ADVERTISEMENT:

 

 
 

Al wat oorgebly het van die brons letters en nommers voor Prognos Mediese Sentrum is net 'n gebuigde "R".

Pasop, hulle is agter jou huisnommers aan!

Date: 04 May 2019 By: Elardus van Zyl

Inwoners en besighede in Louis Trichardt het die afgelope paar weke deurgeloop onder booswigte wat die nommers wat aangebring is om hul straatadres aan te dui, gesteel het. Of dit die bedrywighede van ‘n georganiseerde misdaadsindikaat of dalk net opportunistiese diewe is, is egter nie duidelik nie.

Die afgelope week of wat het inwoners in Anderson- en Jeppestraat gekla dat die brons/geelkoper nommers wat op mure en hekke aangebring is, gesteel is. Selfs die Prognos mediese sentrum in Kroghstraat het deurgeloop en al wat van hulle naamplaat oorgebly het, is ‘n gebuigde “R”.

Die motief vir die diefstal is waarskynlik die paar rand wat die booswigte vir die skrootmetaal kan kry. Dit is egter nie ‘n baie “lonende” tipe diefstal nie.

Volgens Riaan Engelbrecht, eienaar van een van die skrootmetaalbesighede in Louis Trichardt, wissel die pryse vir verskillende tipes skrootmetaal. Baie van die huisnommers word gemaak van ‘n tipe brons/geelkoper, wat plaaslik teen rondom R25 per kilogram aangekoop word. Koper is meer gewild en kan rondom R50 per kilogram haal. Die pryse vir skrootmetaal is hoër in die stede en dit kan styg tot R45/kilogram vir brons en R75/kg vir koper.

‘n Tweede skrootmetaalhandelaar op die dorp, wat verkies het om anoniem te bly, het dit bevestig, maar gemeld dat die pryse baie wissel. Baie sal afhang van die hoeveelheid skroot wat aangekoop word en ook wat die groter besighede wat die skroot aankoop bereid is om te betaal op ‘n gegewe tyd. Daar mag dalk ‘n oorskot of ‘n tekort van tipes metaal wees wat die pryse duurder of goedkoper maak.

Albei handelaars is dit egter eens dat die gesteelde nommers waarskynlik nie in die plaaslike mark aangekoop word nie. “Die besighede in die dorp wat skrootmetaal aankoop werk baie nou saam met mekaar en die SAPD om kriminele elemente te probeer uithou,” sê die handelaar. Die SAPD versprei voortdurend inligting oor gesteelde goedere en die handelaars weet waarvoor om uit te kyk.

Die wetsvereistes vir besighede wat handel dryf in skrootmetaal is baie streng. Met elke transaksie moet volledige besonderhede van die verkoper gedokumenteer word. Dit sluit in dat ‘n afskrif van die persoon se identiteitsdokument geskandeer en bewaar word. Dit moet beskikbaar wees indien iemand later sou navraag doen. Besonderhede van die goedere, asook waar dit vandaan kom, moet aangeteken word.

Beide handelaars reken die booswigte sal waarskynlik die gesteelde nommers buite die grense van die streek probeer verkoop, waar hulle moeiliker uitgevang gaan word.

 

 
 
 

Viewed: 1123

 

 
 

Elardus van Zyl

 
 

More photos... 

Hierdie nommer is vanaf 'n hek in Andersonstraat gesteel.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT