ADVERTISEMENT:

 

 
 

“Deur enige verbintenis aan hierdie besluit sal hulle saam met die AS 2019, medeskuldig aan hulle sonde en misdryf wees, en hulle volgens Rom. 1:18–32 onder die oordeel van God stel,” het die Ring van Louis Trichardt gesê.

Ring sê Algemene Sinode se besluite is sonde

Date: 01 November 2019 By: Andries van Zyl

Die Ring van Louis Trichardt het die afgelope week gesê hulle sien die NG Kerk se Algemene Sinode (AS) se onlangse 2019 besluite oor selfdegeslagverbintenisse as sonde, omdat dit geslagtelike gemeenskap buite die Bybelse huwelik goedkeur, en die besluite nie versoenbaar is met die landswette nie.

Ingevolge die AS se besluit moet daar ruimte gelaat word vir gemeentes, kerkrade en predikante om self te besluit of hulle burgerlike verbintenisse met mense van dieselfde geslag wil voltrek. Die AS het ook kerkrade aangemoedig om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe, toegang tot die sakramente, integriteit van verhoudings, en geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem, ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en identiteit.

Die Ring van Louis Trichardt, onder voorsitterskap van ds. Petrus Kriel, het hulle egter sterk uitgespreek teenoor hierdie besluite in ‘n verklaring. Dit is die mening van die Ring dat hierdie besluit kan lei tot tweespalt binne die kerk en selfs kerkskeuring.

Volgens die Ring plaas die AS se besluite elke lidmaat, kerkraad en predikant in konflik met die land se wette deurdat die AS beide die landswette oor huwelike en die Civil Union Act aanvaar as die geldende openbare reg vir die NG Kerk in sy geheel. “Die AS matig homself die siviele reg aan om predikante en kerkrade wat nie met hierdie landswet saamstem nie, in sekere gevalle vry te stel van die Civil Union Act wat deur die AS as geldende reg van die land erken word,” lees die Ring se verklaring. Weens die ooglopende konflik het die Ring gesê dat die AS 2019 besluite regtens die landswette onuitvoerbaar is. “Hiermee aanvaar die AS die landswette maar gee sy vergaderinge en lidmate die ruimte om hulle teen die geldende reg te verset. Hierdie innerlike teenstrydigheid in terme van geloof en gehoorsaamheid aan die Here, is niks anders as anargie nie,” het die Ring in hul verklaring gesê.

Volgens die Ring het die AS met die onnadenkende oopstelling van legitimasie en die ampte “ongeag seksuele oriëntasie en identiteit” ook ‘n grys area geskep wat die deur oopmaak vir enige iemand van watter seksuele oriëntasie ook al, self pedofilie.

Die Ring het verklaar dat geen kerklike vergadering besluite wat sondig en wederregtelik is, met die gesag van die kerk kan neem of bindend maak nie. “ʼn Besluit wat sondig is, sonde regverdig en verset teen die wet van die land is, val buite die mandaat en plig van die enige kerklike instelling, vergadering of gesag. Daarom is die besluit van die AS 2019 regtens en kerkordelik geen besluit nie. As ʼn sonde is dit beide ʼn oortreding van die wet van God en die wet van die land,” het die Ring onder meer in sy verklaring gesê.

Die Ring het sy kerkrade, predikante en lidmate daarop gewys dat hulle op geen wyse hulself met hierdie AS 2019 besluit oor selfdegeslagverbintenisse mag verbind nie. “Deur enige verbintenis aan hierdie besluit sal hulle saam met die AS 2019, medeskuldig aan hulle sonde en misdryf wees, en hulle volgens Rom. 1:18–32 onder die oordeel van God stel,” het die Ring se verklaring onder meer gelees. Hulle het gesê dat die sondigheid van hierdie dubbelslagtige besluit van die AS 2019 ten diepste daarin lê dat die ware God in hierdie eiewillige besluite “net ʼn marionet word wat moet dans na die wil van mense, en daardeur ‘n afgod word sonder ‘n eie wil”.

Die Ring het egter lidmate daarop gewys dat die vergadering van die AS 2019 net een vergadering van die AS is en nie die instelling van die AS in sy geheel verteenwoordig nie. “Daarom roep die Ring van Louis Trichardt lidmate, predikante, kerkrade, ringe en sinodes op om hulle te distansieer van slegs hierdie een sonde in een vergadering van die AS en om die AS as ons eie kerk se instelling vir ons eie kerklike verband te handhaaf en te respekteer,” het die Ring gesê. (Diegene wat graag die Ring van Louis Trichardt se volle verklaring wil lees, is welkom om dit te gaan aflaai by die NG Kerk Levubu se webblad by ngkerklevubu.co.za).

 

 
 
 

Viewed: 1902

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT