ADVERTISEMENT:

 

 
 

Gaan Eskom hierdie feestyd nuwe betekenis gee aan Kers-fees?

Verbruikers betaal duur prys vir Eskom se beurtkrag

Date: 14 December 2019 By: 

Deur: Veruscka van der Linde en Elardus van Zyl

Eskom het onlangs weer beurtkrag in werking gestel en vir die eerste keer in die geskiedenis is Fase 6 beurtkrag Maandag aangekondig. Dit het as baie slegte nuus gekom veral vir vuisvoos Suid-Afrikaanse besigheidseienaars wat reeds sukkel om kop bo water te hou in ‘n sukkelende ekonomie.

Die Zoutpansberger het Dinsdag by ‘n paar besighede in Louis Trichardt gaan inloer om te hoor hoe beurtkrag die afgelope week hul sakebedrywighede beïnvloed het.

Die eerste stop was by Action Ford. Ongelukkig, volgens Maggie van der Linde (verkoopsbestuurder) en Marius Prinsloo (voorraadkontrole), het Action Ford nie ‘n kragopwekker wat krag voorsien wanneer beurtkrag toegepas word nie. Marius het gesê dat die vorige Ford gebou ‘n groot kragopwekker gehad het wat hulle jare gelede omtrent R120 000 gekos het. Hulle voel beslis die negatiewe impak van beurtkrag. “Ons kan nie eers ‘n kar kontant verkoop nie, omdat al ons stelsels elektrisiteit nodig het om transaksies te prosesseer,” het Maggie gesê.

Buiten ‘n verlies aan inkomste, benadeel beurtkrag besighede ook op ander maniere. Soos hulle sê, “It takes money to make money”, en so kos dit besighede ongelooflik baie om na alternatiewe bronne van krag te kyk in tye van beurtkrag.

Die eienaar van Archer Paint Centre, mnr. Mark Archer, het gesê hy gebruik tans tussen 10 en 15 liter petrol ‘n dag om sy kragopwekker aan die gang te hou. Dit werk uit op tussen R200 en R300 per dag. Mark het gesê sy grootste frustrasie met beurtkrag is dat kliënte aanneem sy toerusting, soos sy kaartmasjiene en masjiene wat die verf meng, werk nie omdat daar beurtkrag is. “Mens betaal vir krag, so jy moet krag kry,” het Mark gesê. (Terloops, Archer Paint Centre verkoop twee modelle kragopwekkers, ‘n 5.5Kva wat R8 700 kos en ideaal is vir basiese tuisverbruik, uitgesluit jou stoof en geiser. Dan is daar ook ‘n 6.5Kva teen R10 000. Hierdie een is beter geskik vir groter besighede en jy kan selfs krag verskaf aan jou geiser en stoof).

Nog ‘n plaaslike besigheid wat nie kan bekostig om hul deure te sluit weens beurtkrag nie, is Soutpansberg Spar. Mnr. Chris de Beer (algemene bestuurder) het die Zoutpansberger ‘n agter-die-skerms-kykie gegee na wat hulle alles moes doen om die deure oop te hou.

Volgens Chris wil hulle steeds die beste diens aan hulle kliënte lewer, ten spyte van beurtkrag. Dit kom egter teen ‘n prys. Hulle reuse kragopwekker gebruik tans tussen 40 en 60 liter diesel per uur om al hul koelkamers en toerusting konstant aan die gang te hou in gevalle van beurtkrag. Teen R14,58 (AA tarief soos op 4 Desember 2019) per liter kan lesers maar die sommetjie maak hoeveel dit hulle per uur kos.

Chris het gesê dat alhoewel meeste van hulle rekenaars UPS’e het wat hulle help wanneer beurtkrag toegepas word, kroniese kragonderbrekings hulle ander masjiene soos yskaste beskadig. ‘n Paar maande gelede moes hulle hul industriële ysmasjien teen duurste laat regmaak weens kragonderbrekings.

Die Zoutpansberger se volgende stop was by Mount Fuji vulstasie. Volgens eienaar mnr. John le Cornu het hulle twee 65kW drie-fase kragopwekkers, een vir die vulstasie en een vir die Nissan-agentskap, aangeskaf om die probleem van kragonderbrekings die hoof te bied. Hierdie kragopwekkers kos die besigheid tans tussen R400 en R500 elk ekstra per dag aan dieselkoste weens beurtkrag. John het ook die probleem uitgelig van skade wat aan elektriese toerusting aangerig word weens die kroniese beurtkrag.

Alhoewel groter besighede kragopwekkers kan bekostig, kan baie kleiner besighede net nie die ekstra uitgawe absorbeer nie. Een van hulle is U-Print. Volgens bestuurder Carin Nel het hulle ‘n klein kragopwekker aangeskaf, maar dié is net nie sterk genoeg om elektrisiteit aan al hul toerusting te voorsien nie. Volgens hulle is dit dus nie eers die moeite werd om die kragopwekker aan te skakel tydens beurtkrag nie. Dit het ‘n geweldige negatiewe impak op hul besigheid. “Ons moet ongereelde ure werk wanneer die krag weer aankom, soos byvoorbeeld vroegoggend vanaf vyfuur tot seweuur en laataand na half sewe,” het Carin gesê.

Seker een van die belangrikste plaaslike instansies wat nie kan bekostig om sonder elektrisiteit te wees nie, is die Zoutpansberg Privaathospitaal. Mnr. Mark van Zyl, wat betrokke is by die instandhouding van die hospitaal, het gesê dat die kroniese kragonderbrekings ‘n baie negatiewe impak het op watervoorsiening, asook die instandhouding van die koelkamers waar hul medikasie gestoor word. Om die probleem die oorkom, het die hospitaal twee groot kragopwekkers (waarvan een net op bystand is). Gelukkig, het Mark gesê, word die hospitaal sowat ‘n halfuur tot driekwartier voor die tyd ingelig dat ‘n kragonderbreking (of beurtkrag) gaan plaasvind, sodat hulle kan seker maak alles is in plek.

 

 
 
 

Viewed: 1675

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT