ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Dries Nel (62). Foto verskaf.

Almal gaan hom mis

Date: 09 February 2020 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg treur hierdie week weer, dié keer oor die dood van welbekende mnr. Dries Nel (62) wat Maandag ná ‘n kort siekbed oorlede is.

“…binne ‘n uur toe is dit verby. Ons het dit glad nie verwag nie. Dit was baie skielik,” het Dries se lewensmaat van die afgelope 17 jaar, Elize van Straten, Dinsdag gesê. Die egpaar is welbekend as vennote in die bekende Mosaic Begrafnisdienste op Louis Trichardt, voorheen bekend as Martins Funerals.

Elize het vertel dat Dries verlede Donderdag, 30 Januarie, ná werk by die huis aangekom het en gekla het van naarheid en erge pyn. “Hy het gesê dit was iets ondraagliks,” het Elize gesê.

Elize het gesê sy was nog besig om vir hom iets te soek vir die naarheid, toe hoor sy hy is op die foon met dokter Anneke Malan. “Hy het vir haar gevra of sy nog by die spreekkamer is, want hy is op pad ... Ek wou bestuur, maar hy het gesê nee, hy ry ... By die spreekkamer [Prognos] aangekom, het dokter Casper Venter hom een kyk gegee en gesê: Dadelik hospitaal toe!” het Elize gesê.

Ná verskeie toetse is Dries nog dieselfde aand per ambulans oorgeplaas na die MediKliniek in Tzaneen. Dit wou voorkom asof galstene die oorsaak van die pyn was. “Ons het gedink dat as dit galstene is, hy dalk ‘n noodoperasie sal moet kry om dit te verwyder vroeg die volgende oggend,” het Elize gesê. Die dokter het egter vir Elize slegte nuus gebring. Volgens die dokter was daar infeksie in Dries se pankreas (pankreatitis) wat begin het om sy organe aan te tas. “Dit was binne ‘n kwessie van twee ure, toe is hy dodelik siek,” het Elize gesê.

Volgens Elize het die dokter haar meegedeel dat hulle weens die infeksie glad nie vir Dries kon opereer nie. Hulle moes ook met dialise begin, want in daardie stadium het die infeksie Dries se niere begin aantas. Dries moes ook aan ‘n ventilator gekoppel word om hom te help asemhaal, aangesien die infeksie ook vinnig na sy longe versprei het. “Die dokter het vir my gesê hy kan nie vir my sê dit sal beter gaan nie, maar dat ons moet hoop en vertrou,” het Elize gesê.

Dries se gesondheid het oor die naweek verder agteruitgegaan. Maandagoggend het dinge ietwat beter gelyk, maar hierdie beterskap was egter van korte duur. “Gistermiddag [Maandag] toe ek net ná drie daar aankom, want jy mag nie mense tussen 13:00 en 15:00 besoek nie, toe sê die suster vir my hulle het die dokter laat weet sy asemhaling het heeltemal afgeneem. Vroeër die dag kon hy nog spontaan self asemhaal. Hy het ‘n goeie kleur gehad en hy was by sy bewussyn … Ek het nog op die [WhatsApp] groep vir almal gesê dit lyk goed, daar is verbetering … binne ‘n uur toe is dit verby. Ons het dit glad nie verwag nie. Dit was baie skielik,” het Elize gesê. Dries is Maandag omstreeks 16:30 oorlede. Sy organe kon net nie teen die infeksie veg nie.

Dries en Elize het 16 jaar gelede vanaf Rustenburg, waar beide in die mynbedryf was, na Louis Trichardt verhuis. Hulle het hul pensioene saamgesit en ‘n Martins Funeral konsessie (franchise) gekoop. Meer onlangs het hul onderneming se naam verander na Mosaic Begrafnisdienste.

Dries sal veral onthou word vir die deernis waarmee hy elke persoon se begrafnis en die familie hanteer het. “Hy het soveel passie daarin gesit om die mense te ondersteun en te help,” het Elize gesê.

Dries was in lewe ook ‘n groot terggees. “Hy het altyd ‘n ietsie gehad om iemand ‘n streep te trek. Hy was omtrent vriende met almal en was lief om saam met sy vriende te kuier ... Hy het voluit gelewe en het nog soveel ambisies gehad vir hierdie jaar. Hy wou nog so graag sy kinders vat na waar hy skoolgegaan het, waar hy in die koshuis was en waar hy gebly het. Hy wou nog so ‘n samekoms met hulle gereël het,” het Elize gesê. Sy het bygevoeg dat Dries ook baie lief was vir jag, veral saam met sy kleinkinders.

‘n Gedenkdiens vir wyle Dries vind Donderdag, 6 Februarie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Hy word oorleef deur sy lewensmaat Elize, dogters Natalie (en skoonseun Quintin) en Antoinette, seun Johan (alombekend as Seun en skoondogter Penelopy), broer Martin en kleinkinders Mia, Ryan, Amorey, Arno, Xander en Ava.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die hele Soutpansberg-gemeenskap, insluitend mense van Levubu en Musina, vir hulle boodskappe, woorde van vertroosting, medelye en ondersteuning. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan drs. Casper Venter, Anneke Malan en Anton Stroebel, asook dr. Van der Merwe en die personeel van die MediKliniek in Tzaneen.

Dries se afsterwe laat beslis ‘n groot leemte in die Soutpansberg gemeenskap. “Almal gaan hom mis,” het Elize gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1391

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT