ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ds. Samuel Mametza (regs) wys waar hy sy twee kleinkinders onder die karavaan ingedruk het vir veiligheid tydens die skietery. Links staan Jan Bouwer voor wie se huis in De Beerstraat die dramatiese gebeure afgespeel het.

Inwoners slaan dekking na skote klap

Date: 03 August 2019 By: Andries van Zyl

‘n Wilde polisiejaagtog en skote wat klap het Maandag omstreeks 09:00 die onderdorp van Louis Trichardt in rep en roer gehad.

Dit sou na die tyd blyk dat dit die resultaat was van ‘n gesamentlike operasie tussen die polisie en landelike veiligheid se taakspan (bestaande uit lede van die dorps- en plaaswag) wat gelei het tot die arrestasie van een verdagte en die herwinning van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.

Soos met enige klein dorpie, was daar baie stories na die voorval. Volgens sommige was daar een verdagte, ander het gesê daar was twee, terwyl daar die was wat “gehoor” het daar was drie verdagtes waarvan een gevang is, een gewond is en een doodgeskiet is.

Sover die Zoutpansberger egter kon vasstel, was die polisie en taakspan die oggend omstreek 09:00 besig om inligting op te volg oor ‘n verdagte persoon by ‘n kompleks in Krugerstraat onderkant Rissikstraat. Terwyl hulle besig was hiermee, het die polisie klaarblyklik berig ontvang van twee ander verdagtes wat hulle in die omgewing bevind wat vermoedelik betrokke was by die kaping van ‘n minibus-taxi in Musina Sondagaand.

Die twee verdagte is gewaar en die wetstoepassers het hulle agterna gesit. Een van die verdagtes het blykbaar by ‘n huis in Burgerstraat (naby die Katolieke Kerk) ingehardloop. Toe hy hier ingehok is, het hy oor die heining na ‘n woning in De Beerstraat gespring. Ook hier is hy ingehok, waarna hy weer terug is oor die muur na Burgerstraat se kant. Weer was hy vas en weer het hy na De Beerstraat se kant oorgespring waar hy klaarblyklik kort daarna in ‘n buitetoilet aangekeer en gearresteer is. Te midde hiervan was daar ‘n skietery.

“Dit is nogal erg. Hier sit jy rustig op ‘n Maandagoggend en skielik klap daar skote rondom jou,” het ‘n inwoner van De Beerstraat, Jan Bouwer, Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy en sy ouboet, Petrus, was vinnig weg van die huis, toe die drama afgespeel het. “Toe ek omstreeks 09:00 terugkom by die huis, toe roep my vrou my. Sy het gesê sy was besig om haar hare droog te blaas, toe sy net karbande hoor skreeu en skote hoor klap,” het Jan gesê.

Jan werk al vir jare as motorwerktuigkundige vanaf sy huis. Een van sy kliënte, ds. Samuel Mametza, vergesel deur twee van sy kleinkinders van onderskeidelik twee en ses jaar oud, het kort voor die skietery by Jan opgedaag en hom gewag. “Ek het net parkeer en uitgeloop om bietjie in die son te staan, toe hoor ek ook net karbande skreeu en skote klap. Ek gryp toe my twee kleinkinders en druk hulle onder Jan se karavaan (wat in die agterplaas staan) in. Ek self het ook dekking geslaan,” het Samuel vertel.

Jan se buurvrou, Anette van der Berg, was ten tye van die skietery in haar voortuin. “Sy het vir my gesê dit was die vinnigste wat sy en haar tuinier nog ooit moes dekking slaan agter die muur,” het Jan vertel.

Gelukkig is niemand tydens die skietery beseer nie. Op ‘n positiewe noot is ‘n verdagte agter tralies en ‘n onwettige vuurwapen van die straat af. Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Moatshe Ngoepe het Dinsdag die voorval bevestig en gesê dat die man binnekort in die hof op klagte van die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie sal verskyn. Teen druktyd was dit nie seker of hy al verskyn het nie. Volgens Ngoepe word ‘n tweede verdagte steeds gesoek in verband met die kaping van die minibus-taxi. Die minibus-taxi is intussen teruggevind, nadat dit aan ‘n persoon by Tshilwavhusiku verkoop is. “Die polisie se ondersoek duur voort,” het Ngoepe gesê.

Volgens Samuel was die hele gedoente ‘n dramatiese ervaring veral vir sy twee kleinkinders. “Toe ek sê ons moet later teruggaan om my kar weer te gaan haal, wou die sesjarige niks daarvan weet net,” het Samuel gesê.

 
 
 

Viewed: 1294

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT