ADVERTISEMENT:

 

 
 

Fanie Geyer (links) en fietsrymaat Gerrit du Toit op die bo-punt van die Ben MacDhui-pas, die hoogste van die tien bergpasse op die Ben 10 Eco-uitdaging en die hoogste bergpas in Suid-Afrika. Foto verskaf.

Fanie en Gerrit draf Ben 10 in twee dae kaf

Date: 01 March 2020 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt het blykbaar geen tekort aan avontuurlustiges nie. Net verlede week moes avonturier Dave van Graan sy staptog deur die Kaokoveld in die noorde van Namibië kortknip weens ‘n leeu-gevaar, en hierdie week het nog ‘n inwoner vertel van sy deelname aan die moordende Ben 10 Eco-uitdaging.

Die Ben 10 Eco-uitdaging behels die ry van 10 bergpasse in die Oos-Kaap binne ‘n periode van sewe dae. Die 51-jarige Fanie Geyer van Louis Trichardt en fietsrymaat Gerrit du Toit (56) van Tzaneen het egter besluit hulle gaan die uitdaging sommer in twee dae ry. Die twee het die 10 bergpasse op Vrydag, 14 Februarie, en Saterdag, 15 Februarie, op Fanie se KTM 790 en Gerrit se BMW GS 1200 kafgedraf.

Die Ben 10-uitdaging strek oor sowat 600 km. “Maar ons het daarna, die Maandag tot die Sondagoggend, nog 54 bergpasse deur die Kaap gery,” het Fanie gesê.

Dit is duidelik dat Fanie ‘n absolute passie vir motorfietsry het. “Niemand weet dit in die dorp nie, maar in 2013 was ek een van die ouens in Suid-Afrika wat gekeur is om deel te neem aan die eerste 24 uur Le Mans op die Red Star (Middelburg) renbaan. Dit is die tydwedrenbaan soos Kyalami. Bridgestone het my genader om my in te skryf vir hulle Bridgestone A Plus-span. Ek het egter nie vir Bridgestone daardie spesifieke wedren gery nie, maar vir ‘n medegroep. Maar ek het deelgeneem. Ons het nie gewen nie, maar ons het klaargemaak … My liefde het eintlik al daar begin om aan wedrenne deel te neem, want motorfietsry is in my bloed,” het Fanie gesê.

Maar hoekom juis die Ben 10?

“Die Ben 10 is maar die ultimate challenge vir al die ouens wat motorfiets ry. Dit is ‘n hoogs uitdagende omgewing om te ry. Van die hoogste bergpasse in Suid-Afrika word gery en dit is van die gevaarlikste bergpasse om te ry ... As jy 300 km of 400 km per dag op ‘n motorfiets ry, dan weet jy jy het gery,” het Fanie gesê.

Die bergpasse sluit in die Ben MacDhui-pas (3001 m), Carlisleshoekspruit-pas (2563 m), Volunteershoek-pas (2581 m), Naudés Nek-pas (2590 m), Lundin’s Nek-pas (2170 m), Joubert’s-pas (2234 m), Bastervoetpad-pas (2240 m), Tiffindell-Tenahead Traverse-pas (2720 m), Otto du Plessis-pas (2115 m) en die Barkly-pas (2018 m). Buiten vir laasgenoemde pas wat geteer is, is al die ander passe gruispaaie. Baie Suid-Afrikaners sal onthou dat Naudés Nek-pas is waar die bekende Louis Coetzer (een van die grootste motorversamelaars in die land) en sy vrou, Hermien, in Januarie dood is, nadat hul bakkie by ‘n krans afgetuimel het tydens ‘n 4x4-uitstappie.

Die passe kan in enige volgorde gery word binne sewe dae. Al vereiste is dat deelnemers opbetaalde lede moet wees van die organisasie MPSA (Mountain Passes South Africa) ten tye van registrasie. Hulle moet ook foto’s van hulself en hul voertuie aan die bo-punt van elke pas op die MPSA se webblad laai. Vir dié doel moet hul kameras of slimfone se geo-tag funksie aangeskakel wees, sodat hul besoek geverifieer kan word.

“Van hierdie bergpasse was regtig ‘n riller gewees om te ry, maar dit was in ‘n beeldskone omgewing. Dit was ‘n hoogs uitdagende ervaring gewees. Daar was baie slegte terrein en die pad was baie nat. Ons het nie reën gekry tydens die Ben 10-uitdaging nie, maar wel die week daarna,” het Fanie gesê.

Fanie beplan reeds sy volgende uitdaging. “Ek het nagenoeg van 2014 af tot nou deur so 720 dorpe al gery,” het Fanie gesê. Hy sê dit is ‘n passie vir hom. “Ek fokus om so drie keer ‘n jaar weg te gaan. Botswana en Namibië is ook van my gunsteling besoekpunte,” het Fanie gesê. Vir hul volgende groot uitdaging beplan hulle om die noorde van Namibië (Kaokoveld) en Angola te gaan verken. “In Angola wil ons die Serra da Leba-pas gaan ry. Die Serra da Leba-bergreeks kom in die Namibe Provinsie van Angola voor, naby die stad Lubango. Die bergreeks is bekend vir sy hoogte en natuurskoon en natuurlik die asemrowende mooi Serra da Leba-pas.”

Fanie het ter afsluiting gesê dat, sover sy kennis strek, hy die eerste motorfietsryer van Louis Trichardt is wat die Ben 10 Eco-uitdaging gery het, terwyl Gerrit een van die eerste motorfietsryers in Tzaneen is om dit te doen.

 

 
 
 

Viewed: 1134

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT