ADVERTISEMENT:

 

 
 

In hierdie skermgreep kan duidelik gesien word hoe een rower by die deur die kliënte en kassiere beveel om plat te lê, terwyl ‘n tweede rower om die toonbank hardloop. Links staan die ou oom wat doodluiters die rowers ignoreer het. ‘n Kort video van die roof is beskikbaar op die koerant se webblad by www.zoutpansberger.co.za.

Dit was alles oor in net meer as ‘n minuut

Date: 04 October 2019 By: Andries van Zyl

Palm Drankwinkel in Louis Trichardt het Vrydagmiddag die jongste slagoffer geword van ‘n gewaagde gewapende roof.

Die drama het omstreeks 13:40 ontvou. Op die onderneming se sekuriteitskameras  kan gesien word hoe ‘n wit Toyota bakkie met een gemaskerde persoon agter op die bak inry en voor die drankwinkel stop. Die persoon agter op die bak spring eerste van die voertuig af en hardloop met ‘n vuurwapen in die hand die drankwinkel binne. Kort op sy hakke spring nog twee gemaskerde rowers uit die bakkie, waarvan een ook die winkel inhardloop en die tweede een buite waghou. In die bakkie wag ‘n vierde rower agter die stuurwiel.

Binne die winkel is van die kliënte en die twee kassiere beveel op plat op die grond te lê. Een ouerige kliënt het egter doodluiters bly staan. Die twee rowers het vinnig om die toonbanke gehardloop, die kasregisters se laaie leeggemaak en ook die kontant wat in daardie stadium bo-op die kluis gelê het, gesteel. Die een het sommer vir hom ook ‘n sak vol sigarette bymekaar gemaak. Die drie rowers het daarna teruggehardloop na die bakkie toe, ingespring, ‘n skoot afgevuur en weggejaag. Alles was oor in net meer as ‘n minuut.

Volgens Nardus Barnard van  Palm Motors het hulle lanklaas sulke drama op hulle perseel gehad. Hy onthou hoe rowers by twee vorige geleenthede die sekuriteitsvoertuie beroof het wat onder meer hulle kontant vervoer het. “Maar dit was baie jare gelede en nie hier by ons nie. Meestal sukkel ons hier net met inbrake,” het Barnard gesê.

Barnard sê hy het so 15 minute voor die roof gery om sy dogtertjie te gaan oplaai wat by oupa en ouma gekuier het. “Toe ek hoor van die roof, het ek onmiddellik die dorpswag in kennis gestel en hulle het dadelik die woord versprei dat daar so ‘n insident plaasgevind het. Die polisie was ook redelik vinnig op die toneel, asook hulle vingerafdrukmense wat die patroondoppie buite opgetel het. Dit was ‘n onaangename voorval, maar ons het darem goeie reaksietyd gehad,” het Barnard gesê.

“Die roof was goed beplan. Ons is baie dankbaar niemand het seergekry nie,” het Barnard gesê. Hy was veral verras oor die ou oom wat bloot die rowers in die winkel ignoreer het. “Hy het seker vir homself gesê ‘Hulle is nie hier vir my nie’ en aangegaan met sy inkopies,” het Barnard gesê. Met die een rower wat buite ‘n skoot afgetrek het, is dit ook ‘n wonderwerk dat niemand getref is nie. Op die sekuriteitsvideo kan duidelik gesien word hoe omstanders koes toe die skoot klap. “Ek dink die skoot buite was per ongeluk gewees. Hy het vir niemand gemik nie,” het Barnard gesê en bygevoeg dat hulle ná die tyd gaan kyk het waar die koeël vasgeslaan het. “Daar het drie bakkies voor die gebou gestaan. Ons vermoed die koeël is in een van die bakkies in, want ons kan niks op die gebou sien nie,” het Barnard gesê.

Die rowers het op die vlug geslaan met ‘n redelike bedrag geld en paar bokse sigarette. “Buiten dat dit Vrydag was, was dit ook maandeinde, so ons was baie besig gewees,” het Barnard gesê. Die verlies aan inkomste is nou die versekeraar se kopseer.

Barnard was heel pragmaties daaroor of hy ná dese die sekuriteit op die perseel verder gaan opskerp. “Ons kan nie veel meer doen nie. Die deure moet oop bly. Jy kan seker ‘n sekuriteitsmaatskappy aanstel op jou perseel, maar dit skep ook ‘n situasie waar jy ‘n teiken word. Dit is hoekom ek ook nie ‘n wapen dra nie. As jy wapens op jou perseel het, is daar ‘n groter gevaar. Die ouens kom dan, trek eers die skote af, en dan kyk hulle wat hulle kan steel,” het Barnard gesê.

Teen druktyd het Barnard gesê dat hy nie bewus was van enige arrestasies wat in verband met die roof gemaak is nie. “As daar was, weet ek nie daarvan nie,” het Barnard gesê. Hy het egter sy dank uitgespreek teenoor die polisie en die dorpswag vir hulle vinnige reaksietyd. “Ons vra die gemeenskap dat indien hulle oor enige inligting oor die roof beskik, hulle dit dadelik aan die polisie sal verskaf,” het Barnard gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1104

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Twee van die drie gemaskerde rowers wat verlede Vrydag Palm Drankwinkel beroof het is op sekuriteitsvideo vasgevang. In die agtergrond regs is die wit Toyota bakkie waarmee die rowers gevlug het. ‘n Kort video van die roof is beskikbaar op die koerant se webblad by www.zoutpansberger.co.za.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT