ADVERTISEMENT:

 

 
 

Dave van Graan, afgeneem by sy eerste kampplek by Hippo Pools naby die Ruacana Valle in Namibië vanwaar hy beplan om sowat 800 km deur die afgeleë en dorre Kaokoveld woestyn te stap. Foto verskaf.

Dave se lang stap deur Kaokoveld begin

Date: 23 January 2020 By: Andries van Zyl

Avonturier Dave van Graan van Louis Trichardt het hierdie week sy jongste avontuur aangepak – om manalleen deur die afgeleë en dorre Kaokoveld in die noorde van Namibië te stap.

“Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ek vir my lang stap gaan. Vanjaar gaan ek deur die Kaokoland en Damaraland in Namibië stap. Ek sal begin stap by die Hippo Pools kampeerterrein naby die Ruacana valle. My stap sal my deur ongenaakbare, warm, droë woestynareas neem. Die totale afstand is ongeveer 800 km. Die moeilikste deel van die roete is oor Van Zyls Pas. Dit is rowwe, bergagtige terrein en die pad is uiters gevaarlik,” was die boodskap wat Dave Woensdagoggend op sy Facebook-blad geplaas het saam met ‘n paar foto’s van sy eerste kampterrein by Hippo Pools.  

Die 62-jarige Dave het al verskeie epiese staptogte aangepak om bewusmaking teen wildstropery, veral renosterstropery, te kweek. Begin verlede jaar het hy sowat 1 300 km gestap vanaf Ruacana op Namibië se noordgrens tot by die Victoria Valle in Zimbabwe. Aan die einde van 2016 het hy Namibië van suid na noord deurgestap, vanaf Roshi Pinah tot by die Kunene-rivier, ‘n staptog wat hom twee maande, vier dae en twaalf ure geneem het. Voor dit, in 2015, het hy sy eerste groot staptog aangepak deur vanaf Pretoria tot in Kaapstad te stap.

Dave se staproete begin by Ruacana, oor Van Zyls Pas, via plekke soos Marienfluss, Puros en Palmwag, tot by Kamanjab (wat “klipperige plek” beteken). Klipperig gaan die stap beslis wees, tot so ‘n mate dat sy getroue driewiel “metgesel”, die Bart Mobile, oorgebou moes word na ‘n tweewiel weergawe, die Bart Mobile ‘Merk 2’ wat makliker hanteerbaar sal wees in die rowwe bergagtige terrein. Weens die afgeleënheid van die area, sal Dave feitlik al sy proviand moet saamdra. Gelukkig het hy darem vooraf met die plaaslike stamhoofde van die bekende Himba-stam gereël vir watervoorsiening op seker punte van die staproete.

Soos met sy vorige staptogte sal Dave se hooffokus weer bewusmaking teen stropery wees. Hy sal ook weer met ‘n sender toegerus wees waarmee sy vordering gemeet kan word. Om sy vordering te volg, gaan na die Internet-skakel https://eur-share.inreach.garmin.com/davewalkabout. Die Zoutpansberger sal ook sy vordering volg.

 

 
 
 

Viewed: 756

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Dave van Graan by sy nuwe Bart Mobile ‘Merk 2’, wat vanaf ‘n driewiel na ‘n tweewiel weergawe aangepas moes word vanweë die rowwe en klipperige, bergagtige terrein waardeur Dave gaan stap. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT