ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jan en Rita Joubert het ná 66 jaar die Soutpansberg vaarwel geroep en na Pretoria verhuis. Foto verskaf.

Jan en Rita groet Soutpansberg na 66 jaar

Date: 05 March 2020 By: 

Die Soutpansberg het onlangs afskeid geneem van twee van sy welbekende en geliefde inwoners, Jan en Rita Joubert van die Plaas Gastehuis op die Piesanghoek-pad.

“Na 66 jaar in die Soutpansberge moet ons wortels optrek en na Pretoria (vir eers) verhuis. Dit is 'n traumatiese omwenteling in ons lewens, wat ongelukkig as gevolg van my gesondheid is,” het Jan gesê.

Die verhuising het ook dankbare herinneringe opgediep vir Jan-hulle. Omie en Lenie Joubert, Jan se ouers, het die Sterkstroom plaas op die Piesanghoek-pad in 1952 gekoop. Hulle altwee was baie betrokke by die sosiale verkeer in die omgewing, deel van die Rotariërs, die Vroue Landbou-unie, boere organisasies en baie betrokke met navorsing oor neute in die omgewing. Hulle drie kinders het op Louis Trichardt skoolgegaan. Krisela, die oudste dogter, het 'n professor in gemeenskapsgesondheid geword, Dawid, die oudste broer, 'n elektriese ingenieur en Jan, wat met Rita (‘n nooi Marais van die Weskus) getroud is nadat hy sy loopbaan as vlieginstrukteur in die lugmag voltooi het, het plaas toe gekom.

Vir 25 jaar het Jan en Rita geboer en was ook hulle nou betrokke by die skool-, kerk- en gemeenskapslewe. Die volgende 25 jaar was hulle in die gasvryheidsbedryf, wat vir die egpaar ‘n wonderlike  ervaring  was. “Ons het vriende gemaak oor die wêreld heen,” het Jan gesê.

Jan en Rita het gesê dat hulle met diepe dankbaarheid al hul vriende en kennisse van die Soutpansberg onthou. “Elkeen het 'n spesiale plek in ons harte.  Terug by 1 Mei 1990, Jill en Alan Whyte, was ook in tyd van ons grootste nood beskikbaar. Daar is so baie wat ons sal mis … Kato se besoekies soggens vir koffie. Ons kan letterlik ‘n boek skryf. Ons is veral dankbaar vir die plaaswag wat so omgegee het vir die twee 75-jariges in hul midde. Ons dink maar net aan die gewapende roof. Minute ná inligting deurgegee is, was die plaaswag op ons stoep. Die kerk-, die muurbal- , die boerdery- en die gastehuis-vriende wat ons ondersteun het, het almal ‘n betekenisvolle rol in ons lewens gespeel,” het die egpaar gesê.

Jan en Rita het reeds die gastehuis verkoop en na Pretoria verhuis. “So kom ons aan die einde van 'n lewens-era en betree 'n nuwe era. Die Groot Vader in sy wysheid sal die pad aandui. Die Soutpansberg en sy mense is in ons harte gegraveer en sal altyd onthou word,” het die egpaar gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1320

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT