ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ingang na die Makhado Munisipaliteit se stortingsterrein buiten Louis Trichardt.

Plaaslike stortingsterrein een van bestes in Limpopo

Date: 02 June 2019 By: 

Die Makhado Munisipaliteit se stortingsterrein buite Louis Trichardt is slegs een van vier stortingsterreine in Limpopo wat aan nasionale standaarde voldoen. Dit volgens ‘n verklaring wat AfriForum Dinsdag uitgereik het.

Volgens die verklaring het AfriForum vanjaar 127 stortingsterreine in al nege provinsies geoudit as deel van hul nasionale projek om die gehalte van stortingsterreine in Suid-Afrika te meet. “Slegs 4 uit 12 stortingsterreine wat in Limpopo geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen,” het AfriForum gesê. Dit is, het hulle gesê, kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Die vier beste stortingsterreine was Tzaneen (100%), Groblersdal (98%), Marble Hall (84%) en Louis Trichardt (84%). Die ander agt munisipaliteite het uiters swak presteer. Dit het ingesluit Modimolle (Nylstroom) met 0%, Leeupoort met 4%, Lephalale (Ellisras) met 16%, Hoedspruit met 20%, Western Breeze (Naboomspruit) ook met 20%, Mookgophong (Naboomspruit) met 34%, Phalaborwa met 36% en Bela-Bela (Warmbad) met 40%.

Die oudit, het AfriForum verduidelik, bestaan uit ’n lys van 33 vrae wat die minimum vereistes vir stortingsterreine in Suid-Afrika meet en sluit faktore soos toegangsbeheer, brande, mediese afval, omheining en rehabilitasie in. ’n Stortingsterrein moet minstens 80% behaal om aan wetgewing te voldoen.

“Volgens David Rule, AfriForum se assistent-koördineerder vir die Soutpansberg, is die meeste stortingsterreine in Limpopo in ’n haglike toestand. Hy het dit toegeskryf aan die totale verval van munisipaliteite. “Wanbesteding en wanadministrasie is groot knelpunte in die provinsie. Finansies word ondoeltreffend aangewend en die nodige masjinerie is weens onvoldoende instandhouding in verval,” het Rule gesê.

Rule het voorts gesê dat die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en mediese afval wat onwettig op terreine gestort word van die grootste probleme was wat AfriForum tydens dié oudit opgemerk het.

Volgens Rule sal AfriForum-takke druk op owerhede in hul gebiede plaas om afvalmoniteringskomitees te stig om die afvalbestuursproses te verbeter. “Dié komitees sal bestaan uit munisipaliteite en belanghebbende partye wat vullisbestuur in die betrokke dorp wil verbeter,” het Rule gesê.

AfriForum het verder gesê dat die ouditverslag ook aan die Groen Skerpioene oorhandig sal word vir verdere ondersoek en optrede teen skuldige munisipaliteite. Hierdie proses, het AfriForum gesê, sal hulle deurlopend moniteer.

 
 
 

Viewed: 1137

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT