ADVERTISEMENT:

 

 
 

Water-oorlog dreig

Date: 08 December 2019 By: Andries van Zyl

‘n Water-oorlog is aan die broei in Louis Trichardt, met inwoners wat nou al behoorlik keelvol is vir droë krane en flou verskonings van die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM). Dit het duidelik geblyk op talle sosiale mediaplatforms die afgelope week.

Op die “Louis Trichardt Water Shedding” Facebook-blad het dit behoorlik gegons met kommentaar en dreigemente … en nie net ten opsigte van die VDM nie. Daar was ook dié wat die optrede van sommige inwoners bevraagteken het wat water verniet gaan tap by Afriforum se boorgat in die park op die hoek van Del La Rey- en President Steynstraat en dan aan ander inwoners “verkoop”. Sommige inwoners het foto’s van registrasienommers op die Facebook-blad geplaas van “oortreders”. Hulle het gemeen die water kan nie verkoop word nie, want dit is dan verniet. Ander het weer gemeen die geld wat gevra word is bloot vervoerkoste, omdat mense sekerlik nie verniet vir almal kan water aflewer nie. Dit blyk egter dat die herrie hieroor ietwat bedaar het intussen.

Inwoners se grootste frustrasie is en bly steeds die VDM, met talle wat meen dié instansie bestaan nog net in naam. Die afgelope week was daar weer kronies geen water nie, met sommige inwoners wat meen hulle het drie weke laas water in hul krane gehad. “Wanneer sal ons weer water hê? Ons moet elke maand water betaal - water wat ons nie eers gebruik nie, want daar is nie water nie. Dan moet mens nog water koop om in jou tenk te kry. Asseblief, ons kan nie so aangaan nie. Dit raak nou belaglik. Elke keer dieselfde ou storie van die pype. Kry dan mense wat weet wat hul doen om die pype reg te maak. Louis Trichardt se mense raak nou gatvol vir dieselfde ou storie,” het Magriet Du Preez op die “Louis Trichardt Water Shedding” Facebook-blad geskryf. Haar kommentaar het heelwat reaksie ontlok, met inwoners wat gemeen het mense moet net ophou vir water te betaal, want hulle kry in elk geval nie water nie. Dit was ook in reaksie op die VDM se manier om buitensporige rekenings vir water aan mense te stuur.

Volgens Helena van den Heever het die VDM vir haar ‘n R10 000 agterstallige waterrekening gestuur, ten spyte van die feit dat haar huis nie meer aan munisipale water gekoppel is nie en sy slegs gebruik maak van haar boorgat. “Ek het hulle gesê ek sien hulle in die hof. Ek is gatvol om net te betaal vir geen dienste gelewer. Ek het ses maande terug gebel en e-posse met foto’s gestuur van ‘n waterlek aan hulle kant van my muur wat al wil omval. Hulle ignoreer dit net. Miskien moet ek begin mielies plant op die sypaadjie,” het Van den Heever gesê.

In ‘n stadium het DA-raadslid Brian du Plooy op die Facebook-blad probeer lig werp op die probleem deur te sê dat munisipale werkers tot twee-uur Dinsdagoggend gewerk het om ‘n stukkende waterpyp in Flamboyantstraat reg te maak. Hy het bygevoeg dat ‘n kragonderbreking by die pompstasie ook watertekorte veroorsaak het. “Brian, ek is jammer. Vir drie weke het ons nie water nie. Eers die pomp, toe ‘n pyp en nou weer ‘n pyp. Dit is belaglik, om die minste te sê. Ons het water vir 90 minute een dag gehad. Steeds gee hulle net verskonings, sonder oplossings,” was Estie Sounes se reaksie op Du Plooy se verduideliking.

 In een stadium het die gesprek op die Facebook-blad gehandel oor die moontlike stigting van ‘n “eie” waterraad wat watervoorsiening moet oorneem by Vhembe, soortgelyk as wat die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging ‘n paar jaar gelede gedoen het om die Makhado Munisipaliteit te dwing om dienste te lewer.

Wat VDM se swak dienslewering betref, was die algemene gevoel dat almal kla, maar niks word ooit gedoen nie. “Sommige munisipaliteite moet net hulle deure sluit. Ons sien nie hulle doel nie. Ons lewens sal beter daaraan toe wees as ons weet ons moet geen dienslewering van hulle verwag nie. Hulle mors net belastingbetalers se geld…” het Elton Makhadi op die Facebook-blad geskryf.

Wat die mees onlangse onderbreking veroorsaak het, het VDM woordvoerder mnr. Moses Shibambu Dinsdag gesê die onderbreking is veroorsaak deur ‘n gebarste pyp, maar dat die pyp reggemaak is en dat hulle dieselfde dag weer sou begin om water te pomp.  

 

 
 
 

Viewed: 1037

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT