ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Iyon de Necker (26). Foto verskaf.

Sy dood moet ander help

Date: 01 September 2019 By: Andries van Zyl

Vir ‘n tweede keer dié maand moes inwoners van Louis Trichardt die skoknuus ontvang van 'n selfmoord, nadat die 26-jarige Iyon de Necker Saterdagaand sy eie lewe geneem het.

Iyon se vriende sal hom almal onthou as ‘n opgewekte, glimlaggende en joviale jong man – die lewe van die partytjie, alhoewel hyself geensins gedrink het nie. Maar agter die glimlag het Iyon ‘n geweldige stryd teen depressie gevoer, ‘n siekte waarvoor hy ook behandeling ontvang het.

“Ek is nie skaam om te sê my kind het selfmoord gepleeg nie, en ek is nie skaam om te sê my kind was ‘n depressieleier nie,” het pa Anton Woensdag aan die Zoutpansberger gesê. Vir hom en ma Melanie was dit belangriker om die hoop uit te spreek dat inwoners sal ag slaan op die werklike probleem van depressie en selfmoord in die gemeenskap.

“Ons jongmense vandag is onder geweldig druk om te presteer in ‘n gejaagde lewe. Het hulle altyd iemand aan hul sy wat hulle kan bystaan?” het Anton gesê. Hy het spesifiek verwys na mense wat nie meer ‘n aanvoeling het vir ander se nood nie. “Hoeveel van ons kan vandag ons vinger opsteek en sê ek ken my buurman en ek ken sy omstandighede?” het Anton gevra.

Anton en Melanie het dit duidelik gestel dat hulle niemand kwalik neem vir hul seun se besluit nie. In meeste gevalle van depressie is daar gewoonlik ‘n lang aanloop van omstandighede wat lei tot die besluit om selfmoord te pleeg. “As ouer kom jy gou agter as daar fout is, en dit is jou plig as ouer om vir jou kind te laat verstaan dat sy lewe betekenis het. In Iyon se geval het hy ‘n diepgewortelde probleem van depressie gehad,” het Anton gesê.

Tog het Anton-hulle vrede gemaak met hul seun se besluit. “Jy moet aanvaar Iyon was 26 jaar oud. Jy moet aanvaar jy het jou beste gedoen om hom groot te maak en op die pad van die lewe te sit. Jy het reeds verifikasie gekry van die hoeveelheid mense wat hy aangeraak het en die hoeveelheid positiwiteit wat hy uitgestraal het buitekant toe. Dit moet vir jou sê jy het ‘n goeie kind grootgemaak,” het Anton gesê.

Volgens Anton en Melanie hoop hulle dat hul seun se dood inwoners sal aanspoor om hulle verskille opsy te skuif en om oor alle kleur-, geloofs- en geslagsgrense heen om ‘n tafel te gaan sit en die probleem aan te spreek. Hiervoor, het Anton gesê, is hy bereid om as klankbord op te tree. “Mense het nie nodig om agter maskers te lewe nie,” het Melanie gesê. “Depressie kom oor ‘n tyd. Dit word nie aangespreek en dan gekeer nie. Dit word nie ingeënt en dit is verby nie. Dit is ‘n probleem wat deurlopend aangespreek moet word,” het Anton bygevoeg.

Wat laasgenoemde betref, het Anton gesê mense het almal ‘n verpligting teenoor mekaar. “Dit hoef nie 'n professionele persoon te wees nie. Enige persoon, en dit mag ‘n ander ouer wees, met 'n fyn aanvoeling vir ander se nood - dit is die persoon wat moet opstaan en help,” het Anton gesê.

Iyon is ‘n oud-leerling van Laerskool Louis Trichardt en het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool John Vorster voltooi. Ná skool het hy homself bekwaam as klankingenieur en in 2017 het hy na Louis Trichardt teruggekeer. ‘n Diens om sy lewe te vier vind Vrydag, 30 Augustus, om 11:00 vanuit die Volle Evangelie Kerk in Louis Trichardt plaas. Hy word oorleef deur sy ouers en broer Bourdeaux, asook skoonsuster Mandy en baba Lincoln. Die familie het gesê hulle is oorweldig deur die boodskappe, oproepe en gebede van al Iyon se vriende, sommige wat hulle nie eers geken het nie.

“Mense moenie vir my sê dit is die Here se wil dat Iyon selfmoord gepleeg het nie. As sy dood en die aksies wat daarop gevolg het dalk iemand anders se lewe kan red - dit is die wil van die Here,” het Anton gesê.

 
 
 

Viewed: 1847

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT