Dit gebeur ook dat motoriste die petroljoggies blameer dat hulle “te veel” brandstof sou ingooi, wat veroorsaak dat hulle nie genoeg kontant by hulle het nie. Volgens Le Cornu en Gilfillan is dit die motoris se plig om seker te maak dat daar behoorlik gekommunikeer word. Afgeneem is plaaslike pompjoggie mnr. Barry Nebula van Mount Fuji Motors.

Wat gemaak as hulle nie vir vol tenk kan betaal nie?

Date: 09 May 2019 By: Elardus van Zyl

Viewed: 1463

Die stygende brandstofpryse bring meer as een kopseer. Hoe gemaak as jy die pompjoggie vra om “vol te maak” en ewe skielik kom jy agter die bedrag op die pomp verskuldig is aansienlik meer as wat jy in jou beursie het?

Die jongste styging in brandstofpryse was weer ‘n gevoelige slag vir verbruikers. In Limpopo is die prys van petrol (93 oktaan) reeds R16,48 per liter. Dit beteken ‘n middelslag motor met ‘n brandstoftenk van net meer as 60 liter kan jou los met ‘n rekening van meer as R1 000 en dalk ‘n rooi gesig.

Volgens twee plaaslike eienaars van motorhawens gebeur dit nie gereeld dat motoriste met ‘n plat beursie kom verduidelik nie. As dit wel gebeur, word dit taktvol hanteer. In bykans al die gevalle was daar ‘n geldige rede en verduideliking vir die insident.

Die Zoutpansberger het met me. André Gilfillan en mnr. John le Cornu gaan gesels om te hoor hoe hulle dié probleme op hul rybane hanteer. Gilfillan bestuur al vir dekades lank Bridge Auto se rybaan, terwyl Le Cornu die rybaan by Mount Fuji Motors help bestuur.

Albei van hulle sê dat gevalle waar motoriste wegry sonder om vir brandstof te betaal, glad nie algemeen voorkom op Louis Trichardt nie. Dit is te verstane dat daar ‘n groter risiko is vir so iets om te gebeur in die middernagtelike ure, sê Gilfillan. Sy voeg by dat die rybaanbestuurders ook in die nagtelike ure sal probeer seker maak dat meer as een petroljoggie ‘n motoris bedien, ter wille van die veiligheid van die joggies.

‘n Probleem wat sporadies kop uitsteek, is vervalste note wat gebruik word om te betaal vir brandstof. Die pompjoggies word sover moontlik opgelei om vals note te herken. Dit is egter nie altyd so maklik nie en die booswigte probeer hul bes om die pompjoggies met groot fooitjies om te koop om die geld te aanvaar, sê Le Cornu.

Tegnologie veroorsaak egter ook probleme vir pompjoggies en rybaanbestuurders. Die joggies is veronderstel om eers seker te maak of daar voldoende fondse beskikbaar is voor brandstof ingegooi word, maar dit is nie altyd moontlik nie. Dit gebeur ook dat sekere banke se stelsels by tye nie beskikbaar is nie, wat vertragings veroorsaak. Le Cornu en Gilfillan sê dat die motorhawens gewoonlik meer as een bank se stelsel gebruik, wat die risiko verminder dat hul klante se transaksies nie elektronies gedoen kan word nie.

Wanneer dit onmoontlik is om ‘n transaksie te doen, word die klant se besonderhede neergeskryf en later word dan opgevolg om die betaling te kry. Op plekke soos Louis Trichardt ken die pompjoggies dikwels hul klante en gebeur dit bykans nooit dat ‘n motoris net verdwyn sonder betaling nie. Die meeste van die motorhawens spog ook met sekuriteitskameras en ander moniteringstoerusting, wat bydrae tot ‘n veiliger omgewing vir kliënte en personeel.

Dit gebeur soms dat motoriste die petroljoggies blameer dat hulle “te veel” brandstof sou ingooi. Beide Gilfillan en Le Cornu is dit eens dat daar behoorlike kommunikasie tussen die kliënt en die pompjoggie moet wees. “Daar rus ‘n onus op die motoris om toesig te hou oor die proses en te sorg dat alles reg verloop,” sê Gilfillan. Sy beklemtoon dat joggies streng opgelei en voortdurende geëvalueer word. Tegnologie maak dit ook makliker met pompe wat vooraf gestel kan word om presies die regte hoeveelheid brandstof in te gooi.

 
 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 

Elardus van Zyl

Email: 

 
 

More photos...