ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Boet Grobler van Louis Trichardt by die graf van sy groot-oupagrootjie, Douw Gerbrand Grobler.

Die misterie van die graf van Douw Gerbrand Grobler

Date: 28 April 2019 By: Anton van Zyl

Aan die suidekant van Louis Trichardt, half verskuil in ‘n boord makadamiaboompies, lê een van die streek se oudste boeregrafte. Dit is die graf van Douw Gerbrand Grobler, wat op 28 Januarie 1864 gesterf het.

Die graf is besonders, nie net vanweë die ouderdom nie, maar ook die feit dat dit so naby aan die bestaande dorp is. Grobler is oorlede bietjie meer as drie jaar voor die destydse Schoemansdal ontruim is, en 35 jaar voor die dorp Louis Trichardt geproklameer is.

In teenstelling met ander bewoners van Schoemansdal is hy nie in die kerkhof begrawe nie. Dit is vreemd, aangesien hy baie betrokke was by die vroeëre gemeente. Boonop is hy begrawe op die plaas Rondebosch, wat nie aan die familie behoort het nie.

Wie was DG Grobler?

Die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter, wat beskou word as die dryfveer agter die stigting van “Zoutpansbergdorp”,  kon nie die aanvanklike trek na die noorde meemaak nie. Die eerste 48 families het onder aanvoering van veldkornet Jan Valentyn Botha getrek. Op 3 Mei 1848 het die ossewaens met hul wit tente gearriveer by die plek wat eers as Oude Dorp bekendgestaan het. Die Grobler-familie het deel gevorm van hierdie groep pioniers.

Douw Gerbrand Grobler is op 30 Januarie 1811 in Graaff-Reinet gebore. Hy was die seun van Nicolaas Johannes Grobler. Sy moeder was ‘n nooi Steyn, Johanna Hendrina Grobler.

Op 6 April 1829 trou hy in die Kaap met Neeltjie Christina Eloff. Hul eerste kind, Sarel Eloff, is in 1832 gebore, maar dit is nie seker waar nie. Twee jaar later is Hermanus Jacobus gebore in Rustenburg en in 1839 is Douw Gerbrand (jr.) in Cradock gebore (vermoedelik waar Grobler se vader in daardie stadium gewoon het). Die twee dogters, Neeltjie Christina (1850) en Anna Suzanna (1855) is op Zoutpansbergdorp (later Schoemansdal) gebore.

Buiten vir Sarel, het al die kinders hul in die Soutpansberg gevestig en is latere jare hier oorlede. Of Sarel dalk op ‘n jong ouderdom gesterf het, is nie duidelik nie. Neeltjie, die een dogter, het met Petrus Paulus Hugo getrou en Anna het met Wessel Nicolaas Raaths getrou.

Met hul aankoms in die Soutpansberg het D.G. Grobler dadelik ‘n aktiewe rol in die kerk begin vervul. Hy was ook baie betrokke met die oprigting van die eerste kerkgebou.

In 1855 het Pater Joaquim de Santa Rita Montanha, ‘n Rooms Katolieke priester van Inhambane, ‘n Portugese handelsending na die Soutpansberg gelei. Een van die persone met wie hy in kontak gekom het, was die hoofouderling van die Hervormde-gemeente, D.G. Grobler. In sy joernaal skryf Montanha dat die inwoners van die dorp baie nougeset die Sabbat respekteer het. In daardie stadium was daar nie ‘n vaste predikant op die dorp nie. “Manne soos A.H. Potgieter, D.G. Grobler, A.C. Duvenage en J.H. Nel (het) gereeld as voorgangers by godsdienstige byeenkomste opgetree,” het hy aangeteken.

Grobler moes een van die leiersfigure gewees het wat ‘n voltydse leraar na die Soutpansberg probeer lok het. In 1852 besoek dominee Johannes Henoch Neethling van die Kaapse Kerk die dorp met die doel om ‘n eie gemeente te stig. Die gemeente op Zoutpansbergdorp het toe nog deel gevorm van die Magaliesberg (Rustenburg) gemeente.

Die droom van ‘n eie dominee het begin realiseer kort na 1862. Ds. G.W. Smits van Rustenburg het ‘n Hollandse dominee, N.J. van Warmelo, raakgeloop wat in Suid-Afrika was en hom omgepraat om die bediening in die Soutpansberg te behartig. Hy het ingestem, maar moes eers terugkeer na Rotterdam om met Josina van Vollenhoven te trou. Die egpaar het ‘n paar maande later teruggekeer en op 30 Julie 1864 is hy as die eerste vaste leraar van Schoemansdal bevestig. (Zoutpansbergdorp is in 1855 deur Stephanus Schoeman na homself vernoem).

Dit het egter beteken dat Douw Gerbrand Grobler nie sy droom van ‘n eie predikant vir die gemeente bewaarheid gesien word het nie. Hy is ses maande voor die geleentheid oorlede. Sy vrou, Neeltjie, het steeds voortgegaan om te help in die gemeente en sy was een van die persone wat ds. Van Warmelo se vrou, Josina, versorg het toe sy siek geword het. Die jong en pragtige leraarsvroutjie is egter op 28 Januarie 1865 oorlede en begrawe in die kerkhof by Schoemansdal.

Waarom is hy hier begrawe?

Die ligging van D.G. Grobler se grafsteen is uiters vreemd. In 1864, toe hy oorlede is, was die meeste van die bedrywighede by Schoemansdal gesetel. Dit was hoofsaaklik ‘n handelspos en die inwoners het primêr hul inkomste uit die jagbedryf verdien.

Die groep trekkers onder leiding van Jan Valentyn Botha het hulle gevestig in ‘n area wat hulle as redelik onbewoon beskou het. Dit was egter net enkele kilometers suid van die hoofvesting van Kaptein Madzhie, ‘n broer van die Vhavenda leier, Ramabulana. Die Vhavenda stamme het aanspraak gemaak op dié grond, maar dieper in die berg gewoon waar hulle beskut was teen aanvalle.

Die nedersetters het skynbaar dadelik plase geproklameer, maar die ligging van die plase het nie alle partye se goedkeuring weggedra nie. Die geskiedskrywer, J.C.A. Boeyens, skryf onder meer:

“Verskeie Blanke plase in die Kleine Spelonken, suidoos en oos van Schoemansdal, het vroeër deel van die Venda se grondgebied uitgemaak. Die plase Bergvliet No. 288 en Rietvly No. 276 (tans deel van die dorp Louis Trichardt) was reg onderkant Ramabulana se hoofvesting te Tshirululuni in die Zoutpansberge geleë.”

Die konflik tussen die Vhavenda-stamme en die nuwe intrekkers in die streek het in felheid toegeneem. Die Zoutpansbergers se aandrang dat die Venda-stamme arbeid moet verrig of “opgaaf” moet betaal, is met vyandiggesindheid begroet. Ramabulana se dood en die gepaardgaande magstryd tussen die potensiële troonopvolgers, Davhana en Makhado, het sake vererger. Die persepsie was dat die Schoemansdallers Davhana gesteun het.

Die kapteins, onder leierskap van die “Leeu van die Noorde”, oftewel Makhado, het gereelde aanvalle geloods en die Schoemansdallers moes ‘n skansmuur bou met wagposte om hulself te beskerm. Teen 1867 is die besluit geneem om die dorp te ontruim en die oorblywende families het getrek na plekke soos Marabastad (die latere Pietersburg/Polokwane). Binne ure na hulle vertrek is die hele dorp tot op die grond platgeslaan en afgebrand.

 In D.F. das Neves se boek, A Hunting Expedition to the Transvaal, skryf hy dat daar teen 1861 sowat 70 huise op Schoemansdal was. Die blanke inwonertal in die streek was rondom 1 800.

Nie al dié inwoners het uit die gebied getrek na die ontruiming van Schoemansdal nie. Een van die vroeëre pioniers wat gebly het, was die Portugese handelaar, João Albasini. Hy het hom in 1853 as winkelier op Zoutpansbergdorp gevestig en die plaas Goedewensch naby Piesangkop aangeskaf. Hy het in 1857 plaas toe getrek waar hy vir hom ‘n skansagtige huis laat bou het.

Na die ontruiming van Schoemansdal het verskeie boere ook in die omgewing aangebly. Van hulle het skuiling nader aan Albasini gaan soek, wat met ‘n sterk Tsongamag gewapen was. Dit was ook nie al die blankes wat in stryd met die Venda-stamme was nie. Dit is opgeteken dat Makhado ‘n hegte vriendskap vir baie jare gehad het met die beroemde Zoutpansbergse olifantjagter, William Fitzgerald.

Wie het die plaas besit?

Die plaas waarop D.G. Grobler se grafsteen is, Rondebosch, is minder as 20 kilometer van die destydse Schoemansdal. Aan wie dit behoort het ten tye van sy dood is onseker.

Uit ou kaarte blyk dit dat die graf op ‘n gedeelte 11 of 12 van Rondebosch No. 287 is, wat in 1897 deur die landmeter, A.L. Devenish, uitgemeet is. Die beskrywing wat hy aangee sê dit “Bevattende 2765 morgen (en) 140 vierkante Roeden.”

‘n Vroeëre kaart dui aan dat ‘n akte (No. 5723) op 18 Augustus 1878 op die plaas geregistreer is ten gunste van G.P.D.J. Nel.

‘n Paragraaf in Boeyens se navorsingstuk Die konflik tussen die Venda en die Blankes in Transvaal, 1864-1869 mag dalk lig werp op die raaisel. Met die haastige ontruiming van Schoemansdal moes die groep onder leiding van ds. Van Warmelo besluit waarheen om te skuif. Een van die opsies wat tydens ‘n buitengewone kerkraadsvergadering op 29 Julie 1867 bespreek is, was ‘n plaas of plase van gemeentelede.

“Nog ‘n alternatiewe terrein vir ‘n nuwe dorp is deur João Albasini en sy ondersteuners aan die hand gedoen. Hulle keuse was Rietvly No. 276, die plaas van Jacobus Potgieter en die weduwee van Douw Gerbrand Grobler, in die Kleine Spelonken ... Van hierdie voorstel het egter niks tereggekom nie, waarskynlik omdat Rietvly reg onder Makhado se hoofvesting, Luatame, in die Zoutpansberge geleë was,” skryf Boeyens.

Die plek waar die grafsteen is, is op die hoek waar die plase Ledig, Rondebosch, Bergvliet en Rietvly bymekaar kom. Dit is baie moontlik dat die plaasgrense later jare, met die presiese opmeting van die plase, effens verskuif het, wat beteken dat die graf nou in Rondebosch lê en nie meer op Rietvly nie.

Een van D.G. Grobler se nasate, oom Boet Grobler, onthou dat daar aan hom vertel is dat sy groot-oupagrootjie in die hoek van die familieplaas begrawe is.

Oom Boet (wat ook Douw Gerbrand Grobler gedoop is), se pa was Petrus Johannes Grobler (1916-1997). Sy oupa was D.G. Grobler (1864-1943) en sy oupagrootjie was H.J. Grobler (1843-1937). H.J. Grobler, seun van die pionier D.G. Grobler, het as seun grootgeword op Schoemansdal en sy ervaringe het later as bron gedien vir ‘n bundel wat die geskiedskrywer, Gustav Preller, in 1923 gepubliseer het.

Schalk Corbett, van Geoland Surveys op Louis Trichardt, kon ook bietjie meer lig op die saak werp. “Rietvly 276, die oorspronklike plaas, is in 1897 opgemeet. Gedeelte 1 van Rietvly (alles behalwe die dorp) was in 1916 opgemeet. Onder die plaasnaam is ‘n nota wat aandui dit is vir Grondbrief 6380 gedateer 23 Nov. 1870 ten gunste van D.G. Grobler gedoen. Die dorp was gedeeltelik op Rietvly en Bergvliet uitgelê in 1899,” sê Schalk.

Die plaas is dus in 1870 amptelik aan D.G. Grobler toegeken. Dit moes die jongste seun, ook D.G. Grobler, gewees het, synde dat sy pa reeds in 1864 oorlede is. Die familie het dus reeds in die vroeë 1860’s daar gewoon en met Douw Gerbrand Grobler se afsterwe is hy op die hoek van die plaas begrawe.

Oom Boet, wat steeds op Louis Trichardt woon, het baie waardering vir Pieter Schlesinger en sy span van Sandberg Vervoer vir die wyse waarop hulle die graf deur die jare behoue laat bly het. Hulle het die graf met ‘n palissade-heining en hekkie toegemaak, sodat dit nie verniel kan word nie.

Oom Boet het ook inwoners genooi wat weet waar nog grafte is van mense met die van Grobler, om hom te kontak. Sy nommer is 078 759 0707.

Bronne:

* Boeyens, J.C.A. Die konflik tussen die Venda en die Blankes in Transvaal, 1864-1869.

* De Waal, J.J. Schoemansdal: ‘n Voortrekkerdorp 1848-1868.

* Ferreira, O.J.O. Montanha in Zoutpansberg
 

 

 
 
 

Viewed: 3041

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die inskripsie op die grafsteen is moeilik leesbaar, maar dui aan dat Douw Gerbrand Grobler op 30 Januarie 1811 gebore is en gesterf het op 28 Januarie 1864.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT