ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se Jan “Slang” van Rooyen met die pofadder wat hy Maandag by ‘n woning net buite die dorp op die Elim-pad gevang het. Foto verskaf.

Nat en warm weer laat slange baie meer “rondloop”

Date: 24 January 2020 By: Andries van Zyl

Die Bosveld is weer mooi groen ná lekker reën wat afgewissel word met soms uitermatige warm sonskyndae. Die nat weer en warm dae het egter ook daartoe gelei dat slange die laaste tyd heelwat meer bedrywig is.

Volgens plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen het hulle die afgelope twee weke verskeie oproepe ontvang van mense wat hulle skakel oor slange in erwe, huise en store. Van die slange wat hulle gaan vang het, het ingesluit ‘n pofadder en twee wipneus kobras.

Jan het gesê dat die huidige weerpatrone daartoe lei dat slange heelwat meer aktief is. “As hulle nie agter kos aan is nie, soek hulle skuiling. Met die baie reën raak skuilings nat en verspoel en soek die diere van die veld skuiling op ander plekke waar hulle dalk bietjie droog en beskut kan wees. Die reën het ook die paddapopulasie laat uitkom en honger slange volg die paddas,” het Jan gesê.

Jan en sy mede-slangvanger Frikkie Venter doen alles in hulle vermoë om probleemslange te vang en te hervestig. “Ongelukkig het ons ook gehoor van baie slange wat doodgemaak is,” het Jan gesê.

Volgens Jan-hulle besef hulle dat mense hulself en troeteldiere kan beskerm teen slange, maar het inwoners vermaan om versigtig te wees. “Wees op die uitkyk vir slange, maar ek vra weer dat mense nie slange voor die voet moet doodmaak nie. Kontak ons eerder om te help met probleemslange. Meeste slangbyte vind plaas wanneer mense slange probeer doodmaak en die nagevolge van ‘n byt kan hospitaalkoste tot gevolg hê. Hierdie kostes kan etlike duisende rande beloop, so die risiko is groot. Skakel eerder mense wat weet wat hulle doen en bly veilig,” het Jan gesê.

Jan het sy dank uitgespreek teenoor inwoners wat gehoor gee aan hulle versoek om nie slange net dood te maak nie. “Mense soos julle gee ons nuwe moed dat ons wel ‘n verskil maak,” het Jan gesê.

Jan se raad aan inwoners, indien hulle op ‘n slang afkom, is om ‘n veilige afstand te hou van die slang af. Dit is juis in sulke omstandighede dat dit belangrik is vir mense om Jan en Frikkie se telefoonnommers op hul fone te hê. “Hou die slang dop en kontak gerus vir myself of vir Frikkie,” het Jan gesê. Hy het onlangs weer na Louis Trichardt terug verhuis.

Alhoewel Jan en Frikkie ‘n diens lewer aan die gemeenskap, bly dit ‘n gevaarlike werk om mense veilig te hou. “Daarom vra ons vir ‘n donasie as ons moet uitgaan om ‘n slang te verwyder.  Baie dankie aan die mense wat nie skroom om ‘n donasie te gee nie,” het Jan gesê.

In geval van ‘n probleemslang, skakel Jan by tel. 081 217 9213 of Frikkie by tel. 082 058 7601.

 

 
 
 

Viewed: 1229

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Slangvanger Frikkie Venter met die wipneuskobra wat hy gevang het terwyl die slang jag gemaak het op die baba rot in sy ander hand. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT