘n gelowige is nie en dat hy weet dat God hulle in hierdie gebroke wêreld deur alles sal dra. Die feit dat alles en almal tot stilstand geruk is, laat ‘n mens besef dat daar belangriker dinge in die lewe is as onder meer fisiese welvaart.

Wat natuurlik belangrik is om te besef, is dat wanneer die grendeltyd opgehef word, dinge nie eensklaps gaan terugkeer na normaal nie. Johan vermoed dat baie mense steeds nie “veilig” genoeg gaan voel om na ‘n restourant te gaan nie. Hy voorsien dat die fokus moontlik baie meer op wegneemetes geplaas sal word.

Seisoene is ‘n bekende naam in die dorp. Die deure was gesluit tot Vrydag, 17 April, waarna hulle vir essensiële hardeware oopgemaak het slegs van 9:00 tot 13:00.  Bennie Pieterse, die eienaar, sê dat die grootste probleem die “grys areas” is.  Hy mag byvoorbeeld slegs aan gelisensieerde loodgieters en elektrisiëns items verkoop wat nodig is om hulle noodsaaklike werk te doen. Individue mag steeds nie koop nie. Talle onsekerhede bestaan oor ‘n verskeidenheid items. Wat een besigheid wel verkoop, mag ‘n ander nie verkoop nie. Bennie en sy vrou, Mariëtte, bestuur die proses na die beste van hulle vermoë. Streng toegangsbeheer geld in terme van wetstoepassing. Niemand word in die winkel sonder ‘n masker toegelaat nie.

Lalapanzi Hotel se deure is toe. Die toerismebedryf gaan swaar gebuk onder die inperking. Volgens Inga Gilfillan moes twee troues wat hulle daar sou hou, uitgestel word. Sy en Marius gebruik die tyd om aandag te gee aan onder meer die hotel se groentetuin, tuine, skoonmaak van eenhede, koelkamers en so meer. Geen personeel is op die terrein nie. Alle moontlike aansoeke is reeds gedoen ten opsigte van hulp wat deur die staat aangebied is, maar nog geen terugvoer is ontvang nie. Hulle vertrou dat die personeel wel die vergoeding wat deur die werkloosheidsversekeringsfonds aangebied word, teen maandeinde sal ontvang.

Die hotel ervaar egter ‘n paar probleme, byvoorbeeld dat die hotel deel is van ‘n trust en nie ‘n beslote korporasie of maatskappy is nie. Die regeringshulp maak nie voorsiening vir trusts nie. Die proses om aansoek te doen vir die Covid-19 hulp by die Departement van Toerisme vereis registrasie as SME (Small and Medium-sized Enterprise). Hierdie registrasieproses het ‘n hele paar kategorieë wat op die vorm verskyn waar besonderhede ten opsigte van B-BBEE status vereis word. Sodoende kom sommige besighede wat hierdie registrasie probeer doen, teen ‘n muur te staan en kwalifiseer dan nie vir die hulp wat aangebied word nie. Indien Lalapanzi hulp geweier word as gevolg hiervan, is die Gilfillans gereed om die saak na Afriforum te neem om verder te hanteer.

Ná ‘n gesprek met ‘n onafhanklike finansiële adviseur in die dorp, wat graag anoniem wil bly, is dit duidelik dat die beleggingsmark ‘n groot val beleef het, wat uiteraard ‘n reuse-invloed op sy eie beleggingsboek het. Dit sou in hierdie tyd nie wys wees om beleggings te onttrek nie. Die netto-effek van hierdie hele inperking kan nie nou gemeet word nie. In die versekeringsbedryf is dit moontlik om op deurvloei-kommissies te oorleef, aangesien dit ‘n passiewe inkomste genereer. Die probleem is egter dat nuwe besigheid wat in hierdie tyd in plek moes kom nie plaasvind nie en toekomstige herhalende kommissies dus van die baan is. Die tyd op hande word gebruik om “huis skoon te maak”. Nie fisies nie, maar om onder meer behoorlike navorsing te doen en ‘n tabel op te trek van watter diensverskaffers in byvoorbeeld die versekeringsbedryf tans besig is om kliënte te help, en op watter maniere hulp beskikbaar is. Hy het ook interessantheidshalwe genoem dat boere in die omgewing miljoene rande verloor omdat produkte wat vir die uitvoermark bestem is, ingeploeg moes word. Om hierdie produkte aan hulpbehoewendes te versprei, sou die boere ook net te veel kos.

Pieter Senekal van Danedie ervaar ‘n groot frustrasie, aangesien die besigheid nie vir regeringshulp kwalifiseer nie en ander planne sal gemaak moet word sodra die grendeltyd verstryk het. Aangesien hy meestal van kontrakwerkers gebruik maak, kwalifiseer hierdie werkers nie vir die werksloosheidsversekeringsvoordele wat beskikbaar is nie. Loonverpligtinge geniet vir Pieter voorkeur. Kliënte is genoodsaak om meer reparasiewerk self te doen as voor die inperkingstyd. Aangesien Danedie ook die essensiële sektor bedien (byvoorbeeld onderhoud aan masjiene en toerusting vir die landboubedryf), help hy self op ‘n ad hoc basis kliënte met enkele tipes noodsaaklike werk, want geen werknemers is by die werkswinkel nie. Pieter vind dit belangrik om die werksplek voor te berei ten opsigte van higiëne en al die ander vereistes, sodat dit gereed is wanneer die deure weer oopmaak.

 

 
 
 

Viewed: 1223

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT