ADVERTISEMENT:

 

 
 

Foto’s van goeie reënneerslae oor groot dele van die Kruger Nasionale Wildtuin Maandagaand, onder andere by Orpen, Satara en Punda Maria, is Dinsdag deur SANParke op Facebook gedeel. Foto: SANParke.

Elke druppel help en bring vreugde

Date: 15 November 2019 By: Andries van Zyl

Boere, tuiniers - basies almal - het hierdie week ‘n sug van verligting geslaak ná wydverspreide reën oor meeste dele van die droogtegeteisterde Soutpansberg van Maandagaand tot Dinsdagoggend.

In Louis Trichardt het party se reënmeters vir die eerste keer in maande meer as enkelsyfer reënneerslae gemeet. Hier is neerslae van tot 20 mm gerapporteer. Levubu se kant toe was die reënvalsyfers heelwat minder. Volgens Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, het hy 6 mm op sy plaas gemeet. Ander Levubu-boere het syfers van 2 mm en 3 mm gerapporteer. Vanaf Waterpoort is berig ontvang van 5 mm.

Dit wil voorkom asof die Vivo-omgewing en dele noord van die Soutpansberg heelwat beter reën ontvang het. Vanaf Vivo-wes het Japie van der Goot laat weet dat hy Maandagaand so tussen 10 mm en 12 mm gehad het, maar 40 mm oor die naweek, met stormskade. Arthur Blofield, ook van die Vivo-omgewing, het Maandagaand 10 mm gemeet, asook 28 mm verlede Vrydagaand.

Op Facebook het ‘n foto die ronde gedoen van die Musina/Tshipise-pad wat onder water was na sowat 70 mm oor die naweek daar uitgesak het. “Ek het ook hiervan gehoor, maar kon dit nog nie bevestig nie,” het Havinga gesê. Wat wel bevestig kon word, is goeie reënneerslae oor groot dele van die Kruger Nasionale Park, met SANParke wat foto’s op Facebook gedeel het van stormwater en uiters nat toestande by onder meer Orpen, Satara en Punda Maria Dinsdagoggend.

Tans heers groot opgewondenheid dat nog goeie reën vir die streek op pad is. “Mense kan voorspel, maar ek bly wat ek verlede jaar gesê het. Ons het ten minste twee of drie goeie reënjare nodig voordat ons kan sê die droogte in die streek is gebreek,” het Havinga gesê.

Havinga bly optimisties dat die reën op pad is. “As mens kyk na die weerpatroon sien mens warm, tropiese lug word vanaf Angola ingetrek. Dit is nie kouefronte nie. Die klimaat het gedraai en gewys daar kom nog reën. Die reën kan nie vir altyd wegbly nie, so daar is hoop,” het Havinga gesê. Intussen, het hy gesê, is dit ‘n kwessie van elke druppel help.

* Teen druktyd Woensdagoggend het nog goeie reën oor die streek begin uitsak. In Louis Trichardt is daar deur die dag op plekke tot 38 mm gemeet. 

 

 
 
 

Viewed: 1342

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT