ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tannie Elsa Lombaard (links) en oom Louis Shaw (regs), bekyk die skade ná Dinsdagaand se brand in tannie Elsa se woonstel.

Tannie Elsa se Kersfees-tragedie

Date: 15 December 2019 By: Veruscka van der Linde

Was dit nie vir iemand by Roman’s Pizza se oplettendheid nie, het tannie Elsa Lombard (75) van die Laat Lente aftreeoord in Louis Trichardt se woonstelletjie Dinsdagaand tot op die grond afgebrand.

Tannie Elsa het Woensdagoggend vertel van die skokgebeure die vorige dag. Iemand by Roman’s Pizza oorkant die pad by die Makhado Crossing sentrum het digte rookwolke by die oord sien uitborrel. Hulp is dadelik ontbied en by nadere ondersoek is gevind dat dit tannie Elsa se woonstelletjie is wat in vlamme is. Tannie Elsa was nie tuis nie, want sy het haar huishulp en dié se kleinkind Tshikota toe geneem weens die hewige reën. “Ek wou nie dat hulle in die reën loop nie,” het sy gesê. In daardie stadium was die krag ook nog af gewees as gevolg van die beurtkrag wat die afgelope tyd Suid-Afrikaners se lewens versuur.

Toe tannie Elsa weer by haar woonstelletjie stop, het sy gewonder wat aangaan. Swart rookwolke het orals uitgeborrel, maar gelukkig was lede van die Soutpansberg Dorpswag in ‘n oogwink daar om te help. “Ek kan eerlikwaar sê ek is stomgeslaan oor hoe puik die buurtwag was. Hulle almal het so vinnig as moontlik probeer help waar hulle kon,” het tannie Elsa gesê.

Alhoewel die brand redelik vinnig onder beheer gebring kon word, was daar baie skade. Te midde van swartgebrande mure en gebreekte vensters het tannie Elsa gesê sy is baie hartseer oor die skade wat die brand veroorsaak het. “Tog is ek gerus in my hart dat alles weer sal regkom,” het tannie Elsa gesê. Na sowat ‘n minuut se stilte, terwyl sy na die skade kyk, voeg sy by: “Dit is daardie klein goedjies wat nou weg is wat ‘n mens nie kan vervang nie.” Sy het beduie na haar foto’s en herinneringe uit die verlede.  

Afgesien daarvan dat meeste van haar huisinhoud deur die vlamme verswelg is, is tannie Elsa meer ontsteld oor haar kat. Dié was in die woonstel tydens die brand en moes na die Blouberg Dierekliniek geneem word vir behandeling.

Die vuur kon nie op ‘n slegter tyd gekom het nie. Met Kersfees om die draai sou tannie Elsa Woensdag op ‘n kort vakansie gegaan het. Haar planne is egter deur die vuur in die wiele gery, met haar tas en vakansieklere wat ook in die slag gebly het.

Oor die oorsaak van die brand is daar baie bespiegelinge. Volgens tannie Elsa wil dit lyk asof daar ‘n kortsluiting by haar televisie plaasgevind het toe die krag weer aangekom het. Oom Louis Swan, wat in beheer is van veiligheid by Laat Lente en Herfsakker, het die Zoutpansberger eenkant toe geneem na ‘n kragboks en gewys hoe gebrand die drade binnekant is. Hy het gesê dat die huisies aan die munisipaliteit behoort en dat dit baie moeilik is vir hulle om toestemming te kry om self instandhouding te doen. Dit het ‘n situasie tot gevolg gehad dat geen instandhouding van huisies eintlik meer gedoen word nie. “Die huisies is oud … Ons sukkel ook al weke lank met ons straatligte wat nie werk nie,” het hy gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1707

 

 
 

Veruscka van der Linde

 
 

More photos... 

Die gebrande drade in die hoofkragboks by Laat Lente en Herfsakker. Buiten vir ander kragprobleme, sukkel die inwoners al weke om hulle straatligte herstel te kry.

Swartgebrande mure was Woensdag 'n stille herinnering aan die brand wat byna die hele woonstel in puin gelê het.

“Dit is daardie klein goedjies wat nou weg is wat ‘n mens nie ken vervang nie,” het tannie Elsa Lombard gesê. Sy het verwys na haar foto’s en herinneringe uit die verlede.  

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT