ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Sakeman van Louis Trichardt meen die rede hoekom meer en meer mense net hul vullis orals in die dorp op straat los, is weens die feit dat hulle moet betaal om dit by die munisipale stortingsterrein te gaan aflaai. Die park aan die bo-punt van Krugerstraat blyk deesdae ‘n nuwe stortingsterrein te wees.

Moenie jou tuinvullis vuil maak nie, anders betaal jy

Date: 31 January 2020 By: Andries van Zyl

Waarom moet ons ekstra betaal as ons wil help om Louis Trichardt netjies te hou?

Dit was die vraag van ‘n plaaslike sakeman wat ‘n ekstra fooi gevra is by die munisipale stortingsterrein toe hy vullis in die dorp se sentrale sakegebied opgelaai het en daar gaan aflaai het. “Dit gebeur al hoe meer dat mense, in sommige gevalle die personeel van herwinningsmaatskappye, besighede en huiseienaars se swartsakke oopskeur op soek na herwinbare materiaal. Dan word die sakke net so oop gelos en as die wind waai, waai die rommel die hele plek vol. Of die rondloperhonde dra gemors die wêreld vol,” het die sakeman, wat verkies het om anoniem te bly, gesê.

Volgens die sakeman is dit juis dié toedrag van sake wat hom aangespoor het om hand in eie boesem te steek en van die rommel op straathoeke op te laai en te gaan weggooi.

“Toe my werknemer egter by die stortingsterrein kom, sê hulle vir hom hy mag niks verniet daar stort nie. Ek het altyd gedink tuinvullis kan jy immers verniet daar gaan aflaai,” het die sakeman gesê.

Die werknemers is aangesê om ‘n bedrag van R32,50 te betaal alvorens hy die vullis kon stort. “Ek het later die geld gaan betaal, want hulle het sy registrasienommer gevat en gesê hy sal ‘n boete kry as hy nie gaan betaal nie,” het die sakeman gesê. Volgens die sakeman is dit geen wonder dat mense deesdae sommer net hul vullis op straathoeke en in parke los nie, aangesien hulle moet betaal om dit weg te gooi. Dit is nou vir die mense wat nie hul vullis op die dae uitsit wanneer die munisipaliteit verbykom om dit op te laai nie.

Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het by navraag gesê dat inwoners inderdaad moet betaal as hulle vullis by die stortingsterrein gaan aflaai. Skoon tuinvullis kan volgens Bobodi steeds gratis gestort word, mits dit nie met enige ander huishoudelike of bourommel besmet is nie. Andersins is ‘n fooi betaalbaar.

Bobodi het bevestig dat die fooi vir die storting van kommersiële of industriële vullis R32,50 per vrag is vir ‘n bakkie tot en met een ton. Vir voertuie bo ‘n een-ton laai kapasiteit is die bedrag R101,10 per vrag. “Geen kontant sal by die stortingsterrein ontvang word nie en mense kan van die munisipaliteit se kaartfasiliteit gebruik maak. Diegene wat kontant los, moet die direkte inkomste vorm invul. Betalingsbewyse sal in beide gevalle uitgereik word,” het Bobodi gesê.

 

 
 
 

Viewed: 956

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT