ADVERTISEMENT:

 

 
 

Misdaad in grensdorp buite beheer

Date: 08 September 2019 By: Andries van Zyl

Soortgelyk aan die situasie op die Kaapse Vlakte is daar diegene wat glo dat die weermag ook in die grensdorp Musina ontplooi moet word om die heersende vlaag misdaad hok te slaan.

“Die situasie is totaal buite beheer,” het plaaslike prokureur en sakeman mnr. Hennie Erwee aan die Zoutpansberger gesê. Dit nadat een van sy eie personeellede, boekhouer Charmaine Steyn, Maandag net na 08:00 voor die prokureursfirma van etlike duisende rande beroof is deur ‘n groep gewapende mans.

Die 51-jarige Steyn vertel self: “Ek het die bank gaan optel by die hotel [Musina Hotel, wat aan Erwee behoort]. Terug by die kantoor het ek gestop en die volgende oomblik het ‘n voertuig agter my ingetrek,” het Steyn gesê.

Volgens Steyn was daar drie ongemaskerde mans in die voertuig. Die twee voor in die voertuig het bly sit, terwyl die derde een agter uit die voertuig geklim het. Hy was gewapen. “Hy het baie kalm sy wapen op my gerig en gesê: ‘Gee’. Ek het iets in sy oë gesien dat hy my definitief sou skiet as ek nie my handsak oorhandig nie,” het Steyn gesê. In haar handsak was die hotel se bank, asook lone. Die verdagtes het toe op die vlug geslaan.

Volgens Charmaine het sy gehoor dat die polisie blykbaar die voertuig wat in die roof gebruik is gesluit buite Musina gevind het. Volgens haar het die polisie vir haar gesê die voertuig is in Johannesburg gesteel. Alle aanduidings is ook daar dat die roof ‘n “inside job” was. “Die polisie het vir my gesê hulle gaan binnekort arrestasies maak,” het Charmaine gesê.

Ná onlangse protesoptrede oor swak polisiëring in Musina in Julie is die stasiebevelvoerder van die Musina polisiestasie vroeg in Augustus vervang. Vir baie is dit egter ‘n geval van te min te laat. “Almal weet dat sigbare polisiëring wêreldwyd die oplossing is,” het Erwee gesê. Volgens hom is dit duidelik nie die geval in Musina nie en hy is van mening dat die enigste manier om die heersende vlaag geweldsmisdaad hok te slaan sal wees om die weermag in die grensdorp te ontplooi soos op die geweldgeteisterde Kaapse Vlakte in Julie. “Ons sit met ‘n weermagbasis net buite die dorp. Al wat moet gebeur is om die weermag in elke straat te ontplooi. Dan sal die misdaad stop. Al wanneer jy nou die weermag in die strate sien, is wanneer hulle oor maandeinde inkopies kom doen,” het Erwee gesê.

Buiten vir Maandagoggend se gewapende roof is daar ook berig ontvang van ‘n persoon wat blykbaar Dinsdagmiddag in Willem Smitstraat doodgeskiet is, asook van ‘n skietery op ‘n plaaslike sakeman hierdie week. Dit is buiten die skrikwekkende toename in inbrake. “Die Minister van Polisie moet dringend hier uitkom. Die gemeenskap het hom in Julie genooi, maar hy kom nie,” het Erwee gesê.

Wat vir Erwee die meeste ontstel, is die absolute astrantheid en brutaliteit wat met die misdaad gepaardgaan. “Hulle probeer nie eers hulle identiteit wegsteek nie en slaan helder oordag toe. Wys jou net die misdadigers se arrogansie. Hulle is glad nie bang vir die polisie nie,” het Erwee gesê. Hy is van mening dat dit net ‘n kwessie van tyd is voordat die vlaag geweld oorspoel na Louis Trichardt.

Nog ‘n Musina-inwoner wat daadwerklik betrokke is by plaaslike misdaadbekamping, is Hermanus Schoeman, eienaar van ProTrack Sekuriteit en Messina Sekuriteit en Alarms. “Dit is chaos hier,” het Schoeman gesê. Hy sê die vlaag gewapende misdaad het die afgelope paar maande seker ‘n 99% styging getoon. “Sowat drie maande gelede is een van my eie wagte doodgeskiet,” het Schoeman gesê.

Volgens Schoeman was Musina altyd bekend as ‘n veilige dorp. “Daar was ook goeie samewerking tussen die privaatsektor en die polisie. Intussen het misdadigers egter agtergekom dat Musina ‘n sagte teiken is,” het Schoeman gesê.

Volgens Schoeman mag die rede hiervoor wees dat bitter min mense alarmstelsels by hul huise het. “Daar is ook ‘n magdom klein winkeltjies wat nie finansieel in die vermoë is om alarmstelsels en ‘n sekuriteitsmaatskappy te bekostig nie,” het hy gesê.

Nog ‘n probleem, het Schoeman gesê, is dat mense laks raak wat hul eie veiligheid en sekuriteit betref, veral in terme van die hantering van kontant. “Rooftogte waar kontant gesteel word, het geweldig toegeneem,” het hy gesê.

Schoeman is ook bekommerd oor die misdadigers se arrogansie. “Hulle het geen respek vir lewe nie. Hulle kom net aangestap en skiet mense trompop. Hulle is glad nie bang nie. Hulle beroof selfs besighede om die polisiestasie,” het hy gesê.

Die Zoutpansberger het vroeër die week die polisie se provinsiale skakelafdeling gevra vir bevestiging en kommentaar oor die gevalle hierbo genoem. Hulle het ontvangs van die navraag bevestig, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.

“Dit is nou baie gevaarlik hier. Die dorp het ‘n kriminele kookpot geword. Dit is ‘n free for all … hulle [die misdadigers] weet daar gaan niks met hulle gebeur nie,” het Schoeman gesê.

  

 

 
 
 

Viewed: 2340

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT