ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Geloftekerk in Louis Trichardt was oor Paasnaweek doodstil, met feitlik geen beweging in die straat rondom die kerk nie.

Pandemie forseer predikante om vinnig te leer van tegnologie

Date: 19 April 2020 By: Pétria de Vaal

As daar ooit ‘n tyd was waarin ons predikante en ander ampsdraers in kerke baie vinnig moes leer om die beskikbare tegnologie in te span, is dit juis nou tydens die Covid-19 grendeltydperk. Die Zoutpansberger het met ‘n paar leraars in Louis Trichardt hieroor gaan gesels.

Al die leraars met wie gesels is, maak gebruik van ‘n verskeidenheid van platforms, onder meer Whatsapp (geskrewe asook stemboodskappe), YouTube en Facebook. Sommige kerke stuur daagliks oordenkings uit, ander hou kontak met individuele gemeentelede en die meeste sorg dat ‘n lewende aanlynuitsending of vooraf opgeneemde boodskap in die plek van ‘n erediens beskikbaar is.

Pastoor Andries van Heerden van die Emmanuel Christelike Kerk geniet die interaksie – veral op Facebook. ‘n Ander faset van mense se lewens kom na vore, sê hy. Gemeentelede moet nou doelbewus inskakel op eredienste, en vergaderings word via “Zoom” gehou.

Volgens dr. Philip Venter van die Veritas Gemeenskapskerk (wat reeds lankal ‘n aantal kuber-lidmate het), word só baie mense met die lewende aanlynboodskappe bereik dat hy Sondae, benewens die gewone erediens, hiermee sal voortgaan nadat die grendeltydperk opgehef is. Mense is nou onseker en beleef ook geestelike verwarring. Hierdie nuwe platvorms is handige hulpmiddels om mense te bereik en te help.

Roger de Troch van die Sewendedag-Adventiste sê dat hul predikant, Henry Botha van Polokwane, kontak met die gemeente behou via tegnologiese platvorms wat reeds lankal in plek is. Die meer as 130-jaar-lange tradisie van “Kampvergaderings” in Paastyd” is vanjaar vervang met aanlynuitsendings, wat op hulle beurt groter keuses aan lidmate gebied het. 

Vir dominee Innes Nagel van die Gereformeerde Kerk was die vinnige aanleer en toepassing van tegnologie ‘n verrykende oefening. ‘n YouTube-kanaal is vir die kerk geskep en opnames word vooraf gemaak. Hy verkies om nie lewendig aanlyn uit te saai nie, vanweë moontlike risiko’s. Om te kompenseer vir die gebrek aan ‘n samekoms van die gemeentelede word daar tans gewerk aan ‘n collage van videogrepe en foto’s om met almal te deel.

Ds. Ronel Eckard van die Hervormde Kerk Zoutpansberg: Geloofsbond van Hervormde Gemeentes, sê dat sy en haar man Eddie (Musina-gemeente) sterk op Whatsapp steun en daaglikse oordenkings op hierdie manier uitstuur. Sommige gemeentelede het egter nie tegnologiese hulpmiddels tot hulle beskikking nie. Die grendeltydperk se verskillende fases is ook iets wat duidelik word. Die “vakansie” is verby en mense se frustrasies en bekommernisse is nou aan die orde van die dag. Twee roudienste is al in hierdie tyd gehou en die “diens” is per Whatsapp en Facebook na familie en vriende gestuur.

Pastoor Sampie van Niekerk van die Agapé Gemeente sien die grendeltyd as baie positief in die sin dat mense wat nooit in die kerk gekom het nie, nou KIES om op eredienste en ander boodskappe in te skakel. Mense word wêreldwyd bereik. Volgens hom gaan dit nou oor die toepassing van wat geleer is in die kerk gedurende goeie tye.

Vir ds. Jan Pretorius van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente is dit opvallend hoe mense in hierdie tyd saamstaan. Telefoniese huisbesoek word gedoen en ‘n lysie van vrae, byvoorbeeld hoe dit gaan en of gemeentelede hulp nodig het, word gevra tydens so ‘n gesprek. Eredienste word vooraf op die ouetehuis se TV gelaai.

Vir ds. Johan Marais van die Baptiste Kerk is die wedersydse bemoediging tussen leraar en gemeentelede met behulp van tegnologie ‘n riem onder die hart.

Die AGS Charisma saai Woensdagaande en Sondagoggende eredienste uit. Nagmaal word byvoorbeeld steeds bedien. Pastoor Leonie Meyfarth sê dat hierdie beeldmateriaal baie data kan gebruik. Daarom stuur hulle dieselfde boodskap ook die volgende oggend aan gemeentelede in MP3-formaat. Die kerk doen moeite om sy gemeentelede positief te hou. Kinders word ook met aanlyn-aktiwiteite betrek.

Al die leraars wat geraadpleeg is, was dit eens dat die versorging van behoeftiges voortgaan. Hulp word verleen waar moontlik. Alleenlopers en bejaardes kry emosioneel die swaarste. ‘n Video-oproep gee ‘n nuwe dimensie aan ‘n gesprek en word deur sommige leraars gebruik as ‘n hulpmiddel om berading te doen. Meer as een predikant het gesê dat, indien ‘n groot krisis opduik en ‘n gemeentelid persoonlike hulp nodig het, die leraar die persoon sal gaan besoek – met inagneming van die voorskrifte, al is dit net om byvoorbeeld by ‘n venster te staan en met iemand te praat.  Die kerke is almal sensitief vir mense se verskillende reaksies op die omstandighede, byvoorbeeld aggressie, depressie, vrees en frustrasie.

Almal is dit ook eens dat kerke se finansies swaar gebuk gaan onder hierdie tydperk en ‘n beroep word gedoen op gemeentelede om steeds, indien moontlik, hulle dankoffers te bring.

Ds. Nagel sien hierdie tydperk as een van diep asemhaal. ‘n Tyd van oorskakeling na ‘n volgende rat. “Paulus was vasgeketting en onder arres. Die Evangelie kon egter nie vasgeketting word nie. Net so is dit vandag. Die Evangelie bring troos en bemoediging en laat hom nie vasgrendel nie,” sê hy.

 

 
 
 

Viewed: 1152

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT