ADVERTISEMENT:

 

 
 

Kraandroogte duur voort danksy sukkelende Vhembe

Date: 26 April 2019 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se droë krane is lank nie meer nuus nie. Inteendeel, dit is eerder nuus wanneer die disfunksionele Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) dit wel regkry om water vanaf die Albasinidam na die dorp en omstreke te pomp.

Talle mag dié opmerking as onbillik bestempel, want die dorp het darem so nou en dan water. Diegene wat die afgelope naweek weer sonder water gesit het, sal egter hewig en selfs aggressief hiermee verskil.

Miskien is dit omdat die verkiesing om die draai is dat talle van die streek se inwoners voel nou is die tyd om hulle stemme dik te maak oor die voortslepende waterkrisis in die Vhembe Distriksmunisipaliteit. Die afgelope paar weke het die Zoutpansberger se susterkoerant, die Limpopo Mirror, verskeie artikels gedra van gewelddadige protesoptrede deur inwoners van verskeie omliggende woonbuurtes wat ongelukkig is dat hulle nie water kry nie.

Op plaaslike vlak dien die “Louis Trichardt Water Shedding” Facebook-blad as goeie barometer van juis hoe moeg (alhoewel gatvol seker ‘n beter woord sou wees) inwoners regtig is vir die droë krane.

Aan die begin van die maand was Louis Trichardt en omstreke vir bykans ‘n week lank sonder water gewees, nadat die hoof waterpomp by die Albasinidam finaal die gees gegee het. Vhembe het desperaat probeer om die pomp te herstel, maar moes op die ou end maar ‘n nuwe pomp gaan koop. Selfs met die nuwe pomp in plek was dit nie die einde van die droë krane nie, want toe die pomp aangeskakel is, het dit ‘n massiewe bars in die pyplyn na Louis Trichardt veroorsaak. Eers nadat die lek reggemaak is, kon water weer gepomp word.

Sedertdien is dit maar weer ‘n kwessie van die water wat aan en af is in Louis Trichardt. Die naweek was dit meer af as aan. Wat die rede dié keer vir die onderbreking is, weet niemand nie. Volgens DA-raadslid Brian du Plooy weier Vhembe om sy oproepe te vat. “Dit was grotendeels hoogliggende areas [waar die water af was] gewees, maar ek sien die sentrale sakegebied is ook af van gistermiddag af. Hulle kom nie terug na my toe nie. Ek het vir hulle gesê daar is fout, nou wil hulle by my weet waar is die fout - so asof ek hulle werk moet doen! Ek weet nie waar die fout is nie,” het Du Plooy Woensdagoggend gesê.

Die Zoutpansberger het ook herhaaldelik die VDM gevra vir kommentaar rakende die jongste watertekort. Die navraag is begroet met ‘n enkele sin van munisipale woordvoerder mnr. Moses Shivambu. “Ek sal uitvind by tegniese dienste,” het hy Woensdagoggend gesê.

Dit is duidelik dat frustrasievlakke in Louis Trichardt breekpunt bereik het, tot so ‘n mate dat ‘n gemeenskapsvergadering eerskomende Sondag, 28 April, vanaf 16:00 op die Louis Trichardt Rugbyklub se pawiljoene gehou sal word om te praat oor die gebrek aan dienslewering. “Dit is nie ‘n politieke vergadering nie,” het Du Plooy gesê. Hy het dit duidelik gestel dat die vergadering vir almal bedoel is. “Verskeie partye is betrokke, insluitend die Down Town Citizens, inwoners van Makhado Park en inwoners van Eltivillas. Alle rolspelers moet daar wees, want dit gaan oor swak diens,” het Du Plooy gesê.

Nie almal is egter so optimisties dat nog ‘n vergadering dinge gaan verander nie. “Almal gons oor die vergadering [en] intussen sit ons sonder water. Wat gaan dit help om heeldag daaroor te praat, maar niks word gedoen aan die probleem nie? Praat gaan niks help nie. [Ek] is nou al meer as sewe weke sonder water,” skryf Pieter WS van Wyk op die “Water Shedding” Facebook-blad. “Die groot vraag is wie gaan vir ons kan antwoorde gee oor wanneer die dorp water kry,” het Van Wyk gesê.

Intussen skryf Lettie Slater op dieselfde Facebook-blad dat hulle nou dreigemente vanaf die VDM kry. “Kry ons nou van Vhembe 'n dreig SMS dat ons hulle moet bel om verdere stappe te voorkom. My genade ... Ons skuld hulle blou all ... Hulle kort geld, nou word ons as inwoners gedreig? Omdat daar nie water is nie? En ons ons eie water gebruik?” het Slater geskryf.

 

 
 
 

Viewed: 458

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT