ADVERTISEMENT:

 

 
 

Verlede week het digte rookwolke in Louis Trichardt gehang weens ‘n veldbrand langs Ridgeway College in Leeustraat. Die vlamme het oorgespring na die kollegeterrein en in ‘n stadium die kollege se koshuis bedreig.

Nie nou die tyd om oop vure te maak nie

Date: 20 September 2019 By: Veruscka van der Linde

‘n Vlam kan spring, en heelwat verder as wat ‘n mens kan dink. Daarom word inwoners herinner aan die brandverbod op die maak van oop vure wat tans van krag is.

Alhoewel die winter verby is en die lentebloeisels begin uitstoot, is die veld nog baie droog. Juis daarom word die brandverbod op die maak van oop vure gedurende hierdie tydperk ingestel. Die verbod word gereguleer deur die Veld en Bosbrandwet, Wet 101 van 1998, en persone wat die bepalings van die wet oortree kan swaar boetes en selfs tronkstraf opgelê word.

Die vernietigende krag van veldbrande was die afgelope paar weke op verskeie plekke in die streek duidelik. Verlede week was digte rookwolke in Louis Trichardt sigbaar weens ‘n veldbrand langs Ridgeway College in Leeustraat. Die vlamme het oorgespring na die kollegeterrein en in ‘n stadium die kollege se koshuis bedreig. ‘n Paar onderwysers het met halwe emmers water desperaat die vlamme geblus. “Ons probeer maar net ons koshuis red,” het een van hulle gesê met die Zoutpansberger se aankoms op die toneel. Gelukkig kon die vlamme gestuit word, ondanks die gebrek aan watertoevoer weens die soveelste onderbreking.

Mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, het by navraag gesê bitter min mense besef die erns van die saak as dit kom by veldbrande. “As ʼn brand op jou plaas ontstaan of deur jou plaas na ʼn ander plaas beweeg en jy het nie brandbane in plek gehad nie, is jy skuldig en gaan jy skadevergoeding moet betaal. Dit is die enigste plek in die wet waar jy skuldig is tot jy jou onskuld kan bewys,” het Ahrens gewaarsku. In dié verband het hy gesê dat grondeienaars alreeds hulle brandbane moes gemaak het.

Ahrens het grondeienaars ook vermaan dat alhoewel die amptelike brandverbod vanaf 1 Augustus tot 31 Oktober geldig is, die brandverbod eers opgehef word ná die eerste goeie reën na 31 Oktober. Tot dan rus daar ʼn groot verantwoordelikheid op grondeienaars se skouers. “Daar is verskeie voorskrifte waaraan alle grondeienaars met plase van 50 hektaar en meer moet voldoen. Dit sluit onder meer in dat hulle ʼn bakkiesak moet hê, asook rugsakspuite, vuurplakke en vuurharke. Die grondeienaar moet ook radioverbinding met sy bure hê, met personeel wat opgelei is in brandbestryding,” het Ahrens gesê. Vir meer inligting hieroor het Ahrens gesê grondeienaars kan met die Zoutpansberg Fire Association (ZFA) se voorsitter, mnr. Wally Walberer, skakel by tel. 082 323 8870 of die ondervoorsitter, mnr. Dylan Pope by 081 059 1925. In dieselfde asem het Ahrens gesê dat geen grondeienaar tans mag vuur maak op sy grond nie, vir watter rede ook al, sonder ʼn permit van die Zoutpansberg Fire Association nie.

Mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), het ook ‘n beroep gedoen op die Soutpansberg-gemeenskap om asseblief nie onnodige vure te maak nie. Hy het gesê dat die streek in Februarie/Maart vanjaar laas goeie reën gehad het en dat die winter vir boere baie lank en droog was tot dusver. “Dit is nie net die Augustuswinde wat laat is nie, maar ook ons winterreën wat die veld gewoonlik so ‘n klein bietjie groen hou. Baie van die riviere wat uit die berg kom se vloeitempo het baie afgeneem en daar is boere wat kla dat van hulle boorgate het wat besig is om op te droog. Die veld is baie droog en daar waar die wild en die beeste nog nie gewei het nie (spaar kampe) is gewoonlik die brande wat die meeste skade gelei word. Dit is nie net die weiding wat weg is nie maar ook die verlies aan heinings, vee en wild wat ingespan is, en eiendom wat daarmee gepaard gaan,” het Havinga gesê. Hy het egter die hoop uitgespreek dat die reën op die regte tyd sal kom. “Ek het in ʼn vorige onderhoud oor die lekker reën wat ons gekry het gesê ‘die droogte sal eers gebreek wees as dit vir twee tot drie seisoene normaal gereën het’. Ek dink die droogte is nog nie gebreek nie. Met die hulp van die Here het ons nog ‘n jaar deurgesien en sal ons nog lank hier bly, as dit sy wil is,” het Havinga gesê.

 

 
 
 

Viewed: 499

 

 
 

Veruscka van der Linde

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT