ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die wyse waarop ‘n 62-jarige inwoner van ‘n kleinhoewe buite Louis Trichardt hierdie skape vanaf Pretoria vervoer het, het hom duur te staan gekom. Hy het verlede week ‘n skulderkenningsboete van R2 000 betaal en sit nou met ‘n kriminele rekord vir die oortreding van die Dierebeskermingswet.

Man kry boete en kriminele rekord vir dieremishandeling

Date: 18 May 2019 By: Andries van Zyl

Die 62-jarige man van Louis Trichardt wat deur die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) van dieremishandeling aangekla is, het besluit om eerder ‘n skulderkenningsboete te betaal, voordat sy saak in die hof aangehoor word. Benewens die boete sit hy nou ook met ‘n kriminele rekord.

Die klagte teen die man hou verband met die “onmenslike” vervoer van tientalle skape op ‘n oop bakkie van Pretoria tot in Louis Trichardt. Die voorval het op 12 Desember 2018 plaasgevind.

Die Louis Trichardt DBV se inspekteur Lawrence Khodobo het in sy beëdigde verklaring gesê dat hy die betrokke dag via die Limpopo SPCA se WhatsApp-groep ingelig is van iemand wat met ‘n oorlaaide vrag skape op ‘n bakkie vanaf Pretoria na Louis Trichardt op pad was. “Sommige van die skape se koppe en bene het oor die kant van die bakkie deur die reëlings uitgehang. Foto’s van die skape is deurgestuur waar hulle bo-op mekaar trap en sommige se nekke het teen die reëlings gedruk in ‘n wurgposisie,” het Khodobo gesê. ‘n Dag later, op 13 Desember, het hulle die eienaar van die bakkie opgespoor en kort daarna het Khodobo na die man se kleinhoewe net buite die dorp gery om die betrokke vrag skape te gaan inspekteer. Daar aangekom, het Khodobo gesê, het hulle 39 skape gevind en geïnspekteer. Alhoewel Khodobo in sy beëdigde verklaring sê dat hy met die eerste oogopslag niks verkeerd kon sien met die skape tydens sy besoek aan die kleinhoewe nie, hulle wel voortgegaan het om die man aan te kla vir die onmenslike vervoer van die skape.

Die man is ingevolge die Dierebeskermingswet, Wet 71 van 1962, aangekla en het op 14 Maart die eerste keer in die hof verskyn. Hy is nie gevra om te pleit nie, waarna sy saak uitgestel is tot 5 April. Tydens hierdie verskyning is sy saak weer uitgestel, die keer tot 10 Mei.

Voordat die saak egter verlede Vrydag aangehoor kon word, het die man egter besluit om eerder ‘n skulderkenningsboete van R2 000 te betaal.

“Sy prokureur het na ons toe gekom en gesê sy kliënt wil eerder ‘n boete betaal. Aanvanklik wou hy veel minder betaal, want hy het gesê hy het nie geld nie. Ons het op R2 000 geskik. Vir ons gaan dit egter nie oor die geld nie, maar die feit dat hy nou ‘n kriminele rekord het. In die vervolg sal hy twee keer dink voordat hy weer diere so vervoer,” het Khodobo aan die Zoutpansberger gesê. Hy het egter bygevoeg dat die man herhaaldelik om verskoning gevra het vir sy optrede en gesê het dat hy dit nooit weer sal doen nie.

Khodobo en die res van die plaaslike DBV is verheug oor die uitkoms van die saak. Khodobo het gesê dat, sover sy kennis strek, dit die eerste keer is dat iemand van Louis Trichardt suksesvol vervolg word ingevolge die Dierebeskermingswet. “Dit wys dat ons is ernstig oor wat ons doen en dat mense diere moet respekteer. Hulle het ook regte,” het Khodobo gesê.

Volgens Khodobo moet hierdie saak as waarskuwing dien vir almal wat diere op ‘n onmenslike manier vervoer. “Dit maak nie saak of dit honde, skape of hoenders is nie. As jy hulle onmenslik gaan behandel, gaan ons jou vervolg,” het Khodobo gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1256

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT