ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die hitte het Maandag inwoners van die Soutpansberg en omstreke na hul asems laat snak, met die kwik wat bokant 40º C gedraai het. Die warm, winderige weer was (en bly steeds) gunstig vir wegholveldbrande soos by die Hoffmans se plaas Rondebosch (foto verskaf). Groot skade is beperk danksy al die hulp om die vlamme onder beheer te kry.

Reën bly skaars en kwik bly styg

Date: 25 October 2019 By: Andries van Zyl

Inwoners van die Soutpansberg het Maandag ‘n voorsmakie gekry van wat die somer vir hulle kan inhou met die kwik wat tot bokant 40º C gestyg het.

Van oral is berig ontvang van uitermatige hoë temperature. Op Louis Trichardt het die kwik bokant 42°C gedraai en vanuit die Musina-omgewing was daar berig van temperature van tot 47°C. By die Mara weerstasie is Maandag ook ‘n nuwe rekord opgeteken met die kwik wat tot 41.7°C gestyg het. Die vorige hoogste temperatuur daar is 59 jaar gelede aangeteken (41.6°C).

Die buitengewone warm en winderige weer het Maandag weer plek-plek wegholveldbrande tot gevolg gehad. ‘n Baie dankbare Lana Hoffman van die plaas Rondebosch het Maandagaand almal bedank wat hulle te hulp gesnel het met ‘n veldbrand op die plaas vroeër die dag. “Ons kon graat skade gehad het as dit nie vir almal se hulp was nie,” het Hoffman gesê. Dieselfde dag is ook gespook om ‘n veldbrand op die Vondeling-pad onder beheer te kry. Dinsdag en Woensdag se koeler en nat weer kon derhalwe vir baie nie op ‘n beter tyd gekom het nie.

Op die reënfront lyk dinge ook stil, met geen vooruitsigte vir goeie neerslae in die nabye toekoms nie. September vir die vere noorde was maar baie droog, met Polokwane en Mara wat onderskeidelik 1% en 2% van hulle normale September reënval gekry het.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se langtermyn voorspelling vir Oktober tot Februarie 2020 is die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO) tans in ‘n neutrale fase en sal dit na alle waarskynlikheid neutraal bly vir die komende somerreënseisoen. Die SAWD het gesê dat, as gevolg van hierdie neutrale fase, dit baie moeilik is om enige voorspellings te maak.

Tog het die SAWD gesê dat onder-gemiddelde reënval verwag word oor die sentrale en suid-oostelike gedeeltes van die land in die laat lente (Oktober tot Desember). Goeie nuus is egter dat bo-gemiddelde reënval verwag word vir die vroeë somer (November tot Januarie) in die sentrale en oostelike gebiede van die land, wat sal voortduur tot in die middel van die somer (Desember tot Februarie).

Wat temperature betref, het die SAWD gesê dat temperature meestal hoër as normaalweg sal wees in die vroeë lente tot middel somer vir die mees noordelike gedeeltes van die land.

Ten opsigte van die langtermyn voorspelling het die SAWD gesê hulle sal die situasie monitor en meer inligting deurgee sodra daar meer duidelikheid kom oor die huidige verwagtinge.

 

 
 
 

Viewed: 1124

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT