ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die vermoorde Annette Kennealy. Foto verskaf.

Beskuldigde in Kennealy-moord bly agter tralies

Date: 04 July 2019 By: Andries van Zyl

Die man wat daarvan beskuldig word dat hy op 20 Mei die welbekende plaaslike kunstenaar en menseregte aktivis Annette Kennealy (51) wreed op haar plaas vermoor het, het Maandag vir ‘n tweede keer in die hof op Louis Trichardt verskyn.

Die 40-jarige Kenny Ramantswana, wat vir Kennealy gewerk het, word daarvan beskuldig dat hy Kennealy verwurg en met ‘n hamer doodgeslaan het. Vriende het gaan ondersoek instel, nadat Kennealy nie op selfoonboodskappe en -oproepe gereageer het nie. Ramantswana is ure nadat haar liggaam op Dinsdag, 21 Mei, in haar plaashuis op die plaas Welgevonden buite Louis Trichardt gevind is, aangekeer. Kennealy was in lewe heel uitgesproke rondom plaasmoorde en het gereeld daaroor kommentaar gelewer op sosiale media.

Ramantswana het op 23 Mei die eerste keer in die hof verskyn, waarna sy saak uitgestel is tot 1 Julie. Sy saak is Maandag, 1 Julie, uitgestel tot 9 Julie vir verdere polisieondersoek. Hy sal in aanhouding bly tot dan en of Ramantswana dan ‘n borgaansoek sal bring is nie seker nie.

Die kwessie rondom borg aan vermeende plaasmoordenaars het ná vonnisoplegging in die Hennie Bonnema-moordsaak weer onder die loep gekom. Bonnema is op 18 Oktober 2016 met ‘n mes doodgesteek voor sy plaaswoning op die plaas Beaufort F10 in Levubu.

Die hoofbeskuldigde in die saak, die 32-jarige Walter Maringa, is kort ná sy arrestasie op 23 November 2016 borg van R5 000 toegestaan deur die Levubu Landdroshof. ‘n Paar dae later, op 30 November, het Maringa die borgtog betaal. Hy het daarna vir etlike maande verdwyn totdat hy eers weer einde verlede jaar gearresteer is.

Dit het ná Maringa se herarrestasie aan die lig gekom dat hy na bewering nog ‘n string ernstige misdade sou gepleeg het nadat hy borg toegestaan is. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die afgelope week by navraag bevestig dat nog klagte teen Maringa geformuleer is vir misdade wat hy na bewering tussen 20 November 2017 en 27 Desember 2017 sou gepleeg het terwyl hy uit was op borg. Dit het ingesluit nog ‘n klag van moord, twee van poging tot moord, een klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en een klag van die onwettige besit van ammunisie.

Maringa en sy medebeskuldigde in die Bonnema-moord, die 25-jarige Khodani Tshishonga, is Woensdag, 19 Julie, lewenslange vonnisse (25 jaar) opgelê in die Hooggeregshof in Thohoyandou vir die moord. Hulle het elk ook ‘n addisionele 15 jaar tronkstraf gekry op klagte van diefstal met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.

Intussen het die NVG gesê dat Maringa reeds op 18 Junie op die ander vyf klagte teen hom verskyn het. Hierdie sake is uitgestel tot 9 September vanjaar.

‘n Derde verdagte is destyds in verband met die moord op Bonnema aangekeer. Takalani Mudau, ‘n voormalige werker van Bonnema, is saam met Maringa en Tshishonga arresteer. Hy het egter getuie vir die Staat geword en is nie vir die moord op Bonnema verhoor nie. Volgens die NVG was daar geen bewyse dat Mudau teenwoordig was tydens die moord nie.

 

 
 
 

Viewed: 528

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT