ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Alle klagte in omstrede saak teruggetrek

Date: 16 August 2019 By: Andries van Zyl

Alle klagte teen die ses mans wat daarvan beskuldig is dat hulle in Oktober verlede jaar by Easy Build in Eltivillas ingebreek het, is so stilweg in die distrikshof op Louis Trichardt teruggetrek.

Die saak teen Godfrey Hlongwane (40), Simon Mahlangu (36), Anthony Mokadi Letsoalo (39), Sifiso Nzima (40), Thabo Mabula (34) en Andrew Moagiemang (44) spruit uit ‘n voorval op die aand van 26 Oktober 2018. Volgens die polisie het hulle inligting ontvang dat ‘n groep inbrekers ‘n inbraak by die besigheid beplan. Die inligting is opgevolg en die inbrekers is blykbaar op heterdaad betrap. Dit het aanleiding gegee tot ‘n wilde jaagtog op die N1 suid, wat uiteindelik gelei het tot die arrestasie van ses verdagtes. Tydens die arrestasie het die polisie onder meer beslag gelê op vier voertuie wat verbind is met die beweerde misdryf, asook ‘n geldkissie met R9 000 se kleingeld, ‘n gasvlamsnyer, ‘n  hoekslyper, ‘n boutsnyer, handskoene, balaklawas en ‘n 16-kanaal seinontwrigter. Die voertuie het ingesluit ‘n Toyota Etios, ‘n Hyundai Atos en twee Mercedes Benz motors.

Die saak het van meet af die wenkbroue laat lig met gerugte van beweerde plaaslike polisiebetrokkenheid by die inbraak. Niemand plaaslik wat by die saak betrokke is, insluitend die plaaslike polisie, wou destyds egter enigsins met die media oor die voorval praat nie. By navraag aan die provinsiale kantoor van die polisie in November verlede jaar is die voorval bloot bevestig, sonder enige verwysing na moontlike polisiebetrokkenheid. In ‘n poging om ongegronde gerugte in dié verband hok te slaan, is die provinsiale media-afdeling gevra om daarop te reageer. Die koerant se destydse navrae is egter na die Valke verwys met die woorde: “Hulle ondersoek die saak”.

Die Valke se provinsiale woordvoerder het op sy beurt die koerant na die polisie se georganiseerde handelsmisdaadeenheid verwys, aangesien “hulle die ondersoek hanteer”. Ten einde laaste het die koerant se navraag weer by die polisie se provinsiale mediakantoor geëindig, met provinsiale polisiewoordvoerder Brigadier Motlafela Mojapelo wat op 5 November verlede jaar in ‘n verklaring gesê het die polisie beskik oor geen inligting wat betref beweerde polisiebetrokkenheid by die saak nie en dat lede van die publiek met inligting hieroor asseblief na vore moet kom.

Na herhaalde hofverskynings sedert hul arrestasie het die hof op 26 Julie vanjaar alle klagte teen hulle teruggetrek en gesê hulle is vry om te gaan. Die rede wat deur die hof aangevoer is, was dat daar geen redelike kans was op die suksesvolle vervolging van die beskuldigdes nie.

Die hof moet egter nie vir hierdie beslissing blameer word nie. Hulle kan net hulle besluit maak op grond van die deeglikheid van die polisie-ondersoek en die polisiedossier van bewyse wat aan die hof voorgelê word. In hierdie geval blyk dit dat die polisiedossier so swak opgestel is dat die hof geen ander keuse gehad het as om die saak teen die ses terug te trek nie.  Hulle het tereggestaan op klagte van huisbraak met die opset om te steel, roof, die besit van huisbraak-toerusting en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

 

 
 
 

Viewed: 788

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT