ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vrywilligers Richardt en Madelé Stroebel het gehelp om die geskenkte goedere in kleiner “kospakkies” te verpak vir verdere verspreiding. Foto: Zoutpansberg Privaathospitaal.

Inwoners se harte en hande oop te midde van pandemie

Date: 12 April 2020 By: Andries van Zyl

Te midde van die baie negatiwiteit rondom die coronavirus en die landswye grendeltydperk het die pandemie ook die beste in mense uitgebring ten opsigte van omgee vir sy medemens.

Sedert die begin van die grendeltydperk het die publiek hulle harte en hande oopgemaak vir die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal wat deurlopend poog om een stappie voor die virus te bly.

So het die vrugteboere van Levubu en Vivo “met seënwense vir die dokters en personeel se gesondheid” verlede week reeds ‘n groot vrag avokado’s en piesangs by die hospitaal afgelaai. Hierdie vrag groente is in kleiner pakkies verpak deur vrywilligers Richardt en Madelé Stroebel in sakkies wat deur die plaaslike Spar geborg is. Buiten vir die pasiënte, dokters en personeel, is hierdie “kospakkies” ook aan vrywilligers wat gehelp het met die bak van piesangmuffins en -broodjies uitgedeel.

Plaaslike proteakweker Johanna Breytenbach het op haar beurt die vrouepersoneel en pasiënte se dag opgevrolik met die skenk van pragtige proteas, terwyl Elsabé Wilson help sorg het dat lede van die hospitaal se rampbestuurkomitee veilig buite kan rondbeweeg deur vir hulle materiaal maskers te maak.

Om die personeel verder by te staan met die behandeling van pasiënte het Sanrie van Niekerk vir die hospitaal ‘n termometer geskenk, terwyl fisioterapeut Elmien van der Goot die hospitaal gehelp het met ‘n addisionele vier ondersoekbeddens. Hierdie beddens sal beslis goed aangewend kan word in die tydelike triage-afdeling wat verlede week in die hospitaal se parkeerterrein opgerig is ter voorbereiding vir ‘n moontlik toestroming van Covid-19 pasiënte. Hier het die hospitaal hul dank uitgespreek teenoor Kobus van Dyk wat nie net die tente en baie meer gratis beskikbaar gestel het nie, maar ook gehelp opslaan het.   

Inwoners se goedhartigheid het hierdie week voortgeduur met nog ‘n groot skenking van avokado’s van Leon Welthagen van Wolkberg Plase. “Hierdie avokado’s sal onder meer ook aan ons kanker en dialise pasiënte uitgedeel word,” het die hospitaal se bestuurder, Anneke Stroebel, gesê. Sy het haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat hulle in hierdie moeilike tyd bystaan, asook in die moeilike tye wat kom. Laerskool Louis Trichardt het op hulle beurt die hospitaal uitgehelp met gazebos en transparant-papier.

 

 
 
 

Viewed: 1113

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT