ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 62-jarige Hennie Bonnema, afgeneem saam met sy oudste kleinkind Anelia, ‘n paar maande voordat hy vermoor is. Foto: Madeleen Erasmus.

Niks kan pa terugbring

Date: 30 June 2019 By: Andries van Zyl

Niks sal hulle pa weer kan terugbring nie, maar immers is daar nou afsluiting vir die familie. Dit was Hendrik Bonnema se reaksie op die vonnis van die twee mans wat sy pa, die 62-jarige Hennie Bonnema, in Oktober 2016 op sy plaas vermoor het.

“Onder omstandighede is mens bly dat daar ‘n finaliteit, ‘n afsluiting, is. Die hofsaak was maar vir ons ‘n moeilik tydperk, maar gelukkig het ons die ondersteuning van familie en die Levubu-gemeenskap gehad,” het Hendrik gesê.

Die twee moordenaars is verlede Woensdag lewenslange vonnisse opgelê in die Hooggeregshof in Thohoyandou. Die 32-jarige Walter Maringa en 25-jarige Khodani Tshishonga is elk gevonnis tot 25 jaar gevangenisstraf vir die moord op Bonnema, plus ‘n addisionele 15 jaar tronkstraf elk op klagte van diefstal met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.

Bonnema is op 18 Oktober 2016 deur Maringa en Tshishonga met ‘n mes doodgesteek voor sy plaaswoning op die plaas Beaufort F10 in Levubu. Sy liggaam is deur sy oudste seun, Hendrik, gevind nadat hy gaan ondersoek instel het hoekom sy pa nie laat weet het hy het veilig by die huis aangekom nie. Bonnema het vroeër die aand by suster, Marina, en swaer gaan eet. Al wat vanaf Hennie se liggaam vermis was, was sy selfoon en bakkiesleutels.

Maringa en Tshishonga en ‘n derde verdagte, Takalani Mudau, is op 4 November 2016 deur lede van die Levubu polisie naby Mashau aangekeer. Die woongebied is nie ver van Bonnema se plaas geleë nie. Hulle het aanvanklik onskuldig gepleit op alle klagte teen hulle. Mudau, ‘n voormalige werker by Bonnema, sou later staatsgetuie draai en is nie aangekla nie.

Ter verswaring van Maringa en Tshishonga se vonnisse het staatsadvokaat Nnyambeni Nekhambele gesê dat plaasmoorde tans nie net ‘n probleem in Limpopo is nie, maar die hele Suid-Afrika. Nekhambele het die hof gevra om die twee mans swaar vonnisse op te lê om as afskrikmiddel te dien vir mense wat soortgelyke misdade wil pleeg. “’n Mens se lewe is geneem sonder enige rede. Dit is ‘n groot verlies,” het Regter Kgomo onder meer gesê. Derhalwe, het hy gesê, wil hy met die swaar vonnisse ‘n boodskap uitstuur dat die Thohoyandou area ‘n “no-go” area is vir kriminele.

Regter Frans Kgomo het verder gesê dat Maringa en Tshishonga se aksies neerkom op ekonomiese sabotasie. Hy het verder gesê dat Maringa en Tshishonga hulle eie mense benadeel het deur hulle aksies, aangesien boere in die Levubu-omgewing baie mense in die omgewing in diens neem. Kgomo het ook gesê dat boere beskerm moet word om te verhoed dat hulle na ander lande verhuis omdat hulle vrees vir hulle lewens. Regter Kgomo het nadat hy die twee gevonnis het, gesê hy hoop die Here is met hulle, dat hulle hul les geleer het en dat hulle voortaan net die regte ding sal doen.

“Wel, wat kan ‘n mens sê? Dit is sekerlik beter as niks nie … Dit gaan nie my pa terugbring nie, maar darem kan mens dankie sê dat die regstelsel nog werk en daar mense is soos Regter Kgomo,” het Hendrik gesê.

Beide Hendrik en sy jonger broer Pieter het waardering gehad vir Regter Kgomo en staatsadvokaat Nekhambele, wat soveel klem geplaas het op die probleem van plaasaanvalle en -moorde, asook hoë lof vir die puik speurwerk van die Levubu SAPS en speurtak. “Die Levubu polisie en -speurtak het beslis ook hulle kant gebring. Die verdagtes was van die begin af vas. Hulle het vinnig die manne gaan uithaal en het ook deurlopend gevra dat die drie nie borg mag kry nie,” het Hendrik.

Die hof het egter uiteindelik borg toegestaan aan die verdagtes. Maringa, as hoofbeskuldigde, was die eerste om borg te kry. Hy het geen doekies omgedraai om ná sy vrylating te verdwyn nie. Hy is, volgens Hendrik, eers weer ‘n paar maande gelede deur lede van die polisie en Soutpansberg Dorpswag in Louis Trichardt aangekeer. “Dit is hoekom die saak so lank gesloer het. Hulle moes eers weer vir Maringa opspoor,” het Hendrik gesê. Intussen het inligting na vore gekom wat daarop dui dat Maringa blykbaar met nog moordsake verbind word sedert hy sy borgvoorwaardes verbreek het. Vir duidelikheid hieroor wag die Zoutpansberger nog op terugvoer vanaf die Nasionale Vervolgingsgesag.

Vir Hendrik en Pieter het die lewe intussen aangegaan. “Ons het van die begin af aangegaan. Ek meen, mens kan nie gaan stilsit nie,” het Hendrik gesê. Beide hy en Pieter boer self ook op Levubu. Hulle besef die land het probleme wat veiligheid op plase betref. “Dit gaan nou rof. In die verlede het jy so nou en dan van ‘n moord gehoor, miskien eenmaal ‘n jaar. Nou is dit amper daagliks. Maar soos ek sê, mens gaan aan. Dit help nie jy gaan sit in ‘n hoekie en krepeer nie … Jy skakel maar in by jou plaas- en dorpswag want dit is maar net hoe dit werk. Dit is almal se voorland,” het Hendrik gesê.

 

 
 
 

Viewed: 774

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT