ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Nasionale Vervolgingsgesag het alle klagte teen Louis Trichardt sakeman mnr. Danie Pita terruggetrek.

NVG laat vaar saak teen sakeman

Date: 12 May 2019 By: Andries van Zyl

Vir die eerste keer in bykans twee jaar kan Louis Trichardt sakeman mnr. Danie Pita (47) weer rustig slaap, nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om hom nie verder te vervolg nie.

Die saak teen Pita spruit uit ‘n voorval op 31 Augustus 2017 toe hy deur lede van die Valke by sy sakeperseel in Kortstraat gearresteer is, nadat militêre plofstof en ammunisie op die perseel gevind is. Die voorval het die nasionale nuus gemaak.

Die Valke het destyds beweer dat hulle op ‘n wenk gereageer het. Pita is eers ses dae ná sy arrestasie op 5 September vrygelaat op borg van R5 000. Buiten die klag van die onwettige besit van plofstof en ‘n klag van die onwettige besit van ammunisie, is daar ook ‘n klag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen teen Pita gebring. Laasgenoemde klag moes egter ná die tyd teruggetrek word, omdat die Valke nooit op enige vuurwapens beslag gelê het nie.

Ná herhaalde hofverskynings is alle klagte teen Pita op 14 Junie verlede jaar in die distrikshof op Louis Trichardt voorlopig teruggetrek, hangende ‘n finale beslissing oor verdere vervolging deur die direkteur van die NVG.

Die nuus waarvoor Pita gewag het, het Maandag, om 14:00, gekom toe sy regspan hom laat weet het dat die NVG besluit het om nie te vervolg nie. In ‘n skrywe aan sy regspan sê die NVG dat, gegewe die polisie se bewyse in die saak, daar geen kans is dat Pita suksesvol verhoor kan word nie.

“Dit was maar ‘n storie ... gelukkig is dit nou klaar,” het Pita Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy was verheug oor die beslissing.

Pita se vreugde is egter gering, gemeet aan die hel waardeur hy en sy familie die afgelope twee jaar moes gaan. Dit het vir hulle geweldige trauma veroorsaak. Sedert die oggend van sy arrestasie tot en met sy vrylating op borg ses dae later is Pita nie toegelaat om met enige iemand te kommunikeer nie. “Daar was ‘n groot trauma. My vrou het nie geweet watter kant toe nie. Ek meen, jy word dadelik uit die samelewing uit weggevat. Hulle het my ses dae lank toegesluit in die tronk [Makhado Korrektiewe Dienste]. Niemand, nie eers my vrou, mag my kom sien het nie en ek het geen kommunikasie met enige iemand gehad nie,” het Pita gesê.

Dit was ses dae van hel. Pita is nie eers toegelaat om ‘n prokureur te skakel nie. “Die Donderdag het hulle my in die selle gesit en die Vrydag het my borgaansoek voorgekom. Die Staat het my borg summier geweier. Hulle het gesê hulle het meer tyd nodig om my saak te ondersoek. Toe is dit uitgestel na Dinsdag, 5 September. In daai tydperk mag ek met niemand gekommunikeer het nie. Ek het nie eers geweet of ek ‘n prokureur gaan hê as ek op 5 September in die hof instap nie,” het Pita gesê.

Pita was met rede bekommerd oor sy familie en homself. “My familie het nie geweet wat aangaan en of ek oraait is nie … niks. Dit was maar ‘n traumatiese storie vir almal gewees … Ons was 64 in ‘n sel gewees wat net 34 beddens het. Ek was die enigste blanke in die sel gewees vir daardie hele tydperk … Jy het nie regtig geslaap nie, want jy was te bang om jou oë toe te maak. Jy het nie geweet wat gaan gebeur nie en of jy regtig ooit weer daar gaan uitkom nie,” het Pita gesê.

Die polisie het deurlopend aangedui dat hulle ‘n goeie saak teen Pita het. Die krake in hul goeie saak het egter in Junie verlede jaar begin wys toe die hof voorlopig alle klagte teen Pita teruggetrek het nadat sy regspan ‘n vertoë aan die Staat gerig het. “Ons vertoë het gehandel oor die tekortkominge van hulle [die polisie se] bewysstukke wat ons aan hulle uitgewys het,” het Pita gesê.

Ná die klagte teen hom verlede jaar teruggetrek is, het die Staat die saak na die NVG verwys vir finale beslissing. “Maar niks het gebeur nie, tot en met Februarie hierdie jaar. Toe het my regspan afgekom en aansoek gedoen dat hierdie ding afgehandel moet word. Daar is weer ‘n vertoë gebring dat die saak ten volle teruggetrek word,” het Pita gesê. Dit was hierdie tweede vertoë wat gelei het tot die NVG se finale beslissing.

Pita hou vol dat die “plofstof en ammunisie” nie aan hom behoort het nie. “As dit my goed was, sou ek dit mos weggebêre het,” het Pita gesê. Hy is egter vas daarvan oortuig dat die goed deur die polisie geplant is. “Toe hulle die oggend toegeslaan het, nog voor nege, het hulle direk na die plekke gestap waar die goedere ‘geplant’ is. Ek was nie eers daar nie. Michelle, my dogter, het gesê hulle het na haar kantoor geloop en net rondgekyk. Hulle het nie eers ‘n laai of iets oopgemaak nie. Toe het hulle reguit na ‘n ander laai gestap waar die ammunisie in was – ‘n laai wat blykbaar oopgestaan het en nie eens toe was nie. Om die hoek het hulle toe die plofstof-goed gekry,” het Pita gesê. Die goed, het Pita gesê, het oop en bloot gestaan. “Daai ou self [die ondersoekbeampte] het dit daar laat neersit, want die Dinsdag voor hulle die Donderdag toegeslaan het, het my huishulp daar skoongemaak en daar was niks van die goed wat hulle daar gekry het nie,” het Pita gesê.

Oor wat die motief sou wees waarom iemand die goed sou plant is Pita onseker. “Tot nou toe het ek geen idee nie,” het Pita gesê. Hy vermoed egter dat dit iets met sy sekuriteitsmaatskappy te doen mag hê, ‘n bedryf waar hy soms koppe stamp met van sy opposisie oor tenders. “Ek kan dit sê, want ek inkrimineer niemand nie. Ek sal egter graag wil weet wie was dit,” het Pita gesê.

Vir eers geniet Pita sy totale vryheid. “My familie deel in die vreugde, afgesien van die koste wat dit gevat het om tot hier te kom,” het Pita gesê. Hy het hoë lof vir sy regspan, Hills Incorporated Attorneys van Pretoria, gehad. “Hulle was fenomenaal gewees. Sonder hulle so die saak nie gekom het tot waar dit nou is nie,” het Pita gesê.

Intussen gaan die lewe aan vir Pita. “Ek gaan nog steeds aan in die sekuriteitsbedryf en wil ook net dankie sê vir my kliënte wat my nie weggewys het nie, by my gestaan het en in my onskuld geglo het. So ook dankie aan die gemeenskap van Louis Trichardt,” het Pita gesê.

Wat die toekoms betref, het Pita gesê, kyk hulle na sy opsies, wat insluit ‘n moontlike siviele eis teen die Minister van Polisie en die beamptes betrokke by sy arrestasie. Vir ses dae was hy totaal afgesny van die buitewêreld en sy familie. Dit nadat die polisie hom vir meer as twee-en-‘n-half ure binne sy winkel in boeie aangehou het ná sy arrestasie, omdat hulle vir die SABC gewag het om op te daag. Die SABC is toegelaat om binne die werkswinkel af te neem en eers buite op te stel, voordat Pita deur die polisie vir die skouspel voor die kameras uitmarsjeer is. “Ek moes maar daar staan en wag vir hulle ... Dit was vir my ‘n absolute vernedering!” het Pita gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1447

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT