ADVERTISEMENT:

 

 
 

Daar is inwoners wat meen meer as die helfte van die dorp se straatligte werk nie meer in die aand nie. Dan is daar ook talle straatligte wat blykbaar net in die dag werk.

Inwoners terug in donker Afrika weens stukkende ligte

Date: 24 August 2019 By: Andries van Zyl

Inwoners van Louis Trichardt bevind hul al hoe meer in donker Afrika die afgelope paar maande, te danke aan die groot hoeveelheid straatligte wat stukkend is en die Makhado Munisipaliteit wat blykbaar nie oor die vermoë beskik om dit te herstel nie.

Inwoner Johan Gilfillan het opgemerk dat van die 35 plus straatligte in Rissikstraat tussen Kroghstraat en die N1 net vyf straatligte nog die afgelope paar weke in werkende toestand is. Nog ‘n inwoner, Silvia du Plessis, het op haar beurt gesê dat die straatligte voor haar woning in President Steynstraat al vir maande stukkend is. “Ek ry nou maar so om daglig nog by die huis te kom. Vir my is dit vrou-alleen net te gevaarlik om in die stikdonker nag by my hek uit te klim,” het sy gesê. ‘n Ander inwoner, Ronel Welman, sê dat die straatligte by haar in Proteastraat tussen Baobab- en Elandstraat al van Oktober 2017 nie meer werk nie. “Ek het in 2018 opgehou om dit te rapporteer, want niks gebeur nie,” het Welman gesê.

Soos almal weet gaan die donkerte ook hand aan hand met misdaad. “Ons sien ‘n definitiewe toename in misdaad in dele waar die straatligte stukkend is. Dit is net soveel makliker om in te breek as dit totaal donker is,” het die voorsitter van die Soutpansberg Dorpswag, Nella Kleynhans, gesê. As gevolg hiervan spandeer talle inwoners nou ekstra geld om teen groot koste addisionele beligting by hul huise aan te bring.

So, waarom word die straatligte nie herstel nie? Dié vraag en ander, soos of daar statistiek beskikbaar is van presies hoeveel straatligte tans stukkend is, is aan die Makhado Munisipaliteit gevra. Sommige inwoners meen dat tot die helfte van die dorp se straatligte nie meer werk nie. Die Zoutpansberger wou ook by die Makhado Munisipaliteit weet of geldtekorte moontlik die rede is waarom herstelwerk nie meer gedoen word nie en indien daar wel geld is, of ‘n instandhoudingsplan gevolg word.

In antwoord hierop het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi die afgelope week gesê dat hulle wel deeglik bewus is van die ernstige probleem. Die grootste oorsaak van die agterstand in die herstel van die dorp se straatligte, het Bobodi gesê, is vanweë die feit dat beide hulle hyskrane (kersieplukkers) gebreek het. Hy meen egter dat die probleem van stukkende straatligte dalk binnekort aangespreek kan word. “Ons het twee nuwe vragmotors gekoop. Tans is ons besig met hulle padwaardigheid en registrasie,” het Bobodi gesê.

Oor presies hoeveel straatligte stukkend is, het Bobodi gesê dat hulle wel statistiek hou. “Maar die getal is nie belangrik nie,” het Bobodi gesê. Wat instandhouding betref het Bobodi gesê dat daar wel nog geld in die begroting oor is. “Instandhouding vind deurlopend plaas. Dit kan nie stop nie want dit is nie ‘n eenmalige projek nie,” het Bobodi gesê. Hy het ook ‘n afskrif van hulle instandhoudingsprogram spesifiek rondom straatligte aan die Zoutpansberger verskaf. Dit sluit in die snoei van bome en boomtakke waar dit probleme met die oorhoofse elektriese kragkabels veroorsaak. Dit is ‘n indrukwekkende lys van datums wat insluit instandhouding in beide die ou en nuwe dorp, Eltivillas en die industriële gebied. Die datums beteken egter niks as die hyskrane nie beskikbaar is om die werk te doen nie. “Ons kan maar net hoop dit word spoedig herstel,” het Du Plessis gesê.

 

 
 
 

Viewed: 539

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT