ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Google Maps skermgreep van die luukse ontwikkeling by Ekland. Honderde miljoene rande is reeds aan opgraderings spandeer.

Saoedi prins skrop nes agter die Soutpansberg

Date: 19 May 2019 By: Anton van Zyl

Een van die wêreld se magtigste leiers, die kroonprins van Saoedi-Arabië, besit blykbaar ‘n reuse deel van die grond noord van die Soutpansberg.

Gerugte oor die Arabiese leier se uitbreidings op plase in die Waterpoort en Mopane distrikte doen al ‘n jaar of wat die rondte. In plaaslike kringe is dit een van die “ope geheime” dat die eintlike eienaar van die jagplaas Ekland nie ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy is nie. Dit was egter eers verlede week, ná berigte in die nasionale media verskyn het, dat die sluier begin lig het oor wie presies die sowat 20 000 hektaar grond besit.

‘n Span ondersoekende joernaliste van AmaBunghane het die moeilike taak aangepak om te bepaal wie presies wat besit en wie die werklike eienaars van ‘n reeks houermaatskappye is. Hul ondersoek het hulle via verskeie frontmaatskappye geneem, tot in Saoedi-Arabië na die 33-jarige kroonprins Mohammed bin Salman, een van die wêreld se rykste en magtigste leiers.

Om ‘n naam te sit by die nuwe eienaar van Ekland was duidelik nie ‘n maklike taak nie. Op plaaslike front is daar bespiegel dat die werk gedoen word vir eienaars van Saoedi-Arabië, maar niemand het wyd daaroor gepraat nie en vir die meeste van die kontrakteurs het dit nie saak gemaak nie. Hulle is billik vergoed vir die werk, maar hulle moes kwaliteit werk lewer.

Geen koste is ontsien om die grond (wat later meer en meer plase ingesluit het) behoorlik te omhein nie. Die drie-dubbele heining wat kilometers en kilometers ver strek, het na skatting al meer as R100 miljoen gekos. Die bouwerk aan die behuisingseenhede was op ‘n vlak van luuksheid wat die Soutpansberg tot dusver nie geken het nie. Honderde miljoene rande is in die plaaslike ekonomie ingestoot en die beste professionele persone is gebruik om die werk te doen.

Wie is Mohammed bin Salman?

Die jong prins, beter bekend as MbS, is die toekomstige koning van Saoedi-Arabië. Alhoewel sy vader, die 83-jarige koning Salman Bin Abdulaziz steeds amptelik heers, reken gesaghebbende bronne soos Bloomberg dat MbS effektief in beheer is van die land. Die Saoedi-familie is na skatting $1,4 biljoen ($1,4 duisend miljard) sterk, wat aansienlik meer is as byvoorbeeld die Britse koninklike familie, wat maar met ‘n geskatte $88 miljard kan spog.

Die kroonprins is volgens bronne soos die Guardian koerant ‘n persoon wat nie skrik vir ‘n 18-uur werksdag nie. Hy het ‘n BA-graad in regte verwerf aan die King Saud Universiteit, die oudste universiteit in Saoedi-Arabië. Hy geniet blykbaar ook die steun van wêreldleiers soos Amerika se president Donald Trump. Selfs Rusland se president, Vladimir Putin, het hom heel entoesiasties gegroet tydens verlede jaar se G20-beraad in Argentinië.

Mohammed bin Salman is egter ‘n erg omstrede figuur en word in talle kringe veroordeel vir beweerde menseregte vergrype. Die moord verlede jaar op die joernalis, Jamal Khashoggi, het internasionaal opslae gemaak en bewerings is gemaak dat MbS die opdrag daarvoor gegee het. Die bewerings is heftig ontken deur die kroonprins en hy het die moord op splintergroepe (“rogue operators”) in sy regering geplaas.

Bin Salman is wyd gekritiseer vir sy hantering van die konflik in Jemen. Die bombardering van dié streek en die gepaardgaande oorlog het ‘n hongersnood veroorsaak wat 13 miljoen burgerlikes direk affekteer. Organisasies soos Unicef beweer dat die Saoedi lugaanvalle gerig is op waterbronne, wat gelei het tot die uitbreking van cholera. Die Verenigde Nasies het in Oktober verlede jaar gewaarsku dat die konflik kan lei tot die ergste hongersnood wat die wêreld die afgelope 100 jaar beleef het.

Die Saoedi kroonprins roem egter ook daarop dat hy reeds daarin geslaag het om dramatiese hervormings in sy eie land te bewerkstellig. Hieronder tel die opheffing van ‘n verbod op vroue motorbestuurders in Saoedi-Arabië. Vroulike kunstenaars mag ook nou in dié lande optree en vroue word toegelaat in sekere sportstadions. Onder sy leiding word daar gefokus op internasionale toerisme en doelgerigte pogings word aangewend om die land se ekonomie minder afhanklik van inkomste uit die ryk oliebronne te maak.

Kastele, luukse jagte en duur skilderye

Een aspek wat die wenkbroue gereeld laat lig, is die kroonprins se aankoop van sekere luukshede. Die Saoedi koninklike familie bestaan na raming uit sowat 15 000 lede, maar die rykdom word in groot maat besit deur sowat 2 000 van dié familielede en is oor etlike dekades verkry, danksy die land se ryk oliebronne.

Die koninklike familie besit volgens sekere bronne verskeie luukse wonings in Switserland, Londen, Frankryk en Marokko. Prins Mohammed het in 2015 ‘n kasteel in Frankryk aangekoop vir $300 miljoen, wat deur die tydskrif Forbes as die wêreld se duurste tuiste beskryf is. Die Chateau Louis XIV in Louveciennes, wes van Parys, is in die 17de eeu gebou.

Vir ontspanning het die kroonprins ‘n luukse jag wat hom sowat $500 miljoen gekos het. Die jag, Serene, spog met ‘n eie binnemuurse swembad, ‘n borrelbad, twee landingstroke vir helikopters en selfs ‘n teater.

In 2017 het die prins ‘n skildery van Leonardo da Vinci by ‘n Christie’s veiling aangekoop vir $450 miljoen. Vooraf is beraam dat die skildery vir sowat $100 miljoen sou verkoop.

Maar is dit werklik MbS?

AmaBunghane se soektog na die werklike eienaars van Ekland het die joernaliste op verskeie spore geneem. Die plaas Ekland bestaan uit meer as ‘n dosyn plase en dele van plase wat sedert 1999 deur Manupont 124 aangekoop is. Manupont is ‘n “houermaatskappy” wat dieselfde jaar geregistreer is. (Houermaatskappye het dikwels nie individue as eienaars nie, maar word deur ander maatskappye besit.)

Die bestuurder van Ekland, mnr. Graham Moon, wou nie meer verklap as dat Willow Ltd die aandeelhouer van Manupont 124 is nie. Hy het gemeld dat Willow Ltd ‘n maatskappy is wat in die Kaaimanseilande geregistreer is om internasionale beleggings te akkommodeer.

Moon sê in ‘n persverklaring dat Ekland poog om ‘n eksklusiewe Afrika-ervaring te bied vir uitgesoekte gaste. Die verklaring sê ook dat die ontwikkeling uitgebrei word om meer as 20 000 hektaar in te sluit, en na verwagting gaan meer as 200 permanente werksgeleenthede geskep word.

AmaBunghane se ondersoek het aan die lig gebring dat Manupont se eienaarskap eers in Februarie vanjaar oorgedra is na Willow Ltd. Die vorige eienaar was Eight Investment, ‘n maatskappy met ‘n adres in Riyadh, Saoedi-Arabië. Eight Investment se naam het egter opgeduik in onder meer ‘n New York Times ondersoek gebaseer op dokumente wat uitgelek is in wat algemeen verwys word as die Panama and Paradise Papers.

Die New York Times ondersoek het Eight Investment verbind met die aankoop van die Franse kasteel asook die 134 meter luukse jag, die Serene. Prins Mohammed het blykbaar die jag van die Russiese magnaat, Yuri Shefler, aangekoop kort ná hy dit gesien het terwyl hy op vakansie in die suide van Frankryk was.

AmaBunghane het baie moeite gedoen om die kruisverwysings te doen rondom die direkteure van Manupont en Eight Investment. Dieselfde name duik telkens op, en alle aanduidings is daar dat die oordrag van eienaarskap van Eight Investment na Willow Ltd ‘n swak poging was om die werklike identiteit van die eienaars van Ekland geheim te hou.

Die vorige eienaar van Manupont (voor Eight Investment) is aanvanklik net beskryf as ‘n Spaanse jagter. AmaBunghane se ondersoek beweer dit was Mohamed Eyad Kayali, ‘n skatryk Spaans-Siriese besigheidsman met sterk Saoedi bande. Kayali se argitektuur en ontwerpmaatskappy, Euroamykasa, het in 2001 die aandele van Manupont bekom vir $2 miljoen. Die uitgelekte Panama dokumente weerspreek die aandeleregister van Manupont en wys dat dit in 1999 behoort het aan Almack Properties. Almack het weer sakebelange gehad wat dit direk verbind met die koninklike Saoedi families.

Wat gebeur op Ekland?

Na alle waarskynlikheid gaan Ekland ‘n wegvlughoekie vir die superrykes word. Dit word stelselmatig omskep in ‘n eksklusiewe jagplaas waar ‘n groot verskeidenheid wild gehuisves word. Die wooneenhede is, volgens Graham Moon se verklaring, gerig op die behoeftes van mense met “verfynde smaak”.

Moon beklemtoon dat Ekland eerstens as reservaat dien om Afrika se bedreigde natuurlewe te huisves en te beskerm. Dit bied ook aan uitgesoekte gaste die geleentheid om Afrika se natuurlewe te ervaar in privaatheid. Derdens beoog Ekland om die voorkeur werksverskaffer in die omgewing te word, met meer as 200 permanente werksgeleenthede. Hy meld dat meer as 80% van hierdie werksgeleenthede gevul gaan word deur lede van die plaaslike gemeenskappe, wat opleiding sal ontvang in die gasvryheidsbedryf.

Dat die ontwikkeling reeds honderde miljoene rande in die plaaslike ekonomie geploeg het, is welbekend. Die ontwikkeling spog selfs met ‘n eie landingstrook, wat lank genoeg is vir ‘n passasierstraler om te land.

Nog is dit het einde niet ... Ekland is besig met verdere uitbreidings op die sogenaamde “leeuplaas”, net oos van die N1. Volgens die omgewingsimpakstudie word wooneenhede gebou wat 60 besoekers kan akkommodeer op die plase Juliana en Coen Brits. Die wooneenhede gaan blykbaar nie so luuks wees soos die eenhede “oorkant die pad” nie, en behoort net vier- of vyfster-weelde te bied.

 

 
 
 

Viewed: 6160

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die 33-jarige kroonprins van Saoedi-Arabië, Mohammed bin Salman. Foto: Wikipedia.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT