ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Hoekom is huur so duur?

Date: 27 October 2019 By: Veruscka van der Linde

Meeste mense sal saamstem dat huurhuise se pryse in Louis Trichardt onbekostigbaar duur geword het. Die dorp het steeds nie genoeg behuising beskikbaar vir almal nie en self die kleinste huisies wat beskikbaar is sal ‘n jongmens se hele salaris opvreet.

Die Zoutpansberger het bietjie gaan uitvind by twee bekende plaaslike eiendomsagente juis waarom huur so duur is.

Volgens Marita Gibson van Harcourts is pryse van huurhuise hoog omdat die eiendomme se markwaardes hoog is.  Sy het bygevoeg dat munisipale erfbelasting, versekering, munisipale heffings en maandelikse instandhouding van eiendomme ook nie goedkoop is nie, terwyl stygende rentekoerse ten opsigte van huisverbande en oordragkoste ook die prys kan opjaag. Nog ‘n faktor wat die prys van huur bepaal, is toestand en ligging. Gibson het gesê dat daar ‘n tekort is aan huureiendomme wat in ‘n goeie toestand is en bekostigbaar is vir huurders.

Gwen Loots van Realty 1 het bogenoemde beaam, dat huiseienaars se basiese uitgawes toeneem en dat hierdie stygende koste dan na die huurder oorgedra word. Wat die beskikbaarheid van huureenhede betref, het Loots gesê dat daar in haar 20 jaar hier nog altyd ‘n tekort aan behuising in die dorp was. Dit ten spyte van ‘n geweldige toename in die bou van woonstelkomplekse in die dorp.

Op sosiale media sien mens gereeld dat mense op soek is na “goeie en bekostigbare” blyplek in die dorp. Buite die dorp is wel blyplek beskikbaar teen meer bekostigbare pryse, maar dit is nie vir almal ‘n alternatief nie. Veiligheid blyk die grootste rede te wees waarom baie mense nie belangstel om blyplek op plase te huur nie.

Wat staan ‘n jong paartjie wat blyplek op Louis Trichardt soek dan te doen?

Volgens Gibson is daar tans heelwat ontwikkelaars wat enkelkamer wooneenhede bou wat heel bekostigbaar sal wees vir jong paartjies en enkellopende mense. Om kostes te spaar kan mense ook besluit om huurpersele te deel. Kleiner huureenhede in plaas van groot huise is ook ‘n opsie om geld te spaar. Kleiner eenhede se water en elektrisiteitsverbruik werk ook in die algemeen goedkoper uit.

Dan is daar baie mense wat glo dit is beter om te koop as om oor die lang termyn te huur. Loots meen egter dat dit steeds goedkoper is om in Louis Trichardt te huur, aangesien die huurpaaiement op 'n gemiddelde huis met drie slaapkamers steeds 'n paar duisend rand per maand laer sal wees as die maandelikse terugbetaling op 'n 20 jaar huislening. Gibson sê ook dit is goedkoper om te huur, aangesien die huurder nie verantwoordelik is vir ekstra uitgawes wat deur die huiseienaar betaal moet word nie.

Nog raad wat Loots vir huurders gehad het, was om betyds hulle maandelikse huur te betaal. Meeste agentskappe maak ingevolge die Nasionale Kredietwet ‘n aantekening van swak betalers, wat teen ‘n huurder sal tel as hulle op soek is na ‘n huurperseel.

Vir meer inligting oor bogenoemde, skakel Gibson by 015 516 1526 of Loots by 015 516 3160.

 

 
 
 

Viewed: 1325

 

 
 

Veruscka van der Linde

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT