ADVERTISEMENT:
'n Foto uit die argiewe. 'n Baie jong Boet Grobler (regs) sit op die skoot van sy ma, Cecilia. Sy sus, Ester, sit langs hom.
Date: 28 June 2019 By: Anton van Zyl
Oom Boet Grobler, ‘n inwoner van Laat Lente op Louis Trichardt, is verlede Woensdag (19de) op 73-jarige ouderdom oorlede.
Gereelde lesers van die Zoutpansberger sal onthou dat oom Boet in April vanjaar deels die onderwerp gevorm het van ‘n artikel oor die graf van Douw Gerbrand Grobler. Dié graf is geleë aan die suidelike punt van die dorp en die grafsteen meld dat Douw Gerbrand Grobler in 1864 daar begrawe is. Die Grobler-familie was een van die 48 pioniersfamilies wat op 3 Mei 1848 onder aanvoering van veldkornet Jan Valentyn Botha in die Soutpansberg gearriveer het.
Douw Gerbrand Grobler, wat in 1811 gebore is, het ‘n belangrike rol gespeel in die vestiging van die dorp wat later jare as Schoemansdal bekend sou staan. As hoofouderling in die Hervormde Kerk het hy ook hard gewerk om ‘n vaste leraar na Schoemansdal te bring en die gemeente te vestig.
Oom Boet (wat ook Douw Gerbrand Grobler gedoop is), was ‘n agter-agterkleinkind van D.G. Grobler. Sy pa was Petrus Johannes Grobler (1916-1997), sy oupa was D.G. Grobler (1864-1943) en sy oupagrootjie was H.J. Grobler (1843-1937). H.J. Grobler was die seun van die pionier D.G. Grobler.
Teen die einde van oom Boet se lewe het hy baie navorsing gedoen oor die Groblers se stamboom, veral dié van hulle wat met die name Douw Gerbrand spog. “Hy het voortdurend gesels oor dit wat hy ontdek het en inligting wat hy kort,” onthou sy weduwee, tannie Marina.
Oom Boet is op 26 November 1945 in ‘n interneringskamp op Koffiefontein in die Vrystaat gebore. Sy pa het diens gedoen in die Tweede Wêreldoorlog, maar sy ma is na die interneringskamp gestuur. Die kamp het sowat 2 000 Italiaanse oorlogsprisoniers gehuisves, asook ‘n klompie Duitse gevangenes. Sowat 800 Suid-Afrikaners wat verdink is daarvan dat hulle die Nazi-groepe goedgesind was, is ook na Koffiefontein gestuur. (Onder die gevangenes was John Vorster, wat later jare eerste minister en president van die land geword het.)
Ná die oorlog is die Grobler-gesin terug na die Soutpansberg. Oom Boet se pa het gewerk vir die paaie-departement en hulle het heelwat rondgetrek, wat meegebring het dat hy by verskeie skole ingeskryf was. Hy het sy hoërskoolloopbaan op Merensky (Tzaneen) en Louis Trichardt voltooi.
Ná skool het oom Boet by die SA Polisie aangesluit en vir ‘n paar jaar diens gedoen, onder meer van 1962 tot 1965 in Bramley in Johannesburg. Hierna is hy terug na Louis Trichardt waar hy ‘n motortegnikus geword het. Hy het eers vir die Mazda-agentskap gewerk en daarna by die Toyota handelaar. Die Grobler-familie het ook in ‘n stadium geboer naby Bela-Bela en latere jare op ‘n plaas by Waterpoort.
Oom Boet en sy vrou het die afgelope agt jaar op Louis Trichardt gebly.
In sy jonger dae was hy ‘n geesdriftige bokser en het onder meer vir die polisie se klub in die kryt geklim. Tydens sy jare op Louis Trichardt het hy boks afgerig en hy was ‘n skeidsregter en beoordelaar. Hy was lief vir rugby en het onder meer vir Duiwelskloof se span uitgedraf.
Hy laat sy vrou, Marina, asook vyf kinders na. Hulle het ses kinders gehad, maar die tweede oudste seun, Theunis, is vyf jaar gelede oorlede. Die ander kinders is Victor, Marina, Maryna, Cecilia en Petrus (Boet jr.). Hy laat ook 12 kleinkinders en 12 agterkleinkinders na.
Die begrafnisdiens het op Dinsdag, 25 Junie, plaasgevind vanuit die plaaslike AGS-gemeente. “Pa was so geheg aan Louis Trichardt en ons het gevoel ons moet hom hier begrawe,” het sy kinders vroeër die week opgemerk.
Viewed: 745
|
Tweet |
Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT