ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die  62-jarige mnr. Hennie Bonnema wat op 18 Oktober 2016 op sy plaas vermoor is. Foto verskaf.

Lewenslange tronkstraf vir Bonnema-moordenaars

Date: 20 June 2019 By: Andries van Zyl

Die twee mans wat verlede week daaraan skuldig bevind is dat hulle in Oktober 2016 die 62-jarige mnr. Hennie Bonnema van Levubu wreedaardig op sy plaas vermoor het, is Woensdag lewenslange vonnisse opgelê in die Hooggeregshof in Thohoyandou.

Die 32-jarige Walter Maringa en 25-jarige Khodani Tshishonga is elk gevonnis tot 25 jaar gevangenisstraf vir die moord op Bonnema, plus elk ‘n addisionele 15 jaar tronkstraf op klagte van diefstal met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.

Bonnema is op 18 Oktober 2016 deur Maringa en Tshishonga met ‘n mes doodgesteek voor sy plaaswoning op die plaas Beaufort F10 in Levubu. Sy liggaam is deur sy oudste seun, Hendrik, gevind nadat hy gaan ondersoek instel het hoekom sy pa nie laat weet het hy het veilig by die huis aangekom nie. Bonnema het vroeër die aand by suster, Marina, en swaer gaan eet. Al wat vanaf Hennie se liggaam vermis was, was sy selfoon en bakkiesleutels.

Maringa en Tshishonga is op 4 November 2016 deur lede van die Levubu polisie naby Mashau aangekeer. Die woongebied is nie ver van Bonnema se plaas geleë nie. Hulle het aanvanklik onskuldig gepleit op alle klagte teen hulle.

Ter verswaring van Maringa en Tshishonga se vonnisse het staatsadvokaat Nnyambeni Nekhambele gesê dat plaasmoorde tans nie net ‘n probleem in Limpopo is nie, maar die hele Suid-Afrika. Nekhambele het die hof gevra om die twee mans swaar vonnisse op te lê om as afskrikmiddel te dien vir mense wat soortgelyke misdade wil pleeg.

Tydens vonnisoplegging het Regter Frans Kgomo gesê dat Maringa en Tshishonga se aksies neerkom op ekonomiese sabotasie. Hy het verder gesê dat Maringa en Tshishonga hulle eie mense benadeel het deur hulle aksies, aangesien boere in die Levubu-omgewing baie mense in die omgewing in diens neem. Kgomo het ook gesê dat boere beskerm moet word om te verhoed dat hulle na ander lande verhuis omdat hulle vrees vir hulle lewens. (Lees meer oor die uitspraak en saak in volgende week se Zoutpansberger).

 
 
 

Viewed: 4489

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT